Estimated reading time: 6 minutes

Die ontwikkeling van ’n inentingsprogram vir kalwers tot en met speenouderdom, asook vir vervangingsverse, is ’n onontbeerlike element van doeltreffende kuddegesondheidsbestuur. Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk,sê wanneer jong diere ingeënt is en hulle reeds blootgestel was, is dié diere nie meer entstof-naïef nie. Dit laat dus die moontlikheid oop om tydens ’n uitbreking, en terwyl die uitbreking op ’n ‘warmpunt’ is, inenting toe te pas, maar indien ’n dier nog nie van tevore ingeënt is nie, kan dié plan nie uitgevoer word nie.

Waarom vooraf-inenting?

Inenting is ’n proses waardeur gekweekte organismes, wat dood of verswak is, in ’n gesonde dier gespuit word, sodat die immuunstelsel aan die spesifieke organismes blootgestel kan word en ’n immuunreaksie ontwikkel.

Die entstofreaksie verleen dan vir ’n tydperk aktiewe beskerming met hoë vlakke van sirkulerende teenliggame in die bloed. Die vlak van beskerming sal mettertyd daal, maar daar sal in die meeste gevalle steeds geheueselle wees wat baie vinnig weer heraktiveer kan word, as die dier later weer aan dieselfde tipe siekteveroorsakende organismes blootgestel word.

Met betrekking tot die belangrikheid van inentings en die gebruik van antibiotika, sê dr Odendaal verskeie faktore moet in gedagte gehou word. Skielike vrektes kan byvoorbeeld weens sekere toestande voorkom. Die siekte-ontwikkelingsproses is dan só vinnig, dat daar nie tyd is om die diere met antibiotika te behandel nie. Dit sluit al die klostridiale en spesifiek sponssiektes by beeste in.

Waar ’n virus die oorsaak van siekte is, sal antibiotika as behandeling ook nie doeltreffend wees nie, want antibiotika kan nie virusse doodmaak nie. In sulke gevalle is vooraf-inenting van diere die enigste manier om dié siektes die hoof te bied. Knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte en Slenkdalkoors is voorbeelde van virussiektes wat slegs deur vooraf-inenting voorkom kan word.

Hy sê daar is ook siektes wat ’n spesifieke uitwerking op dragtige koeie kan hê en wat in die meeste gevalle nie behandelbaar is nie. Sulke siektes, soos beesvirusdiarree (BVD) en vibriose, kan doeltreffend deur inenting voorkom word.

Sekere organismes het die vermoë om diere te besmet en dan stadig te verdeel, sonder dat die immuunstelsel gestimuleer word. Die immuunstelsel skop dikwels eers in teen die tyd dat siektetekens waargeneem word. Dit is egter dan te laat vir die dier om self voldoende weerstand te bied. Met vroeë waarneming kan hierdie siektes wel suksesvol behandel word. Siektes van dié aard sluit hartwater, anaplasmose (bosluisgalsiekte) en rooiwater in.

Beginsels vir eerste-inenting

Volgens dr Odendaal is elke immuunreaksie baie spesifiek. Vir ’n dier om dus weerstand teen spesifieke siekteveroorsakende organismes op te bou, moet dit aan elkeen van die organismes blootgestel word om verworwe immuniteit en weerstand te ontwikkel.

Twee basiese beginsels is by eerste inentings vir kalwers én verse van belang. Eerstens moet in ag geneem word dat nadat die eerste inenting toegedien is, dit minstens twee weke neem vóór beskermende immuniteit opgebou is (Figuur 1), maar wanneer ’n inenting weer toegedien word (skraagdosis), neem dit slegs ’n paar dae om immuniteit te ontwikkel (Figuur 2).

’n Skraagdosis is ook soortgelyk aan wanneer die dier natuurlik besmet raak. Die dier sal dan binne enkele dae ’n beskermende immuunreaksie heraktiveer. Dit geld egter slegs wanneer diere vooraf deur inenting blootgestel is.

Nadat ’n immuunreaksie plaasgevind het en die organismes vernietig of onder beheer gebring is, sal die reaksie weer afskakel. ’n Aantal geheueselle sal egter nog oorbly, wat die spesifieke ‘kode’ van die siekte-organisme dra en wat dus baie vinnig heraktiveer sal word indien die dier later weer aan die organisme blootgestel sou word (Figuur 2).

Die ontwikkeling van immuniteit ná inenting. (Bron: Dr Danie Odendaal)
Die ontwikkeling van immuniteit ná inenting. (Bron: Dr Danie Odendaal)

Bestuursplan vir vervangingsverse

Dr Odendaal sê kuddegesondheid word op die lange duur rondom die intensiewe inentingsplan vir vervangingsverse gebou. Inenting vóór verse die eerste keer gedek word, is ’n langtermynbelegging in dié diere se weerstand.

Omdat vervangingsverse vir agt tot tien jaar in die kudde bly, is dit nodig om ’n volledige inentingsplan te ontwikkel wat oor drie jaar strek, om al die toepaslike bestuursaksies en inentings te huisves. Individuele versgroepe word volgens die plan vir vervangingsverse bestuur, en begin wanneer verse gespeen word en duur totdat hulle die tweede keer as dragtig bevestig is, waarna hulle gereed is om by die res van die kudde aan te sluit.

Daar is dus genoeg tyd ná speen en vóór die begin van die eerste teelseisoen op tweejarige ouderdom (16 maande), om al die inentings en skraagdosisse in te pas en só langtermynbeskerming te verseker. Vervangingsverse behoort reeds hul eerste reeks inentings te ontvang vóór speen, maar indien nie, moet hulle teen al die soorte sponssiektes, lamsiekte en, indien nodig, rooiwater en bosluisgalsiekte, ingeënt word.

Tabel 1 bied ’n voorbeeld van ’n gestruktureerde bestuursplan vir vervangingsverse, wat die meeste inentings bevat. Nie ál die inentings is altyd op alle plase nodig nie. Die opstel van ’n inentingsplan vir jou plaas behoort dus in samewerking met jou kuddeveearts gedoen te word, op grond van die siektes wat op jou spesifieke plaas van belang is.

Tabel 1: Voorbeeld van ’n bestuursplan vir vervangingsverse. (Bron: Dr Danie Odendaal)

Die volgende entstowwe kan oorweeg word: breëspektrum-klostridiumentstof, RB51 (vir brusellose; opvolgprogram op besmette plase kan ook vir volwasse koeie gegee word), asook entstowwe vir knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte, Slenkdalkoors, lamsiekte, miltsiekte, pasteurella, vibriose, Afrika- en Asiatiese rooiwater en anaplasmose (bosluisoorgedraagde galsiekte).

Omdat die ontwikkelings- en groeifase van vervangingsverse ná speen oor ’n tydperk van langer as ’n jaar strek, sê hy, kan die entstowwe ook herhaal word, wat in sekere gevalle langtermynbeskerming sal verleen.

Ter voorbereiding vir die eerste dekseisoen, kan daar ook een maand vóór die seisoen teen siektes wat swak besetting of dragtigheidsverliese veroorsaak, ingeënt word. Dié siektes sluit in vibriose, BVD, besmetlike beesrinotrageïtus (IBR) en selfs leptospirose waar dit ’n probleem is. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Danie Odendaal by veeartsnetwerk@gmail.com.

wegholveldbrande