Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het vroeg in Februarie enkele gevalle van herfskommandowurm in Limpopo gerapporteer. Op navraag van AgriOrbit het Jan-Hendrik Venter van DAFF gesê dat die uitbreking in Limpopo slegs enkele gevalle onder kleinboere is. “Geen verdere gevalle is nog aangemeld nie en geen gevalle is aangemeld deur boere wat voorsorg getref het teen dié pes nie.”

Volgens Venter is alle betrokke partye op ’n gereedheidsgrondslag en sal die minister van landbou na verwagting einde Februarie ’n persverklaring oor herfskommandowurm in Suid-Afrika uitreik. Landbouers word versoek om enige tekens van die pes dadelik te rapporteer.

Intussen het die Namibiese Departement van Landbou, Water en Bosbou gewaarsku dat dié land na verwagting vir die tweede jaar in ’n ry onder ’n herfskommandowurm-uitbreking gebuk sal gaan.

“Volgens data wat ingesamel is oor die voorkoms van herfskommandowurm-motte, is die pes nog in die omtrek. Sodra gasheerplante beskikbaar is, sal die motte begin eiers produseer,” sê Percy Misika van die Namibiese Departement van Landbou, Water en Bosbou. Hy waarsku dat boere moet voorsorg tref teen ’n uitbreking. – Marike Brits, AgriOrbit