Gesogte internasionale toekenning vir jong navorser

698

Dr WA Lombard, ’n navorser en dosent van die Departement van Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het in Desember verlede jaar die gesogte Joseph F Donnermeyer New Scholar-toekenning ontvang.

Hy het dié toekenning, wat jaarliks deur die Australiese International Society for the Study of Rural Crime (ISSRC) aan jong navorsers toegeken word, vir ’n artikel oor die ekonomiese impak van veediefstal in KwaZulu-Natal en die faktore wat hierdie tipe misdaad beïnvloed, ontvang.

Die artikel, wat in samewerking met dr Yonas Bahta van UV geskryf is, het in 2019 in Acta Criminologica: African Journal of Criminology and Victimology verskyn.     

Suid-Afrikaners kán op internasionale vlak meeding

Jong navorsers van regoor die wêreld wat aan die nodige vereistes voldoen, mag vir die Joseph F Donnermeyer New Scholar-toekenning inskryf. Dr Lombard is deur Willie Clack, ’n dosent aan Unisa en voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, aangemoedig om deel te neem.    

Luister na ‘n onderhoud oor dr Lombard se toekenning op RSG Landbou:

“As navorsers is ons nie altyd seker of daar ’n gehoor is vir die werk wat ons doen nie. Daarmee saam word navorsing oor landelike misdaad dikwels afgeskeep. Hierdie erkenning is dus nie net in my persoonlike hoedanigheid baie spesiaal en ’n groot eer nie, maar dit bewys ook dat Suid-Afrikaanse navorsers op internasionale vlak kan meeding,” sê dr Lombard.

“Ek hoop dat dit my medenavorsers sal aanmoedig om aan te hou met die belangrike werk wat hulle doen.” – Ursula Human, AgriOrbit

Lees dr Lombard se onlangse artikel oor landelike misdaadtendense in Suid-Afrika op AgriOrbit.