’n Samewerkingsooreenkoms tussen GWK Veilings en Wildswinkel, wat dié twee besighede se omvattende kennis van veilings kombineer, het dit moontlik gemaak om nou ’n nuwe aanlynplatform vir veeveilings bekend te stel – een wat beloof om die bedryf op sy kop te keer, op ’n baie goeie manier.

Read it in English

In ’n wêreld waar kostebesparing toenemend belangrik is vir ’n bedryf wat op die oomblik ook unieke uitdagings weens die koronavirus in die gesig staar, is oplossings nodig om makliker en meer kostedoeltreffend voort te gaan om ’n diens aan veeprodusente te lewer.

Die GWK Veewinkel-toep is die oplossing hiervoor – ’n platform wat virtuele aanlynveeveilings in werklike tyd kan aanbied.

Nuwe aanlynveiling-toep

Willie Meyer, hoof van GWK Veilings, ’n besigheid wat deel vorm van die landboumaatskappy GWK, sê die samewerking en die ontwikkeling van die toep bied nie net gerief aan kopers en verkopers nie, maar ook verminderde koste in terme van vervoer, tyd en dieregewigsverlies.

“Wildswinkel het ’n bewese rekord in veilings in die wildbedryf en ons GWK Veilings-span kan ons absoluut met hulle waardes vereenselwig,” sê Meyer oor die samewerkingsbesluit. “Die gerief, geloofwaardigheid en deursigtigheid van die toep, tesame met die bykomende dienste wat deur GWK en Wildswinkel aangebied word, sal reusevoordele vir kopers en verkopers op veeveilings ontsluit.”

Victor Matfield, hoof uitvoerende beampte van Wildswinkel, sê dat dié besigheid al vir ’n geruime tyd uitbreiding na die veebedryf ondersoek, maar dat hulle gesoek het na ’n maatskappy as vennoot – een met ’n gevestigde begrip van en ondervinding in veeveilings, en waardes wat met dié van Wildswinkel ooreenstem.

“Ons gebruik vir die afgelope drie jaar ’n aanlynplatform vir stilveilings (timed auctions). In hierdie tyd is die toep ontwikkel om gebruikersvriendelik te wees – iets wat soortgelyke platforms nog nie kon vervolmaak nie,” sê Matfield.

Stil- en lewendige veilings moontlik

Hy sê dat die toep twee soorte platforms bied. Die stilveiling stel produsente in staat om diere vanaf hul plase te verkoop sonder om ooit die diere na veilingsfasiliteite te vervoer. ’n Koper kan dus direk by die verkoper koop en die middelman uitsny.

Die lewendige aanlynveiling word gebruik tydens lewendige veilings om ’n platform te bied waarop kopers wat nié die veiling kan bywoon nie, steeds daaraan kan deelneem in die gemak van hul eie huise. Op hierdie platform kan daardie kopers bie teen kopers wat die veiling bywoon.

Die GWK Veewinkel-toep het geen geografiese grense nie, en kopers en verkopers kan landwyd – en selfs van oor landsgrense – aan veilings deelneem deur op die toep te registreer. Dit is gratis om af te laai en is beskikbaar vir Apple en Android.

GWK en Wildswinkel is albei gerespekteerde besighede in hul onderskeie bedrywe. Deur hul ondervinding in vee- en wildveilings te kombineer, is ’n nuwe platform geskep om die koop en verkoop van vee te vereenvoudig en te moderniseer, tot voordeel van almal in die bedryf.

Klik op een van die onderstaande skakels om na die nuwe GWK Veewinkel-toep te kyk, dit af te laai of daarop te registreer:

IOS:

https://apps.apple.com/za/app/veewinkel/id1506954168

Android:

https://play.google.com/store/apps/details?id=com.digitalpub.veewinkel&hl=en_ZA

Persverklaring, GWK Veilings en Wildswinkel