Hinterland is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar die naamborg van die Hinterland Nasionale Vleisbeesinterraskampioenskap, wat jaarliks tydens ALFA in Parys, Vrystaat aangebied word. Die eerste Hinterland Nasionale Vleisbeesinterraskampioenskap is in 2017 aangebied.

Hoe om te kwalifiseer

Die kampioenskap is die hoogtepunt van die ALFA vee-ekspo se interrasfokus en die belangrikste wyse waarop ALFA ondersteunend tot streeksveeskoue funksioneer. Diere kan nie vir die nasionale kampioenskap ingeskryf word nie, maar kwalifiseer by die verskillende interraskampioenskappe wat jaarliks by streekskoue regoor die land gehou word.

“Beide die manlike en vroulike interraswenners op dié skoue word dan uitgenooi na ALFA by die Afridome in Parys, waar die diere beoordeel word en die manlike en vroulike kampioendiere gekroon word,” verduidelik Phillip Lee, bestuurder van veeboerdery-oplossings by Hinterland.

Buiten die streekskoukwalifikasies is daar in 2018 vir die eerste keer ook ’n “wild card”-finalis te nooi. Lee verduidelik dat Hinterland as borg twee diere op grond van verdienste sal nooi om deel te neem aan die nasionale kampioenskap. Dit kan diere wees wat reserwekampioene by van die streekskoue was, maar steeds uitblink, of in die poel is saam met kampioene wat reeds by ander skoue gekwalifiseer het. So ’n manlike en vroulike finalis sal weer in 2019 genooi word.

Beste van die bestes in die ring

Die doel van die kampioenskap is om die bestes van die bestes in die land in een ring te laat meeding sodat die werklike kampioen van kampioene bepaal kan word. Dit, sê Lee, het baie waarde vir die veebedryf. “Nie net gee dit telers van regoor die land die geleentheid om hulle beeste met beeste van ander rasse uit ander streke te vergelyk nie, maar die mediadekking wat daaruit voortspruit is baie goeie bemarking vir beide die teler en die bedryf.”

Die volgende streekskoue sal vanjaar as kwalifiserende rondtes dien:

  • Vryburg-veeskou.
  • Lichtenburg-skou.
  • Standerton-skou.
  • Royal-skou.
  • Ellisras-skou.
  • Thabazimbi-skou.
  • Tzaneen-skou.
  • Warmbad-skou.
  • George-skou.
  • Moorreesburg-skou.

Daar sal deurlopend op www.agriorbit.com, sowel as Veeplaas en op Plaas Media en ALFA se sosiale media-platforms, berig word oor watter diere vir die kampioenskap gekwalifiseer het. Hou die hutsmerk #HinterlandInterras hiervoor dop. – Marike Brits, AgriOrbit

Klik hier om meer oor vorige jare se kampioene te lees.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here