Hartswater het weer ’n Hinterland-hartklop nadat ’n splinternuwe handelstak amptelik op Woensdag, 24 Julie sy deure vir die publiek in dié Noord-Kaapse dorp geopen het.

Die nuwe tak is op die hoek van DF Malan- en Phokwanistraat geopen met Hinterland se besturende direkteur, Daan Bronkhorst, asook Hartswater-takbestuurder, Johan Zietsman, wat die lintknipseremonie behartig het om die nuwe tuiste aan klante, verskaffers asook lede van die publiek bekend te stel.

Die amptelike opening in die nuwe stoor is op die ritme van sanger, Ricus Nel, se liedjies gevier. Die opening is geskoei op die idee om ’n tipiese plaasatmosfeer te skep, baie soos dié van die ou skuurdanse op die dorp. Daar is ook heerlik gesmul met ’n plaaslike spitman, Frederik van Zyl se Skaaptrein.

’n Warm verhaal met ’n goeie einde

Hierdie verhaal begin egter al op Sondagaand, 2 April 2017, so skuins na 18:15 met Zietsman wat ’n oproep van ‘n sekuriteitsmaatskappy ontvang, nadat ’n hele rits alarms afgegaan het. Hy het dadelik geweet daar is groot fout en binne twee minute was hy by die tak. Hy het die deur oopgeruk en met die rook klaar dik, afgekruip om die hoofskakelaar af te skakel. Toe hy weer buite kom, was daar reeds brandweerwaens en lede van die gemeenskap wat hulp aangebied het. Die vlamme kon eers om 23:00 in bedwang gebring word.

Twee maande en drie weke na die brand, is ’n tussentydse plan beraam om voorraad in te kry en ’n winkel is in een van die store naby die Senwes Grainlink Silo op Hartswater geskep. Hier was hulle van 23 Junie 2017 tot 26 Junie 2019 in ’n winkelarea van 320m² en stoor van 350m² gestasioneer, waarna hulle die laaste vragte na die nuut opgerigte tak vervoer het.

“Hierdie was werklik ’n toevlug gewees om die naam nog aan die gang te hou en klante te diens,” vertel Zietsman. Hoewel hulle erken dat dit frustrerend was en hulle ’n groot deel van die normale verkoopsyfer afgestaan het, het hulle geweet dat die ligging nie ’n permanente situasie was nie.

Spognuut én groter!

Die verkoopspasie in die afgebrande winkel was 390m² wat nou verdubbel is na 793m². Die winkel spog ook met ’n nuwe uitleg en verskillende kleure wat die verskillende afdelings voorstel, sowel as nuwe meubels. Die stoor is van 200m² vervyfdubbel na ’n aparte 1 000m² stoor, waar die openingsmakietie ook plaasgevind het.

Daar is nou meer as 30 omheinde parkeerplekke, 42 personeellede, waaronder 29 van Hinterland en 13 by Senwes Equipment, asook drie kassiere om die laaste stempel op besoekers se nuwe inkopie-ervaring te plaas.

Die wapen- en buitelewe-afdeling is ’n nuwe toevoeging tot die tak en beslaan ’n area van 157m² van die winkel. Dit het die heel beste veiligheidsprodukte wat ’n nuwe tegnologies gevorderde kluis asook video-geverifieerde alarms binne en buite behels, asook in- en uitgange binne ’n gereguleerde hok.

“As jy dit bou, gaan hulle kom. Ek is vol moed dat ons klante nou weer gaan terugkom met die vuurwapenafdeling wat selfs nog meer klante gaan lok, selfs die nuuskieriges,” vertel Zietsman. Hy gaan verseker nie op sy louere rus nie en werk tans aan verdere inisiatiewe wat gefokus is op klantediens. “Ek verkoop nie produkte nie; ek verkoop diens en naverkopediens. Deur dit alles word die leuse, ‘dit wat saak maak’, herontdek.” – Hinterland

Vir meer inligting oor Hinterland en hul produkte, dienste en promosies, besoek gerus hul webwerf by www.hinterland.co.za.