Onduidelikhede oor begrippe en bepalings in die wysigingswetsontwerp oor onteiening sonder vergoeding kan veroorsaak dat die wysiging aan die Grondwet nie goedgekeur word nie. Grondhervorming is egter meer ingewikkeld as om dit net te steun of teen te staan – dit is ʼn gesprek wat voortgesit moet word ongeag of die wysiging aanvaar of afgekeur word.

Prof Elmien du Plessis, verbonde aan die Fakulteit Regte by Noordwes-Universiteit, sê die onduidelikheid het ontstaan met die aanvaarding van dié beleid deur die ANC. Dit is duidelik gestel dat die oogmerk nie is om die landboubedryf te destabiliseer of voedselsekerheid in die gedrang te bring nie, maar daar is niks gesê wat verstaan word met ‘onteiening sonder vergoeding nie’.

Die EFF het voorgestel dat daar eerder van voogdyskap oor alle grond gepraat moet word. Die begrip van voogdyskap se inhoud en omvang staan nie rotsvas in die reg nie. Prof du Plessis het verwys na hofbeslissings en gesê voogdyskap beteken om die beheer van ʼn bron uit private besit te neem en onder openbare bestuur te plaas. Die voog raak dus nie die eienaar van die bron en kan dit nie self benut nie.

Die EFF het verder aangedui dat indien alle grond nie onder voogdyskap van die staat gaan kom nie, gaan hy nie ten gunste van die wysiging stem nie en is dit onwaarskynlik dat die wetsontwerp deurgevoer sal kan word.

Daar is goeie redes hoekom sekere hulpbronne deur die staat bestuur moet word om te verseker dat die bestuur daarvan volhoubaar is. Dit beteken dat die staat sal moet verseker dat produktiewe landbougrond vir dié doel aangewend word, en nie kan leeglê of vir ander doeleindes aangewend kan word nie.

Soos dit nou is, sukkel grondhervorming omdat die staat se administrasie daarvan veel te wense oorlaat.

In die bepalings van die wetsontwerp word nie verduidelik hoe dit alles gedoen gaan word nie, en hoe bestaande probleme in wetgewing vir die herverdeling van grond, meganismes om aanspreeklikheid te verseker, en kaping deur die elite te voorkom, aangespreek gaan word nie.

Sy glo nie die debatvoering die afgelope drie jaar was verniet nie. Hoe moeilik, lomp en slordig die proses dalk was, het dit ʼn gesprek oopgemaak waarin daar gesoek moet word na die betekenis van woorde wat geskryf is in ʼn dokument wat die spelreëls vir die land uitlê.

Dit is ʼn interaksie tussen mense, oor wetgewing, met regslui, want niemand het die alleenreg oor wat die Grondwet nou eintlik beteken nie. Betekenis word geskep deur dialoog en brawe gesprekke. Vir prof Du Plessis lê die proses se waarde daarin dat die gesprekke voortgesit moet word. – Andries Gouws, AgriOrbit