Daar was groot fanfare tydens die 2018 ALFA galadinee toe 13 bulle en ses koeie as deelnemers aan die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskompetisie onder leiding van Skotse musiek en perkussie deur die dineetent geparadeer het. Die groot waarde en prag van dié diere is op skouspelagtige wyse hierdeur bevestig.

Verskeie interraskampioenskappe word jaarliks by streekskoue regoor die land gehou. Beide die manlike en vroulike interraswenners op dié skoue word dan uitgenooi na ALFA by die Afridome in Parys, waar die diere beoordeel word en die kampioen manlike en vroulike diere gekroon word.

Vanjaar se deelnemers is beoordeel deur Marius Nel, Derick le Roux, Willie de Jager, Jan de Jong en dr Tok Serfontein met Phillip Lee van Hinterland as ringgids. In sy bespreking van die diere het Willie de Jager gesê dat die vee werklik die room van die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf is en ‘n toonbeeld is van die uitstekende vleisbeestelers wat in Suid-Afrika boer.

Kampioene van kampioene

Na groot afwagting is die wenners uiteindelik by die galadinee aangekondig. Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeesbul is ACE BR 14-16 van die Santa-Ray Santa Gertrudis-stoet van Raymund de Villiers van Sannieshof. Die bul het by die Vryburg-skou gekwalifiseer. Dié kampioenbul het pas na die afloop van ALFA op die Santa-Ray produksieveiling vir ‘n nuwe rekordprys van R400 000 onder die hamer gekom. Die kopers was Desmond Robertson, Jacques Odendaal en Andy Fyvie.

Die Hinterland Nasionale Vleisbeesinterraskoei is Dipsie PJO 12-65 van ChrisMar Familietrust se Taaiboschspruit Simmentalerstoet van Lichtenburg. Sy het by beide die Lichtenburg-skou en Royal-skou gekwalifiseer. – Marike Brits, Veeplaas