’n Charolaiskudde wat uit tien jong verse bestaan, het in 2017 nuwe huisvesting by Hoërskool Stella gevind. Een van die skool se landbou-onderwysers, Julian Fincham, het dit goedgedink om ’n liefde vir landbou onder die leerlinge te kweek deur die praktiese landbou-onderrig te verbeter. Gevolglik is die Sterland Charolaiskudde, wat deel is van die Veeplaas Skole-kuddeprojek, deur die Charolais Beestelersgenoontskap van Suid-Afrika aan die skool geskenk.

Dié gekombineerde skool vier vanjaar sy 101ste bestaansjaar en spog met sowat 350 hoërskool- en laerskoolleerlinge. Julian bied landboubestuurspraktyke as vak aan. Hy sê dat die skool grootliks staatmaak op jeugskoue om die leerlinge aan nuwe diere en bestuurspraktyke bekend te stel.

Deelname aan kompetisies

“Alle leerlinge word aangemoedig om beeste, skape, bokke, hoenders en selfs duiwe tydens jeugskoue te vertoon. Die skool bied landbou ook as ’n studierigting aan. Dit stel leerlinge in staat om ’n soliede grondslag in praktiese landboukennis te kry. Dit sal ook verdere tersiêre opleiding in die landboubedryf ondersteun,” vertel hy.

Vier leerlinge van die skool, Pieter Badenhorst, AJ Fincham, Danel Gresse en Johlene Harris, het ALFA 2018 saam met Julian aangepak. Hulle het aan verskeie kompetisies, soos die Voermol Jeugskou en Zoetis Junior Interraskampioenskap, deelgeneem. Hoërskool Stella beplan om in 2020 weer ernstig skouer aan die wiel te sit as dit kom by die vertoning van hul Charolaiskudde.

Praktiese ervaring

Aktiwiteite soos die inenting, dip, brandmerk, dragtigheidsondersoeke en weeg van diere stel die leerlinge in staat om praktiese ervaring op te doen. Dit verbreed ook hul algemene kennis oor produksiediere en die hantering van beeste.

“Die graad 10-leerlinge leer hoe om ’n bees in te spuit en teen verskeie siektes te ent. Die graad 11-leerlinge kry meer blootstelling aan voeding en versorging. Die graad 12-leerlinge fokus veral op waardetoevoeging en die bestuur van ’n kudde,” verduidelik Julian.

Kinders van alle agtergronde baat by die Veeplaas Skole-kuddeprojek omdat dit indirek bydra tot suksesvolle universiteitsaansoeke en ’n beroep in die landbousektor aanmoedig. “Kinders wat van die platteland afkomstig is, keer dikwels ná hul skooljare terug plaas toe. Alternatiewelik jaag hulle ’n loopbaan in die landboubedryf na as gevolg van ’n nuut-ontdekte passie hiervoor tydens hul skooljare,” sê hy.

Een nuwe kalfie het reeds in die kudde aangekom.

Genootskap se betrokkenheid

Die Charolais Beestelersgenoontskap staan Hoërskool Stella by met leiding en raad. Dit stel die leerlinge in staat om die beeste self te versorg.

Freddie Wasserfall, president van die Charolais Beestelersgenootskap, boer met Charolaisbeeste naby Dewetsdorp en besit tans twee stoeterye. Sy eie Charolaisstoet bestaan uit 150 geregistreerde koeie. Hulle word jaarliks tydens produksieveilings vertoon en vorm ook deel van ’n kruisteelprogram.

Unieke Franse beesras

Volgens Freddie is die Charolais ’n unieke Franse beesras wat ver verwyderd is van ander rasse in terme van genetika. “Die Charolais is baie gewild in voerkrale en word ook dikwels in kruisings gebruik. Voerkrale is bereid om ’n premie te betaal vir Charolaiskalwers. Hulle is meer kostedoeltreffend omdat hulle nie vinnig vet aanpak nie. Die Charolais toon ook goeie basterkrag,” sê hy.

Die Charolais Beestelersgenootskap het in 2017 by Hoërskool Stella betrokke geraak nadat Plaas Media hulle met die Veeplaas Skole-kuddeprojek genader het. “Ons het besluit om by Hoërskool Stella betrokke te raak omdat die skool in die Noordwes-provinsie geleë is. Dit is ’n baie gewilde gebied vir Charolaisbeeste. Ons wou ook die geleentheid aangryp om jong kinders aan die Charolais-ras bekend te stel,” sê Freddie. – Claudi Nortjé, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Julian Fincham by 082 682 9781 of julianfincham@gmail.com, skakel Hoërskool Stella by 053 983 0021, skakel die Charolais Beestelersgenootskap by 051 410 0953 of besoek die webtuiste www.charolais.co.za.