boorgate
Waar ysterbakterieë by boorgate teenwoordig is, het die pype ’n rooi aanpaksel.

Boorgatwater kan soms ’n eienaardige voorkoms hê wat grondeienaars laat kopkrap, en in baie gevalle is ysterbakterieë die sondebok.

In dele van die Oos-Kaap ondervind boorgatgebruikers dikwels dat die water ’n rooierige kleur asook ’n slymerige voorkoms het. Boorgatlewering neem ook af, hoewel die reënval dieselfde bly. Wanneer die boorgatpomp dan uitgetrek word, is dit bedek met harde, rooierige aanpaksels. Toetse op dié water het bevind dat ysterbakterieë in die grondwater teenwoordig was en, alhoewel dit steeds drinkbaar is, beperk die feit dat dit rooi verkleur, die gebruik daarvan.

Ysterbakterieë bind enige opgeloste yster of mangaan met suurstof en vorm ’n onopgeloste ferri-ysterverbinding wat aanpaksels en ’n slegte reuk veroorsaak. Oor tyd kan dit die boorgat se voerings verstop, wat die lewering sal laat afneem omrede die grondwater nie meer so vrylik kan invloei nie. Dit kan ook blokkasies binne die verspreidingstelsel veroorsaak.

Bakterie-gunstige toestande

Die beskikbaarheid van opgeloste yster (in die grondwater) en genoeg suurstof (lug) skep die ideale omgewing vir die groei en verspreiding van ysterbakterieë. Sonder suurstof kan die bakterieë nie vorm, groei of vermeerder nie. Wanneer ’n boorgat dus gepomp word en die watervlak daal, kry gedeeltes van die akwifeer en boorgat suurstof. Hoe groter die daling in die watervlak, hoe groter die area wat suurstofblootstelling kry en waar ysterbakterieë kan vorm en vermeerder.

Soos wat die boorgat se watervlakke daal en weer herstel, groei die ysterbakterieë stelselmatig en verstop dit die boorgatvoering asook die frakture in die akwifeer vanwaar die water onttrek word. Gevolglik word die water al rooier en daal die boorgatlewering al meer. Die water kan ook heeltemal ‘opdroog’ as gevolg van die ysterbakterieë – al is daar eintlik genoeg water in die akwifeer, kan dit nie na die boorgat deurkom nie.  

Behandeling van besmette boorgate

In sulke ernstige gevalle moet die boorgat skoongemaak word deur ’n proses van chemiese (bv. suur) en meganiese (bv. staalborsel) behandeling. Indien die akwifeer besmet is, sal die boorgat vir twee tot drie jaar in onbruik moet bly sodat die bakterieë kan sterf as gevolg van die gebrek aan suurstof. Die verstoppings kan egter blywend wees.

Die probleem moet dus vroeg raakgesien en behandel word. Onttrekkings uit geaffekteerde boorgate moet streng beheer word en die watervlakke (staties sowel as dinamiese watervlakke) moet gemonitor word om dalings in die watervlakke te verhoed. Invloeiberekeninge moet gedoen word om te sorg dat die watervlakke verkieslik op dieselfde vlak stabiliseer – met ander woorde: invloei = onttrekking.

Hierdie rooierige aanpaksel is die eerste tekens van ’n ysterbakterieprobleem. Omdat dit die boorgat kan verstop, is dit noodsaaklik om die boorgat so gou as moontlik te behandel.

Navorsing dui daarop dat ysterbakterieë kan groei en skade veroorsaak indien die opgeloste yster meer as 0,1mg/ℓ is. Opgeloste suurstof moet meer as 0,3ppm wees.  

Alhoewel ysterbakterieë meer geneig is om op die oppervlak (in die grond) voor te kom, kan dit natuurlik in die grondwater beland tydens boorwerk, pomptoetse en pompinstandhouding, indien hierdie prosesse nie gepaardgaan met die ontsmetting van die boorgat nie. Tydens boorwerk is daar heelwat aksie rondom die boorgat. Daar word stange op die grond gesit of dit kan met die grond in aanraking kom tydens boorwerk.

Riglyne vir ontsmetting

Die Departement van Waterwese bepaal dat boorgate direk ná boorwerk ontsmet moet word. Die spesifieke inhoud- en mengverhoudings word deur die departement aanbeveel, maar die ontsmettingsmiddel is basies ’n chlooroplossing wat in die boorgat gegooi word nadat die boorgat voltooi is (soos met skokbehandeling vir swembaddens). Daar kan egter nie sommer enige chlooroplossing gebruik word nie; verwys na die departement se riglyne of raadpleeg ’n geohidroloog.

Dieselfde word gedoen wanneer die boorgat getoets word. Indien die toetswerk direk ná die boorwerk volg, hoef die boorgat slegs weer die chlooroplossing te kry wanneer die toets voltooi is. Indien die boorgat lank reeds bestaan, moet die toetskontrakteur die chlooroplossing ingooi voor én na die toets.

Vir meer inligting, skakel Gert Nel by 083 281 0056. – Gert Nel, geohidroloog, SRK Consulting