Een van die kenmerkende simptome van hondsdolheid in ’n hond, is speeksel wat uit die bek drup. (Foto: missionrabies.com)

Hondsdolheid is die oudste siekte wat deur ’n virus veroorsaak word wat in die mediese wetenskap aangeteken is, maar ten spyte hiervan, is daar steeds geen suksesvolle behandeling vir dié siekte nie. Jaarliks sterf tussen 45 000 en 50 000 mense wêreldwyd as gevolg van hondsdolheid, en hiervan is sowat 28 000 uit Afrika.

Een van die gevalle wat verlede jaar in Julie voorgekom het, was die skielike dood van die sesjarige Carlie du Plessis van Clocolan. Haar pa, Johan du Plessis, vertel dat Carlie die Vrydagoggend klaerig was. Volgens die dokter het haar simptome soos die begin van griep gelyk, maar dié pragtige klein dogtertjie is die Sondagoggend in die hospitaal opgeneem en is dieselfde aand oorlede.

Johan sê alles het so vinnig gebeur dat hulle nie kon glo die siekte is so ernstig nie. Die dokters het ook eers met ’n nadoodse ondersoek vasgestel dat sy hondsdolheid opgedoen het. Johan sê die nuus dat sy hondsdolheid gehad het, is vir hulle baie vreemd omdat hulle nie kon agterkom waar sy dié virus gekry het nie.

’n Wisselende inkubasietydperk

Dr Paul van Dam, ’n veearts en bestuurder van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, sê die inkubasietydperk wat verloop vandat ’n persoon deur ’n dier wat met hondsdolheid besmet is gebyt is tot die simptome verskyn, wissel geweldig.

“Diep bytwonde rondom die kop en nek van die persoon lei tot simptome binne twee weke ná die byt, maar dit kan tot 90 dae duur voordat enige simptome verskyn ná bytwonde elders op die liggaam.”

Dr Chanel Lombard, ’n staatsveearts op Prieska, sê die simptome kan baie verwarrend wees aangesien die virus baie ander siektes na-aap. Die virus kan boonop oorgedra word voordat die dier kliniese tekens begin toon.

Sy verduidelik dat ’n wond vorm wanneer ’n dier wat met hondsdolheid besmet is, ’n mens byt. Die virus kry op dié manier toegang tot die liggaam. Op die oog af lyk dit nie ernstig nie, maar die virus begin met ’n migrasieproses na die mens se brein. Dit kan tot ’n paar maande neem en in baie gevalle genees die seerplek, maar die virus is steeds in die liggaam.

Neurologiese simptome verskyn eers wanneer die virus die mens of dier se brein bereik, en teen daardie tyd is dit reeds te laat vir behandeling.

Simptome by mense

Diere en mense toon verskillende simptome van hondsdolheid. Volgens dr Van Dam is die aanvanklike simptome by mense nie spesifiek nie. Hoofpyn, koors of dermprobleme kan van die simptome wees. “Die bytplek (wat teen hierdie tyd eintlik al genees het) raak gewoonlik seer en jeuk erg. Soms kom neurologiese simptome soos irritasie, depressie, angs en slapeloosheid voor, en dié fase kan van een tot vier dae duur.

“Die volgende fase word gekenmerk deur neurologiese tekens soos rusteloosheid, deurmekaar praat, vrees vir wat kom of gaan, hallusinasies en stuiptrekkings wat deur verskeie stimuli veroorsaak word. Hierdie simptome kan ook afgewissel word met tydperke waartydens die persoon heeltemal normaal voorkom.

“Met verdere verloop verloor die persoon die vermoë om te sluk, praat onsamehangend, het oormatige speekselvloei, spierspasmas en ’n kenmerkende vrees vir water. Die spierspasmas en stuiptrekkings word erger, met progressiewe wanoriëntasie, hallusinasies en ’n koma. Pasiënte sterf gewoonlik binne vyf dae as gevolg van kardio-respiratoriese versaking,” verduidelik hy.

Simptome by diere

Dr Lombard sê daar is baie uiteenlopende simptome onder verskillende diere. Een van die algemeenste simptome is dat wilde diere skielik mak word en na ’n mens aangeloop kom, of dat troeteldiere skielik baie aggressief begin raak.

Die volgende simptome kom onder die verskillende diere voor:

  • Honde: ’n Skielike verandering van temperament, baie aanvallend, verhoogde reaksie op lig en klank, rusteloosheid, hulle dwaal doelloos rond, speeksel wat uit die bek drup en soms lyk dit of daar ’n been in die dier se bek is, selfbesering en stuiptrekkings.
  • Katte: Hulle raak aggressief, maak abnormale geluide, het ook baie speeksel in die bek, val aan en hulle kruip weg. Sommige katte raak weer oorvriendelik en spin aanmekaar.
  • Beeste: Beeste het ’n hees gebulk en is baie aggressief. Hulle val soms hekpale aan en stamp hul koppe teen ander beeste. Die stert en agterlyf raak verlam. Die tong en kaak kan ook verlam raak, en die diere het oormatige speekselvloei. Hulle kry ook soms die “been in die bek”-toestand.
  • Skape en bokke: Hul simptome stem baie ooreen met dié van beeste. Die diere toon ook dikwels hiper-seksuele gedrag en hardloop doelloos rond.
  • Wilde diere: Die bekendste simptoom by wilde diere is dat hulle hul vrees vir mense verloor.

Landwye voorvalle

Dr Lombard sê hondsdolheid is nie beperk tot ’n sekere gebied nie, maar dit kom enige plek in die land voor. Een van die plekke waar voorvalle meer gereeld voorkom, is KwaZulu-Natal, waar hondsdolheid gereeld by honde voorkom. In die Noord-Kaap is veral klein roofdiere soos bakoorjakkalse en muishonde bekende draers van die hondsdolheid-virus.

Meerkatte is bekend daarvoor dat hulle hondsdolheid oordra, omdat dit ’n oulike diertjie is en kinders hulle maklik sal optel as hulle na ’n mens aangeloop kom. Verskeie voorvalle is ook onlangs aangemeld van koedoes in Namibië wat met hondsdolheid besmet was.

Meerkatte is bekend daarvoor dat hulle hondsdolheid oordra, omdat kinders hulle maklik sal optel as hulle na ’n mens aangeloop kom.

Oordrag van die virus

Dr Van Dam sê die virus is in die speeksel van die dier wat besmet is en word deur bytwonde oorgedra – hetsy met byte wat deur die vel gaan of ’n byt naby aan bestaande velletsels. “Die virus kan nie self deur die vel dring nie. Gevalle is ook aangemeld waar die virus ingeasem is, veral in laboratoriums waar personeellede met die virus gewerk het sonder behoorlike voorsorgmaatreëls.”

Johan sê dit is makliker om die virus van dier na mens oor te dra as wat ’n mens dink. “As ’n mens byvoorbeeld gaan jag en ’n besmette koedoe skiet, en op enige manier in aanraking kom met die speeksel, wat jou liggaam deur ’n seerplek op jou hand of speeksel wat in jou oog inwaai binnedring, kan jy aangesteek word. Dit kan ook maklik aan boere oorgedra word wat met beeste of skape werk wat besmet is.”

Voorkomende behandeling

Volgens dr Van Dam is daar geen behandeling teen hondsdolheid nie, so dus is voorkoming van groot belang.

Wanneer iemand egter deur ’n moontlike hondsdol dier gebyt word, moet dadelik opgetree word. Indien daar ’n velwond naby aan die byt is, moet voorkomende behandeling ná blootstelling toegepas word.

Die wond moet dadelik deeglik met seep en water skoongespuit word en dit moenie geheg word nie. Menslike of perde-immunoglobulien moet aan die pasiënt toegedien word om teenliggaampies in die persoon se bloedstroom teen die virus beskikbaar te stel. Hierna moet ’n reeks inentings toegedien word.

Die belangrikste voorkomingsmaatreël is egter om troeteldiere gereeld teen hondsdolheid in te ent. “Navorsing het gewys dat as 70% van alle honde in ’n spesifieke gemeenskap gereeld teen hondsdolheid ingeënt word, daar nie meer gevalle van dié siekte in daardie gemeenskap voorkom nie. Dit is ook internasionaal die mikpunt om honde wêreldwyd in te ent en so die siekte teen 2030 by mense te laat verdwyn.”

Hy voeg by dat dit belangrik is dat alle honde-eienaars hul honde jaarliks teen hondsdolheid laat inent. Boere moet ook reëlings tref om personeel op die plaas se honde te laat inent. Tydens ’n uitbreking van hondsdolheid in ’n spesifieke streek sal die staat gewoonlik ’n gratis inentingsveldtog in die streek hê, maar dis net periodiek. Dis dus beter om eerder jaarliks die plaaslike veearts te besoek.

“Hondsdolheid is in baie gevalle ’n onderskatte siekte, maar dit bly steeds dié siekte waarvoor geen behandeling is nie. Dit is ’n beheerde siekte en alle verdagte gevalle moet volgens wet by die naaste staatsveeartskantoor aangemeld word,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Paul van Dam by 082 875 1721 of dr Chanel Lombard by 083 452 9879.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here