Veilingsentrum
Die nuwe Hoëveld Veilingsentrum bied wêreldklasfasiliteite.

Die nuwe Hoëveld Veilingsentrum in die Standerton-omgewing bring hoop vir die streek se veeboere. Die onlangse opening van die veilingsentrum bring saam met die lente ook ’n nuwe begin vir die vleis- en wolbedryf in die Hoëveld.

Frik Verster, bekende afslaer en medestigter van die veilingsentrum, het gesê dat daar al ’n geruime tyd nie goeie fasiliteite in die streek beskikbaar was om veilings te hou nie.

“Met hierdie wêreldklasveilingsfasiliteite hoop ons om weer die landbougemeenskap en ekonomie in die omgewing ’n hupstoot te gee,” het Frik genoem. Hy het gesê die omgewing het ’n ryk geskiedenis in die veilingsbedryf en hy hoop dat die nuwe fasiliteite weer die gemeenskap bymekaar sal bring, soos dit reeds sedert die 50’s doen.

Die eerste weeklikse veiling is gehou ná die opening van die Hoëveld Veilingsentrum. Osse, speelkalwers en ander groepe diere is verkoop.

’n Beter markplek vir boere

“Die kompetisie is goed so produsente kry die beste prys,” het Frik gesê. “Dit kan ook weer ’n bymekaarkom-plek wees vir boere en hul vroue wat tradisioneel elke Vrydag Standerton toe gekom het vir die veiling. Hierdie tradisie het weggeraak omdat die vorige fasiliteite nie onderhou was nie. Nou kan die gemeenskap weer saamkuier rondom die veilingsring en kan ook ’n ete by die restaurant geniet.”

Veilingsentrum
Van links is Jacobus le Roux, hoofbestuurder: korporatiewe bemarking en openbare betrekking, BKB, Johan Stumpf, besturende direkteur, BKB Groep, en dr Cobus Oberholster, hoofbestuurder: lewendehawe, eiendomme en afslaerdienste, BKB.

Dr Cobus Oberholster, hoofbestuurder: lewendehawe, eiendomme en afslaersdienste by BKB, meen die Hoëveld is juis ’n goeie omgewing vir so ’n veilingsentrum omdat dié streek bekend is vir vee- en veral beesboerdery. Die sektor speel ’n belangrike rol in die landelike ekonomie, en volgens Frik is die sentrum gebou om te verseker dat veeboere toegang tot ’n beter markplek het.

’n Wêreldklasfasiliteit

Wat die sentrum besonders maak is dat medestigters, BKB, die fasiliteit deel met Vleissentraal en OVK. Sodoende bring die veilingsentrum vir alle veilingshuise in die omgewing nuwe geleenthede om besigheid te doen én kostes te bespaar.

Na die opening het die eerste weeklikse veiling by die sentrum plaasgevind. Vier veilings is gelyktydig aangebied met afslaers van OVK, Vleissentraal, BKB van Wyk en BKB Louwid wat in hul eie veilingsring beeste verkoop het.

Johan Stumpf, besturende direkteur van die BKB Groep, het tydens die opening met Veeplaas gesels en gesê dat baie mense seker wonder hoekom BKB gedurende die tyd steeds in bates in Suid-Afrika belê. Hy het gesê dat agri-besighede en boerderye fasiliteite moet hê om die gemeenskap welvarend te hou. Dus is dit nie net ’n strategiese belegging nie, maar die verhandeling van vee moet aan die lewe gehou word. – Ursula Human, Veeplaas

Kyk ook na hierdie Plaas TV-episode om meer te leer oor dié fasiliteit.