Die pluimveebedryf het ’n uitdagende 2018 agter die blad en te midde van die kwessie van goedkoper hoender-invoere vanuit Brasilië, meen kenners die bedryf se stryd is nog lank nie verby nie. Marthinus Stander van Country Bird Holdings het onlangs op Grootplaas hieroor gesels.

Soos ons weet is plaaslike braaihoenderprodusente onder druk weens die invoer van goedkoper Brasiliaanse hoender. Hierdie invoere het ook ’n invloed op ander landboubedrywe gehad, aangesien daar minder mielies en soja as voer verbruik word. Daar is dus baie geleenthede wat verbeur word.

Die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging het ’n invoertarief van 82% op bevrore hoender versoek. Volgens Stander word dit nou deur ITAC (International Trade Administration Commission) ondersoek. “Tot dusver verloop die proses goed. Dit is ’n baie volledige proses so ons is vol hoop dat dit vrugte kan afwerp,” sê hy.

Volgens Stander was 2018 ’n goeie jaar in die sin dat mielies en sojabone geredelik beskikbaar was en die wêreldmark baie goed was. “Ons grootste risiko en die faktor wat die grootste impak mag hê, is die storting van hoender in die plaaslike mark.

“Ek is stilweg optimisties oor 2019. Ons is besig om ’n meesterplan saam te stel in samewerking met die Departement van Handel en Nywerheid, en ek dink daar is uitstekende geleenthede vir die bedryf om aan die land se vraag te voldoen.”

Transformasie is hoog op die agenda. Indien die storting aangespreek kan word, kan die bedryf vir elke 10 000 ton wat gestort is, 30 000 plaaslike werksgeleenthede skep en baie produsente op grondvlak help ontwikkel. Hierdie transformasie vorm deel van ’n volhoubare model wat voedselsekerheid kan bevorder en aan voedselveiligheidsvereistes kan voldoen, meen Stander. Hy meen ook dat dit ekonomiese groei in die proses sal bewerkstellig.  – Elmarie Helberg, Grootplaas