Geurig, lieflik, maar kort. So som Niël Groenewald Nederburg se 2020-oes op. Niël, besturende direkteur van die wynmakery, sê vanjaar se plukseisoen was ’n volle twee weke korter as gewoonlik. Die wingerd- en kelderspanne moes hul storie ken om die gladde ontvangs en verwerking van die druiwe te verseker.

“In Januarie was dit ’n kwessie van vat-en-los, met die lewering van druiwe wat nie behoorlik op dreef gekom het nie. Dit is in die meeste areas gevolg deur ’n onderbreking van twee weke waartydens almal gewag het vir die druiwe om optimaal ryp te word.

“Van begin Februarie het die toenemende lewering van druiwe by die kelder ons konstant op ons tone gehou. Met die pluktyd wat al korter en intenser geraak het, moes ons ten nouste as span met mekaar saamwerk. Dit was toe dat dit weer by ’n mens tuisgekom het hoe deurslaggewend dit is om met ware kenners van hul vak saam te werk.

Niël Groenewald, besturende direkteur van Nederburg.

Pluk tydens die landswye inperking

“Ons is ook dankbaar teenoor die owerhede vir toestemming om klaar te pluk ondanks die instelling van die inperkingsperiode van 21 dae. As gevolg daarvan kon al die druiwe tydig en in goeie toestand by die kelder gelewer word, waar ons kernpersoneel al die nodige veiligheids- en sanitasievoorskrifte tot in die kleinste besonderhede nakom om risiko in die breë tot die minimum te verlaag en die welsyn van elke lid van die span te verseker.

“Ons is tans besig met die gisting van die laaste druiwe asook die aftap van die wyn en die oortap van veral die rooies in vate, aangesien die oes klaarblyklik nog nie verby is bloot omdat die druiwe klaar gepluk is nie.”

Gesonde en goed-gebalanseerde druiwe

Niël glo die druk met die oes word beloon met gesonde, goed-gebalanseerde druiwe, met gekonsentreerde geure en ’n lewendige suur en, onder die rooies, diep, digte kleure.

“Vanjaar se cabernet sauvignon is uitsonderlik: ryk, swart korrels, sonder selfs ’n suggestie van groenigheid; pragtig vol, met sagte tannien. Die sauvignon blanc vertoon sy tropiese eienskappe ten beste terwyl die chenin blanc gewoon uitsonderlik is – so lewenskragtig en met ’n helder evokasie van die oes.

“ ’n Mens herken die verhaal van hierdie oes daarin, met sy ryp geel en oranje vrugte-eienskappe, ondersteun deur pikante lemmetjie danksy die betreklik koel aanloop tot die lang rypwordingseisoen; die koel nagte gedurende finale rypwording en dan die voldoende vog in die grond as teenvoeter vir die paar kort maar intense hittegolwe.”

Volgens Niël word klei-amforas vir die bereiding van deel van die chenin gebruik om dit verhoogde frisheid en ’n meer intense mondgevoel te gee. Hierdie wyn sal mettertyd onder die Heritage Heroes-handelsmerk gebottel word.

Weerstoestande nes dit moes wees

Hy het gesê die oggendmis wat later in die dag deur die herfsson weggebrand is, het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van edelvrot, ’n belangrike eienskap van sekere van Nederburg se befaamde dessertwyne.

“Ons het werklik geen klagtes nie. Die wingerde het oor die algemeen egalig gebot terwyl die druiwe oor ’n lang tyd egalig ryp geword het – presies wat ’n mens graag wil hê. Die reën het gekom toe ons dit wou hê terwyl die wind, hoewel by tye redelik hewig, siektes weggehou en die wingerde help afkoel het.”

’n Hoër opbrengs

Die oes was einde Maart afgehandel. Die gemiddelde opbrengs was 9 ton per hektaar, wat ’n verbetering op 2019 is.

“Die trosse was dalk bietjie groter, maar die grootte van die korrels was na aan ideaal, met ’n goeie dop- tot vrugverhouding. Na verskeie moeilike jare van droogte en die eise wat dit gestel het om die impak daarvan selfs na die eerste reën te bestuur, was hierdie jongste oesjaar ons veel beter gesind. Daarom glo ek ons kan vooruitsien na talle heerlike wyne van die 2020-oesjaar.” – Persverklaring, Nederburg