Beeste word met ’n elektriese draad beheer om net ’n strook van die gras te bewei. In dié proses vreet hulle die gras skoon af en vreet nie selektief nie. Foto: Hennie du Toit.

Weiveld wat vreetbare grasse optimaal en volhoubaar produseer, is die sleutel tot welslae vir veeboere. Hoëdrukbeweiding wat reg toegepas word, maak dit moontlik om dié doelwit te bereik deurdat dit die weiveld verbeter, die drakrag stelselmatig verbeter en vleisproduksie per hektaar verhoog.

Die geykte uitdrukking lui dat ’n veeboer eintlik ’n grasboer is, maar dié begrip word verder verfyn met die stelsel deurdat die grondstruktuur verbeter, voghouvermoë opgestoot word, dit die omgewing vir mikrobes gunstiger maak en uiteindelik die weigehalte van grasse ook verbeter.

Die beginsels van doeltreffende weiveldbestuur is in die Namibiese Weiveldbestuursbeleid saamgevat as:

  • Ken jou hulpbronbasis.
  • Bestuur vir voldoende rus van die plante.
  • Bestuur vir die optimale benutting van plante.
  • Verbeter die grondtoestand.
  • Beheer bosindringing.
  • Beplan vir droogtes.
  • Moniteer die hulpbronbasis.
  • Beplan die infrastruktuur om by die hulpbronbenutting aan te sluit.

Doeltreffende weidingsbestuur

Bertus Kruger, ’n weidingkundige by die African Game Ranchers Association (AGRA), sê hierdie beginsels is oor ’n tydperk van vier jaar ontwikkel. “Die groot uitdaging is hoe hierdie beginsels onder verskillende situasies op die grond toegepas behoort te word. In Namibië word die toepassing van enige weidingstelsel wat bogenoemde beginsels toepas, aangemoedig. Die einddoel is om die natuurlike weidings, die goedkoopste hulpbron vir beesboere in die land, te verbeter en volhoubaar in stand te hou.

“Die stelsel van hoëdruk- en ultra-hoëdrukbeweiding is deur wetenskaplikes en weidingkundiges in verskillende dele van die wêreld ontwikkel. Dit is gegrond op die manier waarop die natuur weiding beskerm en die struktuur van die grond waarop die weigewasse groei, verbeter.

“Hulle het oor baie jare gesien dat wild weidings op ’n spesifieke manier benut en dat die grond waarop die gras op die vlaktes groei, besonder vrugbaar is. Die diere wei in groot troppe, vertoef nie lank op dieselfde plek nie en vreet nie noodwendig selektief nie. Met hoëdrukbeweiding word dieselfde patroon afgedwing deurdat ’n groot trop vee vir ’n dag of drie in ’n relatiewe klein kamp al die weidingspesies benut en dan na ’n volgende kamp verskuif word.”

So lyk die veld waar ultra-hoëdrukbeweiding toegepas is en groot getalle diere op ’n klein stukkie veld gewei het. (Foto’s verskaf deur Hennie du Toit)

Verbetering van weiveld

Wetenskaplikes is dit eens dat dié weidingstelsel die weiveld, grondstruktuur en vleisproduksie per hektaar kan verbeter, maar dat dit beslis ook goeie bestuursvaardighede verg.

Hennie du Toit, ’n veekundige by die diereproduksie-afdeling van Obaro, sê in die lig van die stygende vraag na voedsel as gevolg van ’n groeiende wêreldbevolking is dit noodsaaklik dat boere hul weidingstrategieë verander om weidingsgewasse doeltreffender te benut en terselfdertyd die hulpbronne te bewaar en te verbeter.

Nuwe tegnologie is beskikbaar om ’n plaas se drakrag met tot 600% te verhoog en terselfdertyd die grondstruktuur en gehalte van die weiding te verbeter.

Fisiologie van plantwortels

Hoëdrukbeweiding (klein kampe) en ultra-hoëdrukbeweiding (stroke in kampe) is van die beweidingstelsels wat boere in staat kan stel om dié doelwit te bereik. Om te verstaan hoe dit werk, moet ’n mens die fisiologie van plantwortels ken.

Hennie sê plantwortels is die skuur waarin voedselreserwes vir die plant geberg word, wat die plant gebruik vir hergroei nadat dit afgewei is. “As ’n plant baie kort afgewei is, onttrek dit meer reserwes om weer blare te produseer en is die hergroei stadiger. Namate meer blare vorm, word voedselreserwes vir berging weer na die wortels gevoer.

“As die hergroei benut word voordat reserwes weer na die wortels gekanaliseer is, word nog meer reserwes onttrek. As dit aanhoudend gebeur, raak die wortelmassa en die plant kleiner en neem die grasproduksie af. Die smaaklike en gewenste spesies sal begin uitsterf weens oorbenutting, die drakrag sal daal en veeproduksie raak onvolhoubaar. Die plantbedekking raak skraler, die waterafloop verhoog, vogindringing verlaag en die grondstruktuur verswak.”

Genoegsame hergroei

Hoëdruk- en ultra-hoëdrukbeweiding werk dié nadelige prosesse teë. Die kort beweidingstye en lang tye wat die gras kan rus, gee kans vir genoeg hergroei sodat wortelreserwes weer opgebou kan word.

Hoëdrukbeweiding behels dat groot troppe diere in een kamp ingejaag word om die weiding binne twaalf tot 14 dae af te vreet voordat hulle na ’n nuwe kamp verskuif word. Dit word algemeen aanvaar dat die kampgrootte hoogstens 20% van die tropgrootte moet wees. As daar 100 diere in die trop is, behoort die kamp nie groter as 20ha te wees nie.

As meer diere beskikbaar of die kampe nog kleiner is, gaan die boer na ultra-hoëdrukbeweiding oor, waar die diere hoogstens ’n dag in die kamp gehou word of waar stroke weiding met behulp van elektriese drade beskikbaar gestel word, wat die diere binne ’n uur of twee sal afwei.

Met hoëdrukbeweiding trap die diere die grondkors los en organiese materiaal in, en ’n voordelige saadbed word geskep sodat nuwe grasplante kan ontkiem en groei. (Foto’s verskaf deur Hennie du Toit)

Onsmaaklike spesies

Aangesien die diere in dié stelsels ook die onsmaaklike spesies benut, sal dit heelwat langer duur om dieselfde kamp weer te benut. Hennie sê die oogmerk behoort te wees dat die swakste veld vir ’n hele groeiseisoen nie bewei word nie, maar dit moet in die winter behoorlik afgevreet word.

“Die grasse se wortels sal vinnig begin herstel en soos wat die voedselreserwes toeneem, sal die wortelstelsels groter en sterker word om meer voedselreserwes te kan berg. Die grasproduksie en spesiesamestelling sal ook vinnig verbeter, wat die drakrag sal verhoog.

“Die groot getalle diere, tot soveel as die ekwivalent van 5 000 diere per hektaar, trap die bolaag van die grond los en ou graspolle fyn. Die gevolg hiervan is dat die harde kors wat waterafloop bevorder en waterindringing bemoeilik, losgebreek word. Die los bogrond laat water toe om beter in te dring en die grond word ook deurlug, wat baie voordelig is. Onbenutte gras word fyngetrap.

“Met die konsentrasie van mis en urine, saam met die fyngetrapte gras, word organiese materiaal in die grond teruggesit en skep dit ’n ideale omgewing vir die mikrobes, wat in die boonste lagie “gesonde” grond voorkom en noodsaaklik is om die plante goed te laat groei. ’n Uitstekende saadbed word gevorm en waar baie grassade voorkom, is die toestande vir ontkieming in die nuwe groeiseisoen uitstekend sodat nuwe plante op kaal kolle kan groei,” verduidelik hy.

Hoër grasproduksie en drakrag

Hoe dikker hierdie vrugbare laag op die bogrond is, hoë hoër sal die veld se grasproduksie wees en hoe hoër sal die drakrag word. Die invloed van ondergemiddelde reënval sal ook kleiner wees op sulke vrugbare grond.

Soos wat die weiding verbeter, verbeter die drakrag ook aansienlik en kan meer diere op dieselfde plaas aangehou word. In sekere gebiede is dit moontlik om uiteindelik ’n drakrag van een grootvee-eenheid per hektaar te bewerkstellig.

Die implementering van so ’n weidingstelsel sal egter van plaas tot plaas verskil en word beïnvloed deur die plaasuitleg, hoeveel geld beskikbaar is, hoeveel teelkoeie aangehou word en ander faktore wat nie dieselfde op elke plaas is nie.

Vir meer inligting, kontak Bertus Kruger by +264 61 290 9354 of bertusk@agra.com.na, en Hennie du Toit by 084 515 6817 of henniedt@obaro.co.za. –Andries Gouws, Veeplaas