Die van ons wat nog gelukkig genoeg is om spaargeld te hê, weet dat die afgelope klompie jare nie regtig bevorderlik was vir spaar nie. Die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) kou al vir vyf jaar klippe sonder enige werklike oplewing.

Vaste beleggings het dalk die laaste paar jaar beter as aandele presteer, maar indien jy inflasie van die rentekoers wat verdien is aftrek, het jou belegging ook nie regtig gegroei nie. Tans is rentekoerse ook laer, wat beteken dat beide vaste beleggings en beleggings op die JSE maar ’n baie lae reële opbrengs lewer.

Landbouprodusente is wel vertroud met ’n ander tipe belegging, naamlik landbougrond. Die probleem is egter dat grond so gewild was, dat dit vir baie produsente onbekostigbaar geraak het om bykomende grond aan te koop. Daarna het grond as bate en belegging weer só onder die spervuur gekom weens die regering se onteiening-sonder-vergoedingsbeleid asook die pryse van landbougrond, dat die waarde van dié belegging begin daal het.

Landbougrond as belegging

Soos genoem is daar in die huidige klimaat redelike onsekerheid oor die aankoop van landbougrond as belegging, juis vanweë die dilemma rondom onteiening sonder vergoeding. Indien daar in ’n bate belê word, wil jy sekerheid hê dat jou eiendomsreg beskerm is. Dit is tans nie noodwendig die geval met landbougrond nie. Aan die ander kant is alle aanduidings egter dat produktiewe landbougrond nie sommer onteien sal word nie.

Die sekuriteit van hierdie bate is egter nie die enigste oorweging waarop ‘n beleggingsbesluit gebaseer word nie. ‘n Ander belangrike aspek is die opbrengs van die spesifieke belegging. Ons weet dat landbou die afgelope jare in baie streke en talle vertakkings swaar getrek het. Taamlike sterk rentekoerse en groei in ander sektore het landbougrond as belegging dus redelik onaantreklik gemaak – selfs landbouprodusente het gekies om hul beleggings weg van landbou af te diversifiseer.

Laer rentekoerse en ’n swak ekonomie het die situasie egter nou weer omgedraai en landbougrond se opbrengs mag dalk net weer aantreklik begin lyk.

’n Vergelyking in opbrengs

In hierdie voorbeeld moet iemand met ongeveer R2,8 miljoen ’n beleggingskeuse tussen ’n vaste belegging (tien jaar) en landbougrond maak, deur die moontlike opbrengs op die beleggings met mekaar te vergelyk.

Tans is die rente op vaste beleggings tussen 4,5 en 5%. ’n Belegging van R2,8 miljoen behoort dus rente van R133 000 per jaar op te lewer. Met dieselfde geld kan ’n plaas van 700ha teen R3 000/ha (12ha/grootvee-eenheid of GVE) en 45 koeie (± R15 000 per koei) aangekoop word.

Teen huidige speenkalf- en karkaspryse, en indien die produsent se uitgawes op winterlek, somerlek, arbeid, die nodige medikamente en oorhoofse koste bygereken word, behoort die netto marge vanaf die grond ongeveer R212 000 per jaar te beloop. Dit klop die opbrengs van die belegging dus met sowat R79 000 per jaar.

Ja, ander faktore moet sekerlik ook in ag geneem word wanneer beleggings teenoor mekaar opgeweeg word. Die vaste belegging is dalk rente op rente, die grond se onderliggende waarde groei of krimp dalk, die pryse van kalwers en karkasse kan verander, en rentekoerse kan styg of daal. Myns insiens is daar positiewe en negatiewe aspekte by beide beleggings, maar op die oog af wil dit vir my voorkom asof die belegging in grond tans meer sin maak.

Versprei jou risiko

Volgens alle verwagtinge gaan die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n hele paar jaar neem om daadwerklik van die COVID-19-pandemie te herstel. Dit beteken dus dat die plaaslike rentekoerse ook redelik laag behoort te bly in die afsienbare toekoms.

Indien grond in hierdie omgewing met vaste kontantbeleggings vergelyk word, maak ’n belegging in landbougrond vir my baie sin. Dit is nooit ’n goeie idee om al jou eiers in een mandjie te sit nie en dalk bied aandele oor die volgende paar nog uitstekende waarde, maar tans is grond ’n welkome, bekende belegging. – Dr Frikkie Maré, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za.