Heelwat minder herfskommandowurm-getalle is sover vanjaar aangeteken. Kenners meen dit kan te danke wees aan die laat reën, maar ook die feit dat produsente minder mielies geplant het as gevolg van die swak mielieprys.

Lise Roberts van RSG Landbou het onlangs met Jan-Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) gepraat oor die herfskommandowurm-plaag wat jaarliks aan mielie-oeste knaag.

Die herfskommandowurm benodig hitte en vog om te kan oorleef, maar ook ’n voedselbron, waarvan mielies ’n voorkeur is. Hierdie insekte kan ook duisende kilometer vlieg en versprei dus maklik in ’n land soos Suid-Afrika.

Die kommandowurm is ’n aanmeldbare pes wat amptelik deur DAFF beheer word. Volgens Regulasie 449 in die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet 36 van 1983) kan produsente die voorkoms van kommandowurms by enige plaaslike of nasionale landboukantoor aanmeld.

Getalle oor die hele Limpopo-provinsie, asook die warm gedeeltes van Mpumalanga en Gauteng, is bevestig. In die Noordwes-provinsie, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is enkele getalle aangemeld. Die Noord-Kaap en die Wes-Kaap het nog geen gevalle aangemeld nie.

Die provinsiale Departemente van Landbou het gedeeltes van hul ontwikkelingsbefondsing beskikbaar gestel om ontwikkelende produsente met die bestryding van hierdie plaag te ondersteun waar nodig. Die nasionale departement het ook bewusmakingsveldtogte opgeskerp en navorsingsprojekte bekendgestel. ’n Nasionale opnameprogram is ook van stapel gestuur. – Elmarie Helberg, RSG Landbou