Die landbou-kleinhandelsomgewing was relatief konstant die afgelope ses jaar met baie min noemenswaardige veranderings. Elke landboumaatskappy wat ’n afdeling in die kleinhandel het, werk hard om uitdagings soos droogte, grondhervorming, ekonomiese veranderinge en klimaat te trotseer.

Die grootste verandering in die landbou-omgewing is waarskynlik die samesmelting van Senwes en AFGRI se kleinhandelbesighede.

Die begin van Hinterland

In 2013 het Senwes en AFGRI besluit om hul handelswinkels en groothandelaar te laat saamsmelt. Dit was die begin van Hinterland. Elk van die twee landboureuse besit ’n 50% aandeel in Hinterland. Die Town & Country- en Senwes Village-handelsmerke wat die onderskeie maatskappye se kleinhandel verteenwoordig het, het plek gemaak vir Hinterland, wat in Junie vanjaar sy sesde bestaansjaar vier.

Hinterland is geografies geposisioneer om die grootste deel van Suid-Afrika se somer-oesgebied te bedien, met 58 kleinhandeltakke in ses provinsies: Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat.

Meer as net ‘n kleinhandelaar

Dit is vir Hinterland belangrik om ’n beslissende rol te speel in dorpe en op die platteland, nie net in landbou-kleinhandel nie. “Omdat die platteland na aan ons hart lê, is dit vir ons belangrik om produkte en oplossings aan ons klante in hierdie streke te bied,” vertel Rupert Jacobs, bestuurder van korporatiewe bemarking en kleinhandelontwikkeling by Hinterland.

Hinterland het homself ook gevestig as meer as net ’n graan-insetverskaffer. Met die daarstelling van ’n vee- en besproeiingsafdeling, kan Hinterland ook meer volledige oplossings aan produsente bied ten opsigte van hul behoeftes rondom vee, teelprogramme, vee-opleidingsprogramme, en stelsel- en mikrobesproeiingsontwerpe.

Hinterland op die kassie

Sedert 2018 is Hinterland ook betrokke by die borg van pryse op die gewilde program, Landbouweekliks, op VIA TV. Weeklikse pryse ter waarde van R5 000 is op die spel. Tans is daar elke week R5 000 se Ruggedwear-klere wat gewen kan word. Hierdie baie gewilde klerereeks is in die Hinterland-winkels beskikbaar.

“Hinterland is ook die eerste landbouhandelsbesigheid wat hul eie TV-program, gemik op die nie-landbou-klant, op die been gebring het. Die program, In Hinterland, is vir twee seisoene in 2018/19 met baie groot sukses aangebied. Die program keer in Augustus terug na die kassie en sal op Donderdagoggende om 06:10 uitgesaai word,” verduidelik Jacobs.

Landbouborgskappe

Die afgelope drie jaar is Hinterland ook die hoofborg van die ALFA Interras-vleisbeeskampioenskap wat jaarliks in September by die Afridome op Parys aangebied word. Hinterland het homself hier as ’n groot rolspeler in die Suid-Afrikaanse veebedryf gevestig. Tydens die geleentheid kom die wenners van die verskillende streke in Suid-Afrika se vleisbeesinterraskompetisies bymekaar en die beste van die bestes word hier gekroon.

Die mees onlangse toevoeging tot Hinterland se bedrywighede is die borgskap van die Mamre Intensiewe Skaapboerdery-aksies. “Ons doel is om skaapproduksie op alle vlakke te innoveer deur inligting, opleiding, produkte en bestuurhulpmiddels te verskaf – van boere aan boere. Ons streef na welstand en die voorkoming van ongemak deur goeie voeding, gesondheid en geriewe,” sê Jacobs.

Hinterland is ook aanlyn beskikbaar

Op digitale gebied bedryf Hinterland al die afgelope drie jaar ’n aanlyn koopplatform waarop ’n wye reeks produkte gekoop kan word, met aflewering by jou posadres of by jou naaste Hinterland-tak. Besoek gerus shop.hinterland.co.za om van dié geleenthede gebruik te maak.

Vir meer inligting oor Hinterland en hul produkte, dienste en promosies, besoek gerus hul webwerf by www.hinterland.co.za. Jy kan ook Hinterland op Facebook, Twitter, Instagram en LinkedIn volg om op hoogte te bly van die jongste nuus.