Estimated reading time: 4 minutes

Die invloed van klimaatsverandering op veeteling is waarskynlik groter as wat ons besef. Baie navorsing moet nog gedoen word om die werklike impak van hittestres op vrylopende vleisbeeste te bepaal en oplossings te soek.

Aanpasbaarheid is belangrik

Leon Kruger, ’n veekundige aan die Universiteit van die Vrystaat, sê omgewingsfaktore het ’n groot invloed op ’n vrylopende vleisbees se gesondheid, produksie en reproduksie, maar diere het die vermoë om by hul omstandighede aan te pas. As hulle reg geteel is en voorsiening gemaak word vir beter omstandighede, behoort dié probleem nie so groot te wees nie.

“ ’n Aangepaste vleisbees in die veld, wat kan termoreguleer, meer water drink, langer in die skadu kan vertoef of beskutting kry teen gure weersomstandighede soos hitte, koue, reën of sneeu, sal sonder slag of stoot die uiterste weersomstandighede kan oorleef,” sê hy.

Prof Michiel Scholtz van die Landbounavorsingsraad doen baie navorsing op die invloed van aardverwarming en hittestres op vee. Volgens hom is hittestres ’n algemene oorsaak van reproduktiewe ondoeltreffendheid onder vee. Hy sê semengehalte verlaag wanneer bulle voortdurend aan hoë omgewingstemperature blootgestel word, en dit kan tot agt weke neem vir semengehalte om na normaal terug te keer.

Leon stem hiermee saam, maar hy glo as die omgewing sodanig ingerig is dat die dier toegelaat word om te termoreguleer, behoort hittestres nie ’n uitermatige invloed op die dier se produksie en reproduksie te hê nie. “Hoewel ’n mens nie veel kan doen aan die hoë temperature nie, kan die produsent wel die omstandighede vir die diere vergemaklik deur meer drinkwater en skadu beskikbaar te stel,” sê hy.

Hy voeg by dat koue ook ’n probleem kan raak. “Ek het gereeld navraag gekry van ’n bultoetssentrum waar die diere telkens met die winterkoue diarree en longinfeksies ontwikkel het, wat gekoppel was aan stresverwante siektes. In die somer was dit nie ’n probleem nie, want die diere kon termies reguleer in die somer, maar nie in die winter nie. So het hulle kouestres ontwikkel.”

Hitteverdraagsame rasse

Leon meen sekere beesrasse kan hitte beter as ander hanteer. Daar is al telkens bewys dat Nguni-beeste beter by uiterste warm streke aangepas is as die Europese rasse. Rasse wat uit Afrika-beeste ontwikkel is, soos die Afrikaner en Bonsmara, is gehard teen hitte en aardverwarming het nie so ’n hewige impak op hul produksie en reproduksie nie.

Prof Scholtz sê faktore wat verband hou met termiese gemak, soos die dikte, tekstuur, termo-isolasie, hitte-absorpsie en weerkaatsing van die dier se vel, help die Afrika-rasse om hittestres te hanteer.

Leon sê talle ander faktore maak dinge al hoe moeiliker. “Aardverwarming gaan uiteindelik meer peste en plae meebring. Voorheen het die koue winters die parasietbevolkings in toom gehou, maar nou begin parasiete al in die winter kop uitsteek. Die migrasie van onder andere die hartwaterbosluis en bloubosluis is ’n bewys hiervan. Boere moet nou al hoe meer en slimmer planne begin maak om diere aan die lewe te hou.”

Bestuursoplossings

Leon glo die beste verweer teen hittestres is om geleenthede te skep vir termoregulering. “Bring meer suipings aan sodat diere nie te ver hoef te loop om water te drink nie. Maak ook voorsiening vir skaduwee sodat die diere op die warmste deel van die dag onder die bome kan lê, en vroegdag of laatmiddag kan wei wanneer dit koeler is.”

Prof Scholtz sê omdat hitte bulle se vrugbaarheid beïnvloed, sal die ideaal wees om bulle vóór die dekseisoen koel te hou, maar dit is onprakties. Kommersiële beesboere moet eerder vrugbaarheidstoetse of semen-evaluasies aan die begin van die teelseisoen laat doen.

Hy stel voor dat vleisbeesboere van bulparings gebruik maak waar ’n klompie van die bulle wat gebruik word, meer hitteverdraagsame genotipes is. Dit sal voordelig wees om eerder van dié bulle te gebruik in jare waarvoor hoë temperature voorspel word.

Vir meer inligting, kontak Leon Kruger by 082 663 2664 of prof Michiel Scholtz by 082 807 4535.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene