vryemark
Jannie de Villiers het einde Augustus as uitvoerende hoof van Graan SA uitgetree. Hier is De Villiers (links) saam met dr Pieter Taljaard, nuwe uitvoerende hoof van Graan SA, Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, en André Kirsten, Graan SA-verteenwoordiger vir die Swartland, by ’n geleentheid op Moorreesburg waar Wes-Kaapse graanboere hom gegroet het.

Graanboere in die Wes-Kaap het onlangs van Jannie de Villiers, voormalige uitvoerende hoof van Graan SA, afskeid geneem en ook die nuwe uitvoerende hoof, dr Pieter Taljaard, verwelkom. Die eerste van drie byeenkomste is op Moorreesburg gehou.

De Villiers het in sy uittredende boodskap aan die boere gesê hulle moet by die vryemark hou. “Die vryemark was goed vir ons boere, al is dit moeilik en maak ons soms seer. As dit droog is of as die wisselkoers verkeerde kant toe draai, kry ons swaar.”

De Villiers het gesê as hy na Eskom, Foskor en die Landbounavorsingsraad kyk, is hy bly dat graanboere vandag in ’n vryemark is. “As ons vandag ’n beheerraadstelsel gehad het, het ons nie kos in hierdie land gehad nie.

“Die vryemark het verseker dat ons voedselsekerheid in Suid-Afrika het.”

Geörganiseerde landbou is belangrik

De Villiers het ook gesê dat geörganiseerde landbou nog ’n rol het om te speel. Die koringbedryf is ’n goeie voorbeeld hiervan. ’n Omkeerstrategie sou nie in die bedryf moontlik wees as produsente nie gesamentlik konstruktief begin onderhandel het nie.

“Geörganiseerde landbou het verseker dat daar op ’n meer gelyke basis met kopers onderhandel kan word. Kunsmismonitering gee produsente die mag om met groot maatskappye te onderhandel as daar byvoorbeeld gehalteprobleme is. So ook met navorsing. Geörganiseerde landbou het ’n groot rol gespeel om volgehoue navorsing in die koringbedryf te verseker toe strukture uitmekaar begin val het.

“Dit is belangrik om geörganiseerde landbou aan jou kant te hou. Betaal jou heffing en dink wat dit vir jou beteken en maak seker dit werk vir jou op die plaas. Moenie namens diegene dink wat nie heffings betaal nie.”

De Villiers het gesê die besluit van Graan SA se lede om fondse deur ’n vrywillige heffing te in, was die regte besluit. “Graan is net té polities om te dink dat ons (Graan SA) al die geld van ’n statutêre heffing sal kry.

“Ek haal my hoed af vir julle wat sê: ‘Kom ons betaal ’n vrywillige heffing, dan bepaal ons, ons eie pad en vind ons eie oplossings’.”

Behou outonomie

Hy het mooi gevra dat graanboere hul outonomie moet behou. “Ons weet hoe lyk dit bo in Afrika waar boere hul outonomie verloor het en die staat pryse vasstel en bepaal wanneer jy mag plant en wanneer jy diesel mag kry.

“Staan as ’n organisasie saam – behou jou outonomie en hou die vryemark in plek. Werk met die klimaat, werk met dit wat jy goed kan doen op die plaas. Moenie jou besluitnemingsmagte abdikeer en alles aan die regering oorlaat nie.”

De Villiers het ook die graanboere in die Wes-Kaap gevra om hul kultuur van dialoog te behou. “Julle het ’n mooi kultuur van ‘kom ons praat tot ons die probleem opgelos het’. Julle is ’n voorbeeld vir ander oor hoe ons moeilikheid moet hanteer.”

Volgens dr Taljaard is die winsgewendheid van die boer op plaasvlak die belangrikste vir hom. “Almal in die waardeketting het ’n plek, maar dit moet regverdig wees.”

Hy het ook boere gevra om met hom en Graan SA personeel te praat. “Wat die ore nie hoor nie, kan die hande nie doen nie. Boere moet sê as daar iets is wat pla, maar moet ook met nuwe idees vorendag kom,” het dr Taljaard bygevoeg. – Hugo Lochner, AgriOrbit