Delareyville
Die span by NWK se Delareyville silo.

Die Delareyville-silo is einde 2017 as NWK se silo van die jaar aangewys. Dié toekenning word gemaak op grond van ’n silo se bestuur van die graanvoorraad, veiligheidsvlak van die perseel, akkuraatheid van oesskattings, tonne hanteer, kapasiteitbenutting, netto wins per ton, administrasie, netheid van die perseel asook die manier waarop innoverend oor die bedryf gedink word.

Volgens Jaco Botha, bestuurder silodienste by NWK, het die Delayreyville-silo uitstaande in al die kriteria presteer. “Die feit dat die silo se bestuur dit regkry om in alle opsigte goed te presteer, is wat dit die beste silo maak. ’n Aspek wat veral uitstaan is die bestuur van graanvoorraad, dit is ’n baie belangrike maatstaf, aangesien dit toegevoegde waarde genereer.”

Hoekom is dit so belangrik dat silos goed bestuur word? Botha sê goedbestuurde silo’s in die graanbedryf verseker dat die gehalte van graan wat aan die mark gelewer word van hoogstaande gehalte is. “Die waarde van hoë gehalte graan moet nie onderskat word nie en die feit dat Suid-Afrika goeie silo’s het waar hoë graangehalte deur goeie bestuur verseker word, is een van die bedryf se grootste bates.”

Met winsgrense wat al hoe kleiner word en geldsake wat al hoe fyner bestuur moet word, is ’n goedbestuurde silo ook belangrik om die winsgewendheidsdoelwitte van die onderneming te behaal.

Deur die bank goed

Johann van der Walt, bestuurder van NWK se Delareyville-silo, sê dit is baie belangrik dat aan absoluut alle aspekte van die silo en sy rol aandag gegee word vir goeie resultate. “Jy moet goed presteer in al die kriteria wat genoem word. Die grootste fout is om een aspek af te skeep terwyl ander goed bestuur word.”

Een van die grootste uitdagings vir silobestuurders, sê Van der Walt, is dat die graanhanteringsbedryf voortdurend verander. “Daarom is dit belangrik dat ons altyd die voortou moet neem met innoverende denke.” – Marike Brits, AgriOrbit