Deur Pieter Möller

Nadat ons einde 2017 op ’n taamlike politieke en ekonomiese laagtepunt afgesluit het, het ek sommer baie moed vir al 2017 se uitdagings. Die jaar is reeds goed aan die gang en die hoop bly staan dat dit ‘n positiewe jaar sal wees. Ons moet die jaar aanpak met nuwe moed en ywer en met ons hoop gevestig na Bo. Dan kan net voorspoed en rykdom voorlê.

Ek wil dus sommer ’n paar voorspellings waag. Nie net gaan die droogte heel waarskynlik uiteindelik gebreek en nek-om gedraai word nie, maar die pryse wat vir landbouers se produkte betaal word, gaan die hoogte inskiet. En die middelman gaan, na al die jare, sy trots in sy sak steek en boere terugbetaal vir die laaste dekades se wins wat êrens heen verdwyn het.

Munisipaliteite gaan landbouers onthef van grond- en eiendomsbelasting, en Nommer Een gaan permanent vakansie hou op die Kanariese Eilande waar hy, saam met sy vêr langse Gupta-familie, mekaar en ander wilde voëls gaan vind.

Ekonomiese vooruitsigte

Verder wil ek die voorspelling waag dat my vriend Mike Schüssler in sy ekonomiese vooruitsigte net rande gaan sien inrol. Studente gaan weer klasse bywoon en leer dat die biesies bewe. En die grootste persentasie van hulle gaan instem om dubbel die klasgeld van verlede jaar te betaal omdat hulle stout was en die geld gebruik moet word om hul breekskade-rekeninge te vereffen.

Studenterade van al die universiteite wat verlede jaar ’n aandeel in die onrus gehad het, sal met onmiddellike effek bedank en aandring daarop om net in Afrikaans onderrig te word. Dosente, lektore, professore en personeel by tersiêre inrigtings, wat verlede jaar uit simpatie met studente saamgewerk het om klasse te ontwrig, word uit die land gedeporteer en is verplig om saam met Nommer Een gemeenskapswerk op die Voël-eilande te doen. Hulle word ook vrywillig ingedeel by ’n groep ghwano-versamelaars wat vegetariërs ondersteun in hul strewe om nie lewendige koi-visse te eet nie.

Die Varsitybeker vir rugby en netbal gaan vir twee jaar uitgestel word om die huidige kampioene die kans te gun om die bekers vir drie jaar agtereenvolgens te behou.

Uitkoms vir die landbou

Terug op die landboufront gaan daar uitkoms vir veral melkprodusente wees. Produsente gaan net ’n rand minder verdien van die prys wat verbruikers moet betaal en kaas gaan verpligtend wees in alle bykosse van restaurante se hoofgeregte.

Veeboere gaan juig, want sybokhaarprodukte gaan onbekostigbaar word omdat Amerikaanse modehuise alles teen ontsettende hoë pryse opraap – in opdrag van president Donald Trump. Wolbaadjies, -musse en -jasse is weer hoog in die mode, en veral Vleismerinoskape is uitverkoop op alle veilings en winkelrakke.

Jakkalse en rooikatte, veral dié wat groot skade vir produsente berokken, word heeltemal uitgeroei. Foto’s en opgestopte weergawes van hierdie ongediertes word saam met die Nieu-Seelandse dodo as uitgestorwe spesies in plattelandse museums uitgestal.

Op die sportfront …

Op die sportfront gaan daar min verandering wees, want êrens moet ons realisties ook wees. Suid-Afrika speel met ses verskillende spanne rugby teen ander rugby-deelnemende lande, sodat al 168 Springbokke wat hul rugby in die buiteland speel, ’n kans gegun word om die groen en goud weer oor die kop te trek.

Gholf en veral tennis se enkelspel-wedstryde raak baie gewild omdat kwotas nie hier toegepas kan word nie en kerkvaders skaf alle sinodes af, sodat minder geargumenteer kan word oor die feit of silwer of goue muntstukke toelaatbaar in die kerke is. Marvin Gaye se musiek word egter steeds op die ys geplaas.

Moet net nie ophou droom nie

So kan ons aanhou droom van ’n jaar vol beloftes. En niks is onmoontlik nie. Solank ons glo dat ons in beheer is van ons emosies en alles weer voorspoedig gaan afloop, is daar hoop. En ons moet terselfdertyd ons landgenote gereeld ondersteun en aanmoedig om ’n positiewe uitkyk te ontwikkel, en om die pessimisme en negatiwiteit uit ons denke en stelsels te verban.

Ek glo saam met jou dat 2017 die beste jaar nog gaan wees. Voorspoed!

 

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here