Estimated reading time: 4 minutes

Produsente in Limpopo verwag dat die risiko van wegholveldbrande dié winter groter gaan wees as normaalweg. Die goeie reën wat deur die somer oor groot gebiede geval het, het gras en plante welig laat groei, wat nou tonne droëmateriaal op die grondoppervlakte gelaat het.

Die meeste produsente is op ’n gereedheidsgrondslag en organisasies wat raad, hulp, opleiding en dienste verskaf om veldbrande te probeer voorkom en beheer, sê hulle staan ook gereed vir gebeurlikhede.

Daar bestaan egter ook kommer dat met die Covid-19-pandemie, broodnodige opleiding nie gegee kon word nie en produsente finansieel so geknou is, dat hulle nie brandtoerusting kon vervang of aanskaf om hulle slaggereed vir die brandseisoen te maak nie.

Cobus Coetzee, voorsitter van Agri-Limpopo Bosveld, sê veldbrande in sy omgewing word agt uit tien keer in die herfs deur weerlig veroorsaak. Die res van die brande kan aan die nalatige hantering van vuur en toerusting wat brande kan veroorsaak, toegeskryf word.

Agri-Limpopo Bosveld is in sektore verdeel met veiligheidstrukture wat in elke sektor vinnig en doeltreffend optree wanneer produsente se veiligheid bedreig word of veldbrande uitbreek. Indien die situasie nie deur die produsente in die sektor hanteer kan word nie, roep hulle die hulp van aangrensende sektore in, sê Cobus.

Organisatoriese bystand vir veldbrande

Verskeie organisasies in die gebied is ook betrokke by brandbestryding, die opleiding van plaaswerkers in brandbestryding, en hulp aan produsente om bestrydingstrategieë in te stel en te verseker dat hulle nie veldbrande veroorsaak waarvoor hulle vir die skade moet pa staan nie.

Working on Fire (WOF) is ’n organisasie wat die afgelope sowat 17 jaar onontbeerlike werk doen om brande landwyd te bestry, brandbestryders op te lei, werk te skep vir werklose jeugdiges en produsente te help met die bestuur van brandrisiko’s.

WOF het ’n lugvleuel van vastevlerkvliegtuie en helikopters wat grondspanne kan bystaan om brande te help blus. Jaarliks vlieg hulle sowat 4 000 uur om gemiddeld 300 brande te help bestry. Meer as 5 000 brandbestryders wat in sowat 200 basisse oor die land versprei is, is in die organisasie se diens.

Die beginsel van geïntegreerde brandbestuur word toegepas om die voorkoms en omvang van brande te verminder. In Limpopo is WOF (Modimolle) nou betrokke by die twee opleidingsdae wat Wildbedryf Suid-Afrika jaarliks vir wildplaaswerkers aanbied. Brandbestryding is een van die sertifikate wat plaaswerkers kan verwerf.

Invloed van Covid-19

Die besturende direkteur van WOF, Trevor Abrahams, sê die droë wintermaande in Limpopo verhoog die risiko van veldbrande. Die Covid-19-pandemie het ’n vernietigende uitwerking op die land se mense en die ekonomie gehad. Gelukkig het WOF net voor die inperkingstydperk ’n strategiese plan ingestel wat die invloed daarvan op die organisasie beperk het en dit in staat gestel het om paraat te bly en bystand te verleen aan mense wat siek geraak het. Hy glo nie die pandemie het ’n noemenswaardige invloed gehad op die paraatheid van die organisasie nie.

Stephen Devine van Firescape, ’n raadgewende maatskappy vir brande in die natuur, sê hy is egter bekommerd dat die vermoë van brandbestryding deur die pandemie benadeel is, omdat ’n jaar lank nie opleiding gegee kon word nie en produsente, weens hul dikwels benarde finansiële posisie, nie brandbestrydingstoerusting kon vervang of aanskaf nie.

Hy verwag dat die groot volumes brandbare materiaal die omvang van veldbrande kan laat toeneem en bestryding kan bemoeilik. Sy onderneming bied raad oor hoe om aan te pas by die veranderende uitdagings wat deur klimaatsverandering, bevolkingsgroei en die afname in kundigheid om brande te bestry, ontstaan het.

Voorbereiding vir die seisoen

Nicoléne Neveling, besturende direkteur van Nevaqu Fire and Rescue, sê opleiding en waaksaamheid word vereis om produsente se eiendom teen veldbrande te beskerm. Produsente kan nie wag tot die brand die plaas bereik en dan begin planne maak nie.

Almal by Nevaqu bly met gereelde oefenlopies paraat en toerusting word in stand gehou asof daar elke dag ’n brand gaan uitbreek. Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) skryf ook minimumvereistes voor waaraan in hoërisikogebiede voldoen moet word.

Die Wet skryf nie net die toerusting voor wat nodig is nie, maar vereis ook dat brandbane altyd skoon gehou moet word en wyd genoeg moet wees sodat vlamme nie daaroor kan spring nie. Sy maan produsente dat brandbane eerder te wyd as te smal moet wees.

Voorbrande – ’n nuwe brand wat gestig word om in die rigting van aankomende vlamme te brand – werk uitstekend om brande te stuit. Produsente moet egter waak dat die voorbrand nie uiteindelik self in ’n weghol-veldbrand ontaard nie. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak
Cobus Coetzee by 082 800 6287 of cobuscoetzee@xpress.co.za,
WOF by 087 352 4880 of comms@wofire.co.za,
Stephen Devine by 067 684 7351 of stephen@firescape.co.za, of
Nicoléne Neveling by 072 840 0205 of nicolene@nevaqu.co.za.

speenkalwers, kriptosporidiose