ALFA, oftewel die African Livestock Trade Fair, vier vanjaar sy vierde bestaansjaar en sal van 17 tot 19 September by die Afridome in Parys gehou word. ALFA fokus op lewendehawe, en alle aktiwiteite en projekte wat by dié ekspo aangebied word, is op vier pilare gebaseer – doeltreffende veeproduksie, die landboujeug, handel en sosiale interaksie. Hinterland is oudergewoonte op luisterryke wyse by die geleentheid betrokke en kan nie wag om sy kliënte daar te verwelkom nie!

ALFA se veekompetisies

Verskeie veeprojekte en -aktiwiteite word onder die vaandel van die doeltreffende veeproduksie-pilaar by ALFA 2019 aangebied. Hierdie projekte sluit spesies in wat deur die Diereverbeteringswet, 1998 (Wet 62 van 1998)gedek word: Vleis- en melkbeeste, vleis- en wolskape, melk- en vleisbokke, varke, werksperde en -honde, wild, konyne, braaikuikens en lêhenne.

Daar kan vanjaar na verskeie vee-aktiwiteite uitgesien word, waaronder talle kompetisies en kampioenskappe en veral veegefokusde werkswinkels.

’n Absolute hoogtepunt op die ALFA-program is die jaarlikse Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap.

Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap

Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap is beslis die hoogtepunt van ALFA se interrasfokus en die ALFA-program as ’n geheel. Die eerste Hinterland Interraskampioenskap is in 2017 tydens ALFA aangebied en die kompetisie het sedertdien van krag tot krag gegaan. Die interrasgrootkampioen manlike en vroulike dier van die twaalf grootste skoue in Suid-Afrika word genooi om aan hierdie kampioenskap deel te neem.

Die nasionale manlike en vroulike interraswenner word dan by die ALFA-galadinee aangewys. Verlede jaar se interrasvleisbeesbulwenner, van Raymund de Villiers se Santa Ray Santa Gertrudisstoet, is kort ná afloop van ALFA 2018 vir ’n nuwe rekordprys van R400 000 verkoop.

Vanjaar beloof om weer ’n spoggeleentheid te wees en besoekers kan die bulle daagliks besigtig en na die finale beoordeling op 19 September kyk, wanneer Suid-Afrika se top interrasbeoordelaars die room van die land se vleisbeeskoeie en -bulle sal punt. Die wenners in albei klasse sal die aand van 19 September gekroon word nadat al die deelnemers en hulle hanteerders in ’n parade deelneem tydens die ALFA-dinee. Voorwaar iets om na uit te sien!

Vir meer inligting oor die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap, kontak Phillip Lee by 082 971 8692. Besoek ook ons webwerf by www.hinterland.co.za en herontdek dit wat saak maak.

Hinterland Plaasbestuurderskonferensie

’n Nuwe en opwindende toevoeging tot die ALFA-program en tot die Hinterland-stal, is die Hinterland Plaasbestuurderskonferensie wat op 17 September van 09:00 tot 09:30 in die ABI Africa-saal op die Afridome-gronde in Parys. Die doel van hierdie konferensie is om aandag te vestig op die gespesialiseerde aard van die plaasbestuurdersberoep. Hinterland is ook bevoorreg om die bekende besigheidsman en spreker, Brand Pretorius, as spreker by die geleentheid te hê.

Maak seker jy bespreek jou plek om teleurstelling te voorkom! RSVP voor of op 13 September by Martie van den Berg by epos vereeniging.verhoudingsasst@hinterland.co.za. Toegang is gratis, maar sitplek is beperk – so maak seker jy bespreek jou plek.