Die grondlewe van landbougrond in Suid-Afrika is in ʼn totale wanbalans ná jare se oningeligte toediening van landbouchemikalieë gekombineer met landboupraktyke wat, dikwels onwetend, grondgesondheid benadeel het.

So sê Johan Habig, senior navorser in mikrobiologie by Microlife Research Centre. “Grondlewe speel ʼn deurslaggewend belangrike rol in grondgesondheid weens die legio funksies wat die verskillende grondorganismes vervul,” verduidelik hy. “Van hierdie funksies sluit in die losmaking, oftewel mineralisasie en sirkulering van mikro- en makro-elemente uit die organiese materiaal en worteluitskeidings, vervaardiging van plante se groeihormone, organiese sure en selfs toksiene wat siekte-veroorsakende bakterieë, swamme en aalwurms van plantwortels kan weghou.”

Die bevordering van grondgesondheid

Habig wys verder daarop dat dié wanbalans vererger kan word deur ʼn toename in chemiese bemestingstoediening, wat daartoe lei dat die grondlewe se funksies nie optimaal verrig kan word nie, tot nadeel van die plant- en algemene grondgesondheid.

“Wanneer ons as mense ‘rus’, doen ons dit immers nie sonder kos en klere nie? Insgelyks, is die tye wat landbougrond braak lê nie meer ten gunste van grondgesondheid nie,” sê hy. “Die voordeligste manier om grond te laat ‘rus’, is om óf ʼn deklaag van organiese materiaal op die grondoppervlak te hou óf ʼn dekgewas te plant. Op dié manier word die grondlewe heeltyd gevoed en in gereedheid gebring vir die volgende groeiseisoen.”

Johan Habig, senior navorser in mikrobiologie by Microlife Research Centre.

Verdere voordele van permanente grondbedekking sluit die regulering van grondtemperatuur, voorkoming van waterverlies en selfs die vermindering van gronderosie in.

Voorkoming van totale afhanklikheid van chemiese middels

Habig reken daar kan verskeie redes wees waarom produsente nie hierdie praktyke toepas nie, onder meer hoë koste of selfs ʼn tekort of gebrek aan korrekte inligting.

“Die nadeligste biologiese resultaat van gebrekkige aandag aan grondgesondheid is plante en gewasse se totale afhanklikheid van chemiese bemesting en ander chemiese middels om te oorleef,” maan hy. “En dienooreenkomstig sal toenemende hoeveelhede chemiese bemesting toegedien moet word net om dieselfde opbrengste te verseker.”

Boonop is daar sekondêre funksies wat met ʼn afname in grondgesondheid ingeboet word, onder meer aggregaat-stabiliteit, die penetrasievermoë van water en die onderdrukking van grondgedraagde siektes.

“Grondgesondheid handel oor die chemiese, fisiese en biologiese interaktiewe prosesse en eienskappe van grond wat belangrik vir volhoubare produksie is. Laeveld Agrochem en sy vennote ondersteun die pogings van produsente om hul grondgesondheid te verbeter en stel ook tegnologie beskikbaar om die nodige metings van dié interaktiewe prosesse en eienskappe te neem. Ons doel is om boere by te staan om volhoubare produksie te verseker en ook op die uiteinde vir verbruikers voedingsryke voedsel beskikbaar te stel,” sê Phillip Venter, bemarkingsbestuurder plantvoeding by Laeveld Agrochem.

‘n Gebrek in voedingswaarde

Daar is geen rekord van die biologiese faset van grondgesondheid in Suid-Afrika nie, maar Willem Eigenhuis, hoofagronoom van graan en pekanneute by Agri Technovation, sê internasionale navorsing toon dat die mineraalinhoud van die voedsel wat ons inneem, veral groente en vrugte, drasties afgeneem het. “Data van die afgelope 50 jaar toon dat die minerale-inhoud van voedsel soos vrugte en groente met tussen 20% en 50% afgeneem het,” sê Eigenhuis.

“Dit is onrusbarend, want dit beteken ons verbou volumes kos sonder die nodige voedingswaarde, wat ook ʼn rede kan wees vir die groeiende voorkoms van vetsugtigheid; mense wat groot hoeveelhede kos sonder die nodige minerale en gesondheidswaarde inneem.”

Skade aangerig aan die natuurlike omgewing

ʼn WWF Suid-Afrika verslag, getiteld Agri-Food Systems: Facts and Futures wat vroeër vanjaar bekendgestel is, toon dat die wyse waarop ons kos op ons tafels sit, meer skade aan die natuurlike omgewing berokken het as enige ander menslike onderneming. “Bestaande praktyke lei tot ʼn verlies aan biodiversiteit, ontbossing, swakker grondgesondheid, verwoestyning, waterskaarste en swakker watergehalte en dra ook by tot die wydverspreide beskadiging van ons mariene ekosisteem,” lui die verslag.

“Dié onbillike en omgewingsonvriendelike voedselstelsel beteken dat Suid-Afrika teen die jaar 2050 sowat 50% meer sal moet produseer om die plaaslike bevolking, wat na raming teen daardie tyd op 73 miljoen te staan sal kom, te voed.”

Willem Eigenhuis, hoofagronoom van graan en pekanneute by Agri Technovation.

Eigenhuis wys daarop dat die fokus nie uitsluitlik op groter produksie behoort te wees nie, maar ook op die verbouing van meer voedsame kos. “Regstellende landbouprosesse kan help om kos met ʼn beter mineraalinhoud op minder hektaar te produseer, wat deurslaggewend belangrik is vir Suid-Afrika as ʼn waterskaars land met slegs 13% bewerkbare landbougrond. Meer voedsame kos sal die addisionele voordeel inhou dat verbruikers minder hoef in te neem om dieselfde, of die nodige voedingswaarde te kry,” is sy slotsom.