Altesaam 97% van die water op aarde is in die oseane en nog 2% is vasgevang in gletsers by die Noord- en Suidpool. Dit beteken dat slegs 1% van vars water op die aardbol vir menslike gebruik beskikbaar is in riviere, damme en mere. Verder weet ons dat die mens meer water gebruik as wat op die aarde beskikbaar is.

Read it in English.

So sê Jordaan Fouché, ’n geoloog verbonde aan die konsultasiemaatskappy GeoWaterEx in Kaapstad, wat in grondwatereksplorasie spesialiseer.

“Met klimaatsverandering wat toenemend ’n invloed op die normale klimaatspatrone uitoefen, het die uitwerking verreikende gevolge vir die mens. ’n Goeie voorbeeld is die onlangse drastiese waterbeperkings in Kaapstad as gevolg van die strafste droogte in menseheugenis in die Wes-Kaap. Afgesien van die 50 liter per dag per persoon wat aan menslike gebruik toegeken is, het die beperkings ingrypende gevolge op die landbousektor gehad.”

Boor van boorgate

Die gevolg van hierdie waterbeperkings was dat boere hulle op groot skaal tot die boor van boorgate gewend het om te probeer om hulle produksie so min as moontlik te verlaag.

“As geoloog was dit vir my verstommend om te sien hoe lukraak sommige van hierdie gate geboor is en hoe laag die suksessyfer was. Ek is van mening dat water baie doeltreffender aangewys kan word as ’n mens geologiese kennis en wetenskaplike hulpmiddels gebruik.”

Jordaan beklemtoon dat hoewel baie mense vas glo in die aanwys van water op grond van die werking van stokkies, draadjies en botteltjies, hy as geoloog net op wetenskaplik-gefundeerde metodes fokus.

“Die metodes wat ek gebruik, sluit in die gebruik van geologiese en geofisiese data, insluitende satelliet-fotografie en gravitasie- en magnetometriese kaarte, om gebiede aan te dui wat gunstig vir die produksie van grondwater lyk.”

’n Skematiese voorstelling van ’n artesiese put met ’n tipiese waterdraer-dwarssnit waar artesiese water en grondwater voorkom.
Wat is grondwater?

Jordaan verduidelik dat grondwater voorkom in porieë en frakture in rots en sediment onder die oppervlakte van die aarde, wat akwifere genoem word. Dit word natuurlik aangevul deur oppervlakwater as gevolg van reën of sneeu, wat dan in die grondwaterstelsel inbeweeg en sodoende die grondwatertafel aanvul.

’n Akwifeer is ’n ondergrondse laag van waterdraende deurlaatbare rots, rotsfrakture of ongekonsolideerde materiale soos gruis, sand of slik.

“So ’n akwifeer kan baie lank neem om weer vol te raak as water daaruit gepomp word. Die oordeelkundige gebruik van ’n akwifeer berus op sinvolle bestuur om te verseker dat die akwifeer oor die lang termyn produktief sal bly.”

’n Skematiese voorstelling van ’n akwifeer.

Tans vorm Suid-Afrika se grondwaterbronne sowat 15% van die totale volume water wat nasionaal gebruik word. Hiervan is sowat 64% vir landboudoeleindes, terwyl die gebruik deur mynwese en huishoudings 8% beloop.

Rede tot kommer?

Jordaan voel dat daar nie noodwendig onmiddellike rede tot kommer is dat die grondwaterbronne sal opraak nie, maar sekere faktore moet egter wel in gedagte gehou word.

“Besoedeling van die ondergrondse waterbronne is op die oomblik ’n baie groter bedreiging as die vrees dat die ondergrondse waterbronne sal opraak. ’n Goeie voorbeeld van sulke besoedeling is die ondergrondse water op die Kaapse Vlakte, wat só besmet is deur onder andere puttoilette dat die water totaal onbruikbaar geraak het.

“Nog ’n voorbeeld is in die Swartland te vinde, waar die sogenaamde Malmesbury-skalie, wat in elk geval hoog in soute is, nou vol soutpanne geraak het, onder andere as gevolg van dekades se bewerking en bemesting van lande. Hierdie soutpanne is letterlik pekel – so sout soos die Dooie See.”

Menslike praktyke

Hierdie verskynsel vind egter wêreldwyd plaas, want menslike praktyke maak grondwaterbronne totaal onbruikbaar.

“Dit is egter ook so dat die huidige bedreiging doodgewoon ’n tekort aan reën is. As dit nie genoeg reën nie, word die grondwatertafel nie genoegsaam aangevul nie.

“As klimaatsverandering dus tot gevolg het dat ons in elk geval minder reën gaan kry, is dit noodsaaklik dat ons ons praktyke só moet aanpas dat ons grondwaterbronne nie tot niet gaan nie. Hoe minder afvloei plaasvind en hoe meer water dus die grond soos ’n spons binnedring, hoe beter. Hiervoor is goeie plantbedekking, en veral natuurlike plantegroei, noodsaaklik.”

Aanwys van water

Jordaan sê ’n wye reeks geofisiese metodes word gebruik om gebiede te identifiseer waar ’n goeie kans is dat daar goeie grondwaterbronne is. Vanuit ’n geologiese oogpunt kan geologiese kaarte en lugfoto’s bestudeer word om veranderinge in die aardkors en rotsformasies te identifiseer wat gunstig is vir grondwater.

“Ons soek na poreuse en verbrokkelde rotse. Ons kyk ook na afvloeipatrone en probeer op grond hiervan laagtepunte identifiseer waarheen water as gevolg van gravitasie sal afvloei. In die geval van doleriet soek ons tipies na ’n rotsstruktuur wat nie poreus is nie, wat dus as keerwal vir die ondergrondse water dien.”

Hierna gaan hulle dan fisies na die plek toe en gebruik geofisiese metodes vir ’n meer gedetailleerde ondersoek.

Geofisiese metodes

Jordaan verduidelik dat die aarde verskeie eienskappe het wat handig te pas kom in sy werk. Dit sluit in die vermoë van die aarde om klank, ’n elektriese veld en ’n magnetiese veld oor te dra, asook gravitasie.

“Ons het op skool geleer dat die aarde se magneetveld en sy gravitasie eenvormig is. Wel, dis onwaar. Sekere faktore kan beide hierdie velde beïnvloed. Hierdie afwykings word anomalieë genoem. As jy byvoorbeeld ’n magnetiese opname oor ’n basaltiese formasie of ’n dolerietgang doen, sal jy ’n magnetiese anomalie vind.

“Net so vind ’n mens gravitasie-anomalieë waar groot watermassas versamel, soos in die Okavango Delta en die Nigeriese Delta. In hierdie gebiede is die gravitasiekrag sterker as in gebiede waar daar nie sulke watermassas is nie. Gravitasievelde is ook sterker tydens die reënseisoen as tydens die droë seisoen.”

“Dit is op grond van hierdie eienskappe van die aarde dat gravitasiemeters en magnetometers gebruik kan word om die teenwoordigheid van water na te spoor.

“Resistiwiteit dui op die vermoë van die aarde om elektrisiteit oor te dra. Ons weet dat water se vermoë om dit te doen, baie goed is. Die gebruik van resistiwiteitsmeters kan dus baie akkuraat aandui waar water teenwoordig is.”

’n Voorstelling van hoe resistiwiteit gebruik kan word om aanduidings van ondergrondse water te vind.
Elektromagnetiese seine

Behalwe vir die aarde se vermoë om klank oor te dra, kan dit ook elektromagnetiese seine oordra. Hierdie seine kan op ’n passiewe manier ontstaan deur onder andere ’n donderstorm, sonvlekke of aardbewings. Dié gebeure veroorsaak elektromagnetiese ontploffings. Seine van ’n hoë frekwensie word uitgeskakel, terwyl seine van ’n lae frekwensie makliker deurgestuur word.

“So kan jy dan geologiese strukture onder die oppervlakte raaksien, soos ondergrondse kanale, dolerietgange, keerwalle, veranderinge in poreusiteit en frakture. Jy moet hierdie data dan interpreteer sodat jy kan vasstel waar om te boor.”

Jordaan meen die verskillende metodes vul mekaar aan sodat ’n mens uiteindelik die betroubaarste gevolgtrekkings kan maak.

“Ek dink gravitasie gee die beste aanduiding van waar om te soek. Elektromagnetika gee dan ’n aanduiding van hoe diep om te boor. Nie een van hierdie metodes is egter onfeilbaar is nie, want dit is op die interpretasie van data gebaseer.”

Vir meer inligting, skakel Jordaan Fouché by 082 555 4227. Om na ‘n RSG Landbou-onderhoud oor dié onderwerp te luister klik hier. – Izak Hofmeyr, Veeplaas