Na breedvoerige gesprekvoering het Graan SA en ALFA besluit om hande te vat en ‘n nuwe ekspo op die landboukalender te plaas. Die twee grotes in die bedryf gaan in September 2020 die heel eerste NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag en Buitelewe-ekspo aanbied op NAMPO-park net buite Bothaville.

Die lewendehawebedryf in Suid-Afrika is aan die groei en vorm ‘n belangrike deel van die plaaslike ekonomie. Hierdie groei was duidelik sigbaar in die feit dat ALFA die afgelope vier jaar gegroei het tot die beste lewendehawe-ekspo in die land.

ALFA sprei vlerke by NAMPO-park

Die volgende logiese stap sou wees om dit nog groter te maak, en met jare se suksesvolle aanbiedinge op sy naam, is NAMPO-park die ideale plek waar ALFA sy vlerke kan sprei.

ALFA is nie net ‘n gewone eskpo nie, en bied sedert sy ontstaan verskeie unieke platforms wat aan rolspelers in die lewendehawebedryf ‘n ware besigheidsnetwerkgeleentheid bied. Dit geld vir plaaslike rolspelers en belanghebbendes regoor die Afrika-vasteland.

Daarmee saam bestaan daar tans ‘n groot behoefte onder produsente vir ‘n jag- en buitelewe-ekspo wat sentraal geleë is. Lewendehawe, buitelewe en jag is uiters komplimenterende aspekte van die Suid-Afrikaanse boerderygemeenskap en die kombinasie bied ‘n wenresep.

Kyk na die video hieronder vir meer inligting.

NAMPO-park fasiliteer verskeie groei geleenthede

NAMPO-park besit reeds goeie stelsels en infrastruktuur soos genoegsame parkering, kiosks, ablusiefasiliteite, veefasiliteite en ander lokale wat so ‘n groot geleentheid nie alleen kan huisves nie, maar ook geleentheid vir groei fasiliteer. Boonop bied NAMPO-park nog ‘n groot voordeel – die Suid-Afrikaanse produsent voel reeds tuis daar.

‘n See van geleenthede lê voor en planne sal mettertyd in die pers bekendgemaak word. Kyk uit vir verdere inligting en wees gereed vir ’n groot ervaring in 2020. – Persverklaring, Graan SA en ALFA

Vir enige navrae kontak Dirk Strydom 082 852 4810 en Albert Loubser 082 562 2188.