genetika
Frans Seevinck is baie streng met die seleksie van sy bulle en daarom is meting en keuring twee belangrike aspekte van sy bestuurstyl.

Boerdery is ’n besigheid en ’n produsent wat die beginsels van besigheid verstaan en gretig is om kennis in te win, is goed toegerus om sy boerdery suksesvol te bestuur en slaggate te vermy. Frans Seevinck, eienaar van die Buckridge Bonsmarastoet in die Tlhakgameng-omgewing, noord van Vryburg, is so ’n produsent.

Sy pa het vir baie jare die winkel op Tlhakgameng gehad. Dis waar Frans tussen die rakke grootgeword en geleer het om sake te doen – om altyd die uitgawes teenoor die inkomste op te weeg, ver vooruit te dink en te beplan met ’n einddoel in gedagte.

Hy vertel dat hy vakansies op die plaas saam met ’n familievriend gaan boer het en so ’n belangstelling in boerdery ontwikkel het. Sy pa het in 1997 ’n plaas gekoop en ná skool het Frans landboubestuur gaan studeer voordat hy in 2003 plaas toe gekom het.

Hy het van die begin af in die genetika van beeste belang gestel. Hy vertel dat Heinrich Bruwer, ’n bekende Brahmanboer van Coetzersdam in die Vryburg-omgewing en ‘n kenner op die gebied van teling, hom dikwels kom help het om bulle te selekteer en te besluit watter koeie by watter bulle moet kom.

“Toe ek die resultate begin sien, het genetika my nog meer geprikkel. Ek het moeite gedoen om soveel as moontlik inligting te kry, boeredae by te woon en beesbeoordelingskursusse te doen,” gesels hy.

Struikelblok lei tot nuwe stoet

Aanvanklik was die plan om net kommersieel te boer, maar in 2006/2007 het die bulmark ’n sprong gemaak en die pryse van bulle het omtrent verdubbel. “Ons kon bloot nie meer die goeie bulle op veilings bekostig nie. Ons selekteer baie streng en wou nie sommer enige bul koop nie. Korrektheid en gehalte is vir ons belangrik.

“Ek het op ’n dag met die plan vorendag gekom dat ons ons eie bulle moet begin teel. Ons moet ’n kernkudde van so 50 koeie uitsoek en vir ons een topbul koop om só ons eie bulle te teel.”

genetika
Frans beskou sy vroulike diere as die fabriek op die plaas. Hulle word sorgvuldig geselekteer sodat hulle ’n topklas-nageslag kan voortbring.

Dit was die waterskeiding in hul boerdery. Hulle wou aanvanklik net hul eie bulle teel, maar het vinnig by ’n punt gekom waar dit nodig geraak het om die diere te registreer sodat hulle die nodige inligting en ’n wyer databasis kon hê om beter seleksiebesluite te neem. So is die Buckridge Bonsmarastoet in 2012 geregistreer.

Frans vertel dat hy oor die jare by gevestigde veeboere gaan kers opsteek het en gesien het die telers gebruik hul bulle vir een of twee dekseisoene voordat hulle die bulle op ’n veiling verkoop. “As jy ’n drie-jaar-oue bul te koop aanbied, is hy al uitgegroei, dekbehendig en het hy sy potensiaal bewys. As hy enige foute gehad het, sou dit al uitgekom het. Ek en my pa het besluit om in daardie rigting te werk, maar ons moes eers sorg dat ons so 20 of 30 hoë-gehalte bulle het.”

Uitbreiding van die boerdery

Frans vertel dat hulle vroeg reeds met kunsmatige inseminasie begin het. Só kon hy op ’n goedkoper manier die beste genetika van toptelers kry. Van die eerste saad wat hulle aangeskaf het, was van bulle uit Arthur de Villiers se stoet, en dit het veral die karkasgehalte van sy kudde ’n groot hupstoot gegee. So het hulle bulle met uitstekende konformasie begin teel.

Frans het baie by dr Gert Rautenbach, ’n veearts van Vryburg, geleer. Dr Rautenbach het veral op die reproduksie van diere gefokus en Frans met raad bygestaan toe hy op klein skaal met sinkronisasie begin het.

“Ek kon later tussen 300 en 500 koeie insemineer met die saad van topbulle. Hy het my ook gehelp met ’n tiendae-program en ons het gemiddeld 60 tot 62% sukses gehad. So twee weke ná inseminasie sit ons weer die bul by die koeie om dié wat nie dragtig is nie, te dek.

“Ses jaar gelede het ek gemiddeld een bul vir elke 25 koeie nodig gehad, maar nou het ek net een bul vir 60 koeie nodig. Nou kan ons, in plaas daarvan om drie bulle te koop, die geld gebruik om een uitstaande bul te koop. Só het ons ons gehalte verbeter sonder om ons begroting te oorskry,” gesels hy.

Frans sê verder dat hulle vars semen gebruik. In die oggend word die saad getap en verdun, en van daar na die kraal geneem om die koeie te insemineer. Dit het die kudde nog meer ekonomies gemaak. “In die eerste jaar het ons ’n 66% dragtigheidsukses gehad en vanjaar 68%.”

Teeldoelwitte vir die boerdery

“Ons teeldoelwit is steeds om goeie vroulike diere met goeie melk, kloue en moedereienskappe te teel. Ons soek koeie wat vroulik en funksioneel doeltreffend is, met goeie breedte, diepte en kapasiteit.”

genetika
Frans en sy pa, Bart, glo daaraan om by die omgewing se vetveeskoue betrokke te wees. By die onlangse Leniesdeel-vetveeskou het hulle die top-enkelos op die hoef sowel as die topgroep vertoon. Hier staan Frans en Bart by hulle wen-os.

Hulle selekteer vir bulle met goeie vleiseienskappe, want dit is uiteindelik die karkas wat vir die verbruiker aanvaarbaar moet wees. “Ons is steeds in vleisproduksie en daarom is dit belangrik dat ’n mens genetika inspan om die regte diere te teel. Dit help nie jy jaag indekssyfers na nie; die nageslag van elke koei moet steeds goeie vleiseienskappe kan toon.”

Hy lê baie klem op mediumraam-, vroegryp diere, omdat sy ervaring wys dat hul kondisie baie vinniger verbeter en minder onderhoud vereis.

Seleksie en parings

Frans is baie streng met die seleksie van sy bulle. Omdat sommige diere op aangeplante weidings loop en ander op natuurlike veld, meet hy elke groep teen die trop, en die bestes word saamgegooi en deur ’n fase D-toets gesit. Daarna kom keurders van SA Stamboek en Bonsmara SA om die bestes in hierdie groep uit te soek.

Hy sê die hulp wat hy van die genootskap ontvang, help hom om topdiere te identifiseer en die korrekte parings te doen. “Daarby moet jy maar voortdurend tussen jou beeste wees, hulle dophou en selekteer.”

Korrekte paring staan vir Frans op twee bene. Die eerste is visuele observasie van die koeie en bulle se sterk- en swakpunte en hoe hulle mekaar kan aanvul. Die tweede is die syfergedeelte. Hier is die tegnologie van groot waarde en kan die regte data jou ’n aanduiding gee van watter bul die beste by jou koeie pas om die beste syfers te kry. Dié twee bene vul mekaar aan en maak jou keuses makliker.

Vir Frans is die boerdery ’n holistiese bedryf waarin hy die eindpunt, naamlik die behoefte van die verbruiker, in die oog moet hou en die beste roetes moet uitsoek om daar te kom. “Dit is belangrik om alle middele en bronne te gebruik om keuses te maak wat vir jou die regte karkas sal besorg.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Frans Seevinck by 082 348 7533.

speenkalwers