Santam Landbou is ’n toegewyde sake-eenheid binne die Santam-familie, met landboumakelaars en die boerderygemeenskap as hul belangrikste fokus. As ’n betroubare vennoot in die landboubedryf, is een van Santam Landbou se doelwitte om stabiliteit en volhoubaarheid binne alle landboubedrywighede te waarborg.

Lees dit in Engels.

Kuilvoer is ’n integrale deel van die produsent se besigheid omdat dit die doeltreffendheid van die besigheid self verhoog en winsgewendheid stimuleer. Die uiteindelike doel is om produksie te verhoog deur die gehalte van voer te verbeter, met laer insetkoste en ’n minimale invloed op die omgewing.

Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie word in 2020 vir die sewende keer aangebied. Santam Landbou is sedert die ontstaan van die kompetisie die naamborg met die doel om vooruitgang en volhoubaarheid in die hele landbousektor te bevorder.

Die kompetisie was in 2019 veral taai en het gespog met ’n rekordgetal inskrywings en puntetellings wat die vorige jaar se prestasies oortref het. Westend Landgoed is wéér as kuilvoerkoning gekroon en het eerste plek in die mieliekuilvoerkategorie verower. Hurwitz Boerdery het die beste in die sorghumkategorie gevaar en De Draay het die eerste plek in die hawerkuilvoerkategorie behaal.

Die hele bedryf trek voordeel

Gerhard Diedericks, hoof van Santam Landbou, sê al die spesialiste wat deur die jare by die kompetisie betrokke was, soos die kuilvoerkundiges John Bax, prof Robin Meeske en Richardt Venter, het gehelp om die doeltreffendheidsvlakke van verskillende faktore soos verdigting en die snylengte van voerpartikels te bepaal.

“As ons die ongeveer nege miljoen ton kuilvoer wat jaarliks gemaak word met 3% verbeter, kan dit boere bykans R130 miljoen in verhoogde melk- en vleisproduksie in die sak bring, sonder dat die produksiekoste styg. Hierdie kompetisie bevoordeel die hele landbouwaardeketting deur boere se verkope te verhoog en deur meer waarde vir makelaars te ontsluit.

“Dit was vir ons ’n maklike besluit om die rol van hoofborg van die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie op te neem. Ons ondersteun ons kliënte in kernsake soos risikobestuur en help hulle om die belangrikheid van kuilvoer in hul produksieprosesse te besef en daardeur die gehalte en voedingswaarde van hul kuilvoer te verhoog, asook hul tegniese vaardighede uit te brei,” sê Diedericks.

Die kompetisie genereer nuttige data wat deur deelnemende ondernemings, boere en akademiese en navorsingsinstansies gebruik word. Dit word wetenskaplik aangebied, volg ’n internasionaal aanvaarde protokol en is spesifiek gemik op die kommersiële boerderysektor.

Werner le Roux, bestuurder van Westend Landgoed.

Westend Landgoed

Werner le Roux, bestuurder van Westend Landgoed, het vir die 2019 kompetisie ingeskryf en met ’n wentelling van 89,9 punte geëindig – 7,9 punte hoër as die wentotaal van 82 in 2018.

Die wenbunker is deur Kemin Industries ingeskryf. Dit was die derde agtereenvolgende jaar dat Westend Landgoed as die algehele wenner gekroon is.

Hanno Lombard, eienaar van Westend Landgoed, sê die kompetisie voeg enorme waarde tot die landboubedryf toe, aangesien kuilvoerproduksie ’n kritieke komponent van enige veeboerdery is. “Ons was aangenaam verras om weer in 2019 as die algehele wenner aangewys te word, want dit was ’n besonder uitdagende jaar vir ons. Al ons mielies wat vir die vervaardiging van kuilvoer geoes is, het haelskade opgedoen, maar ons kon steeds daarin slaag om bo uit te kom.”

Hurwitz Boerdery

Jarren Hurwitz van Hurwitz Boerdery het in die sorghumkategorie gewen met ’n silosak wat deur Budissa Agroserve ingeskryf is.

Volgens Jarren lê die belangrikheid van die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie in die fokus op die verbetering van kuilvoerproduksiepraktyke. “Kuilvoer is ’n kritieke voedingsbron in diereproduksie en dit is meer wetenskaplik as om bloot plante op te kap en te vertrap. Deur ons kuilvoerproduksiebedryf te verbeter en uit te brei, kan ons hoër winsgewendheid en volhoubaarheid bereik. Dit sal ons in staat stel om landbouproduksie op te skerp en uiteindelik voedselsekerheid in die land te bevorder,” verduidelik Jarren.

Jarren Hurwitz van Hurwitz Boerdery.

Hoë-gehalte kuilvoer

Jarren sê dat gehalte kuilvoer gewoonlik verkry word indien al die kritieke faktore in ag geneem word. “Eerstens moet jy sorg dat die snystadium korrek is ten opsigte van droëmateriaal en vogvlakke. Ek verkies droër kuilvoer van ongeveer 40 tot 45% droëmateriaal. Verder moet die sny- en vervoertoerusting van hoë gehalte wees om te verseker dat inokulante, kaplengtes, die kraak van die koring en so meer akkuraat toegepas word en dat die gekapte materiaal vinnig en doeltreffend vervoer word.

“Die volgende, en moontlik die mees kritieke stap om kuilvoer van hoë gehalte te produseer, is die inkuilingsproses self, wat volgens my die beste in silosakke is omdat dit die gekapte materiaal vinnig in ’n anaërobiese toestand plaas, met so min as moontlik besoedeling. Daar is geen beter hulpmiddel om die risiko’s in die proses te temper vir suksesvolle inkuiling nie.”

Jarren glo kuilvoer is van hoë gehalte wanneer die persentasie droëmateriaal op die verkose vlakke is, die materiaal volledig en reëlmatig gekap en verwerk is, die kuilvoer se pH-balans binne die korrekte variasiewydte is en die verskillende suurvlakke op die korrekte vlakke is. “Dit dui op doeltreffende bewaring waar daar lae vlakke van mikroörganismes in die vorm van gis, skimmel en mikotoksiene in die kuilvoer voorkom.

“ ’n Lae kuilvoertemperatuur is ook van kardinale belang. Weereens word dit die beste gehandhaaf met silosakke vanweë die vinnige uitskakeling van suurstof- en omgewingsmikroörganismes wat die energie en voedingswaarde erodeer,” voeg hy by.

Waardevolle lesse

Jarren vertel dat hulle tydens elke jaar se kompetisie hul kuilvoermonsters met al die kuilvoerinskrywings in die sorghumkategorie kan vergelyk, om sodoende die standaard van inskrywings te evalueer en vas te stel hoe hulle hul eie kuilvoer kan verbeter. “Elke seisoen bied sy eie uitdagings, waardeur kennis met wetenskaplike data en ervaring uitgebrei kan word om toekomstige kuilvoerproduksietegnieke te verbeter.

“Ons gebruik kuilvoer breedvoerig in ons beesvoerkraalrantsoene en gebruik dit as kritieke winteraanvulling vir ons teel- en kommersiële beeste. Dit is ’n uiters belangrike komponent van ons voedingsreserwe- en voervloeistelsels,” verduidelik hy.

Jarren voeg by dat die kompetisie hulle oor die jare baie geleer het en heelwat tot hul vaardighede bygedra het. “Die kuilvoerkompetisie het beslis ’n rol gespeel om ons te help om kuilvoer van hoë gehalte te maak, vir ons eie gebruik op die plaas sowel as vir kliënte deur ons kontrakteringsafdeling,” sluit hy af.

De Draay

Awie Erasmus van De Draay het in die hawerkuilvoerkategorie gewen met ’n bunker wat deur Meadow Feeds Paarl ingeskryf is. Volgens hom is die proses van inkuiling noodsaaklik en moet daar streng by die regte prosesse gehou word, sodat bederf so min as moontlik plaasvind. Daar moet ook by die regte snylengte van die plant gehou word en die kuilvoer moet vinnig na die bunker vervoer word ná oes.

Marize and Awie Erasmus van De Draay.

“Een van die belangrikste aspekte om kuilvoer van ’n hoë gehalte te verseker, is die bemeestering van kuilvoerkompaksie. Hoe beter die verdigting, hoe beter die gehalte. Die kuilvoerbunker moet lugdig wees om die kanse dat suurstof jou ruvoer kan bederf, uit te skakel,” verduidelik hy.

Volgens Awie is die doel van die kompetisie om verskillende aspekte van kuilvoerproduksie krities te evalueer. “Verskillende komponente van die proses word vergelyk, waardeur regstelling en verbetering moontlik gemaak word, tot voordeel van die volgende seisoen se kuilvoer.

“Na die evaluasie het ons die inligting wat uit ons eie resultate verkry is, gebruik om ons rantsoene aan te pas. Ons diere kry nou die voedingswaarde wat hulle nodig het. Dit help ons ook om meer kostedoeltreffend te boer, wat ons meer volhoubaar en mededingend maak,” voeg hy by.

Hoe belangrik is kuilvoer?

Awie sê dat hoë-gehalte kuilvoer een van die belangrikste voedingsbronne in die melkboerderybedryf is. “As al die regte prosesse gevolg word, kan jy ’n hoë-energie ruvoer teen ’n relatiewe lae prys kry. Die grootmaak van verse kan duur wees en daarom maak ons staat op kostedoeltreffende produksie om ons uitgawes hanteerbaar te hou.

“Deur kuilvoer van hoë gehalte in bunkers te vervaardig en te berg, kan die risiko om later meer voer in droër seisoene in te koop, doeltreffend verminder word. Dit het weer ’n direkte invloed op die winsgewendheid van die boerdery,” sluit hy af.

Risiko- en korttermynversekering

Volgens Santam Landbou kan al die toerusting wat in kuilvoerproduksie gebruik word, soos trekkers, harke, sleepwaens, kuilvoerkerwers en balers, verseker word. Die verseëling van die kuilvoer is ook een van die kernaspekte van suksesvolle kuilvoerproduksie. Daarom is betroubare en kostedoeltreffende plastiekseile of silosakke iets waarin boere kan belê en wat ook verseker kan word.

Dis belangrik om te onthou dat kuilvoerbunkers en -hope ook aanspreeklikheidsdekking of ongeluksversekering vereis, aangesien dit gevaarlik is om op en in dit te werk. – Claudi Nortjé, namens Santam Landbou

Vir meer inligting en om aan die 2020-kompetisie deel te neem, stuur ’n e-pos aan deidre@plaasmedia.co.za. Inskrywings vir wintergrane het reeds gesluit en inskrywings vir somergrane sal tot 15 Mei aanvaar word. Vir meer inligting oor landbouversekering, skakel Santam Landbou by 086 024 7400 of besoek www.santam.co.za.