Die minister van omgewingsake, bosbou en visserye het op 28 Julie nuwe gewysigde inperkingsregulasies aangekondig, wat ‘n geweldige impak op jagbedrywighede het. Volgens Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van SA Jagters, is daar ‘n beperking geplaas op reis tussen provinsiale grense. “Niemand buite die grense van die provinsie waar hy/sy woon mag reis om te jag nie,” sê Camphor, “en geen akkommodasie mag vir enige vorm van jag verskaf word nie.”

Camphor het met Plaas Media gesels oor die aankondinging. Luister hier na die potgooi:

            

“Verder geld die aandklokreël steeds,” verduidelik hy. “Die effek hiervan is dat daar slegs binne die grense van die provinsie waar die individu woon gejag mag word en slegs binne een dag. Verder mag daar ook net gejag word as die doel die bekom van vleis vir eie gebruik is. In praktyk kom dit eintlik maar daarop neer dat daar nie gejag mag word nie.”

Jagtendense

Volgens Camphor interpreteer SA Jagters die regulasies só, omdat ongeveer 65% van jagters in Gauteng woon. “Normaalweg sal hulle dan in Limpopo, Noordwes, Noord-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga jag,” sê Fred. “In die meeste gevalle sou die jagters dus oor provinsiale grense reis om te gaan jag en dit mag nou nie gedoen word nie.

“Boonop sou jagters ook ‘n paar dae gebruik vir ‘n jagtog. Hierdie tyd sluit reistyd, jag, die slag en verkoel van ‘n karkas, soms die verwerking van die vleis en dan die terugreis in. Meeste van hierdie jaggeleenthede is ook tipies loop-en-bekruip-jag (walk and stalk) wat doodgewoon baie meer tyd in beslag neem.

Normaalweg is daar twee dele aan ‘n jaggeleentheid. Die eerste is doodgewoon om vleis te gaan haal. Die tweede deel van so ‘n jaggeleentheid sou normaalweg ‘n sosiale deel wees waar die gesin of kinders saamgaan en dit is in elk geval reg van die begin van die inperking af nie toegelaat nie, so dit speel eintlik nie juis nou ‘n rol nie.”

Ekonomiese impak

“Die somtotaal bydrae van verbruiksjag tot die ekonomie beloop so in die omgesing van R12 miljard per jaar. As gevolg van die inperking het ons reeds die eerste maand van die jagseison verloor, omdat alle beweging aanvanklik uitgesluit was. Nou verloor ons die laaste maand ook. Ek dink ons kan breedweg reken dat die waarde potensieel vanjaar in die omgewing van R8 miljard sou wees.” sê Fred. 

“Die meeste van hierdie geld sal normaalweg na die platteland gaan in die provinsies waar daar nie juis groot ander ekonomiese aktiwiteit is nie. Die geld gaan na plase toe wat verder weg van die hoofsentra en hoofweë is. Dit skep weer ander ekonomiese aktiwiteit in die naasliggende dorpe en dorpies in die platteland. Hierdie besluite raak dus veel groter dele van die platteland.”

“Byna 85 000 mense word tydelik in diens geneem tydens die jagseisoen waarvan sommige byvoorbeeld as skoonmakers en slagters werk. Elk van hierdie mense wat werk en iets verdien, hou gemiddeld ‘n uitgebreide gesin van ses mense aan die lewe. Hierdie mense gaan nou die bietjie werk wat hulle gehad het, verloor. Bo en behalwe die salaris wat hulle sou verdien, het hulle ook vleis gekry. Bykans ‘n halfmiljoen mense gaan sonder kos wees.”

Effek op wildboerdery

“Dit gaan ook ‘n massiewe impak hê op wildboere of boere wat ook wild aanhou. In hierdie geval kom die meeste van hulle uit ‘n droogtesiklus van minstens vyf jaar en hierdie was die eerste keer in vyf jaar wat hulle dalk ‘n bietjie inkomste kon genereer. Nou is die kans ook daarmee heen. Daar is selfs van die groter wildboere wat in die moeilikheid is.”

Camphor noem ‘n voorbeeld van wildboere wat 60 permanente werkers in diens gehad het en reeds die helfte van hulle moes afbetaal. Teen einde September sal hy die res van sy personeel moet afbetaal en sy besigheid toemaak.

Camphor meen die uiteinde hiervan sal wees dat ‘n baie groot deel van die land waar bewaringsgedrewe wildboerdery beoefen word, verlore sal gaan en ander grondgebruike gevestig sal word. Hy sê dat daar reeds dele in Limpopo is waar wildboere alle wild verkoop het en neute begin vestig het. “Vir elke hektaar grond wat die staat gebruik om bewaring te doen, is daar twee hektaar in privaatbesit en dit word nou op risiko geplaas.”

Volgens hom was daar geen gesprek gevoer met enige rolspelers in die bedryf in die aanloop tot die publikasie van die regulasies nie. “Daar is ook geen redes gegee vir die wysigings nie. Op indirekte wyse word die argument aangevoer dat die beweging oor provinsiale grense beperk word om die verspreiding van COVID-19 te beperk. Dit maak egter geen sin nie.

“Wat is die logika daarin om jagters te stop om oor provinsiale grense te beweeg, maar taxi’s loop elke dag heen en weer oor die grense sonder enige probleme? Dit maak bloot geen sin nie.” – Ursula Human, Plaas Media