Anton Viljoen, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Tafeldruif-bedryf (Sati), het onlangs met Hugo Lochner van Plaas Media oor die tafeldruifseisoen gesels. Volgens Viljoen is daar vanjaar ’n groot oes. Die bedryf mik om tussen 65 en 70 miljoen kartonne druiwe te lewer.

Die oes het in die Limpopo-streek in die Groblersdal-omgewing begin, waar hulle óór hul oesskattings gepak het. In die Upington-streek het hulle gesukkel met reën naby oestyd. Al het die Kalahari dit broodnodig gehad, was dit ’n uitdaging vir die tafeldruifbedryf. Nietemin het die omgewing steeds hoë volumes tafeldruiwe geoes.

Streke soos die Olifantsrivier-omgewing het die afgelope vyf jaar baie droogtes ondervind en het vanjaar ’n goeie oes opgelewer, met vol damme en gesonde druiwe, sê Viljoen. Hier het hulle ook oesskattings gehaal. Die Langbergrivier-streek, wat strek van Paarl tot Piketberg, het ook ’n goeie jaar gehad nadat hulle die afgelope twee jaar uit die droogte gekom het. Ten tye van die onderhoud was die Hexrivierstreek besig om tafeldruiwe te oes, en volgens Viljoen het dit belowend gelyk met groot korrelgrootte en mooi kleur op rooi- en swartdruiwe.

Impak van Covid-19 op uitvoermarkte

Viljoen sê dat die uitvoermarkte tradisioneel nog die Verenigde Koninkryk (VK) en Europa is. Sowat 60% van Suid-Afrika (SA) se tafeldruiwe word na hierdie lande uitgevoer. “Verlede jaar het die mark goed gevaar, ondanks die begin van die Covid-19-pandemie,” sê Viljoen. “Maar vanjaar is ’n heel ander storie – daar is net nie genoeg koopkrag nie. Mense is in hul huise vasgevang en in sommige lande mag hulle slegs tussen 08:00 en 17:00 in die ope wees, wat verkope redelik beperk. Pryse van druiwe is ook redelik laer as verlede seisoen. Groot handelsmarkte is ook nie vir lank oop nie en daar is min kopers. Meeste mense fokus op supermarkte.”

Viljoen sê wel dat die SA vrugtebemarkers ook nuwe markte genader het soos die Verre-Ooste, Vietnam en China. Nuwe markte is ook die Verenigde State van Amerika en Kanada as gevolg van te veel reën in Chili, wat groot kompetisie vir die SA tafeldruiwemark is. Kleiner markte soos eilande en Afrika bring ook verligting waar die tradisionele markte vanjaar gapings los.

Viljoen is opgewonde oor die toekoms van die bedryf en sê dit lyk belowend. “Ons het nuwe kultivars wat goed vaar. Dit skuif – mense koop dit en dit gee goeie produksie. Ons verwag dat ons met sowat 5 miljoen kartonne in die volgende twee tot drie jaar gaan groei. Ons mik om oor die 70 miljoen-kerf te gaan. Die nuwe kultivars trek ook nuwe markte. Tafeldruiwe speel ’n belangrike rol in die ekonomie en skep werk. Dis ’n arbeidsintensiewe sektor waar twee permanente werkers per hektaar, asook seisoenale werkers, benodig word. – Ursula Human, AgriOrbit