As ’n mens se teeldoelwit is om baie en goeie beesvleis met funksioneel doeltreffende diere in die Bosveld van Limpopo te produseer, is Hugenootbeeste met hul ekonomies belangrike eienskappe maklik die beste keuse. So sê Henk en Gerda van Rensburg, wat met hul Koperkop Hugenoot-stoetery net suid van die Soutpansberg op die plaas New Hanover boer.

Gerda en Henk van Rensburg.

Net soos die beeste na die Franse Hugenote wat Suid-Afrika help tem het vernoem is, loop die pioniersbloed in die Van Rensburgs se are. Hulle was in 1912 een van die eerste families wat in dié omgewing ’n plaas kon koop en daar wortel skiet.

Henk en Gerda het in 1984 plaas toe getrek en in 1987 het Henk die grond by sy pa gekoop. Vandag boer hulle op sowat 3 000ha, waarop hulle beeste aanhou, aartappels verbou en kuilvoermielies onder besproeiing plant.

Kuilvoer as versekeringspolis

Droogtes kom algemeen voor, sê Henk. Sedert hulle begin boer het, moes hulle al drie keer feitlik al hul beeste verkoop. Nou maak hulle kuilvoer as ’n versekeringspolis teen droogtes. Om ’n groot deel van jou teelkudde te moet verkoop, is ’n terugslag vir enige beesprodusent en meer nog vir ’n stoetboer. Dit vertraag genetiese vordering in die kudde dramaties.

Hulle plant sowat 80ha kuilvoermielies in ’n wisselboustelsel met aartappels en kry ’n gemiddelde opbrengs van 50 ton kuilvoer per hektaar. In dié omgewing bestaan die persepsie dat ’n boer wat aartappels plant, se beesboerdery eintlik maar ’n afskeepbesigheid is. Henk en Gerda val beslis nie in dié groep nie. Hulle is as 2019 se Hugenoot-telers van die jaar aangewys en daarby is verskeie van hul diere al as Elite-diere van die Hugenoot-beesras aangewys.

Begin van die Hugenoot-stoet

Henk wou altyd graag boer. Toe hulle begin het, het die beeskudde baie soos die inhoud van ’n Smarties-boks gelyk, skerts hulle. Henk het ’n agent genader en gesê hulle soek ’n bul om meer vleis te produseer en dit is hoe hulle aan die Hugenoot-beesras bekendgestel is. Die eerste bul wat hy gekoop het, het só goed presteer dat hulle in 2009 die Koperkop-stoetery van sowat 160 teeldiere gekoop het.

Vandag is daar ongeveer 360 teelkoeie in die kudde en hulle mik daarna om die stoetery tot nagenoeg 500 teelkoeie uit te bou.

Een van die jonger bulle van die Koperkop Hugenoot-stoet.

Aanvanklik het hulle nie baie van beesboerdery geweet nie, maar saam het hulle baie en vinnig op kursusse en boeredae wat deur die Landbounavorsingsraad (LNR), SA Stamboek en die telersgenootskap aangebied is, geleer. Gerda is die een wat sorg dat al die besonderhede van elke dier noukeurig op ’n spesiale rekenaarbestuursprogram aangeteken word.  

Seleksie en voeding

Wanneer hulle selekteer, konsentreer hulle op ekonomies belangrike eienskappe. Vrugbaarheid en groeivermoë is die grondslag waarop hulle die kudde bou, sonder om ander eienskappe in te boet. Aanvanklik was die tussenkalfperiode (TKP) van die kudde lank, hoofsaaklik omdat daar nie volledige rekords van sommige van die ouer koeie se reproduksie was nie. Hulle het intussen daarin geslaag om dit na 395 dae te verminder, ondanks die feit dat daar nog van die ouer koeie in die kudde is.

Omdat daar steeds hard gewerk word om die TKP van die kudde te verbeter, gaan koeie en verse wat nie kalf nie, na die abattoir.

Die genetiese vermoë van ’n koei om te kan kalf, gaan hand aan hand met voeding. Selfs die vrugbaarste koei, wat teen dektyd in ’n swak kondisie is, gaan sukkel om dragtig te raak. Die beeste loop op soetveldweiding, maar periodieke droogtes bemoeilik bestuur. Hul eerste reën kom gewoonlik in September en die hoofreënseisoen is vanaf Februarie, maar Henk sê dit lyk vir hom asof die reënpatroon nie meer so reëlmatig is nie.

As die reën in September wegbly, is dit baie moeilik vir ’n koei om haar kondisie sonder hulp met voeding te behou. Dit het hom aangespoor om sowat vier jaar gelede te begin kuilvoer maak. Dit gee hom die geleentheid om die koeie wat in September kalf, met kuilvoer te help as die reën wegbly.

Om seker te maak die genetiese groeivermoë bly nie agterweë nie, word die bulkalwers op die plaas aan ’n intensiewe Fase D-toets van 84 dae onderwerp. Tydens die toets word hulle elke twee weke geweeg. Wanneer die toets afgesluit word, word die bulle deur die LNR of SA Stamboek gekeur. Die diere moet minstens 120kg swaarder weeg ná die toets.

Voerkraalafronding

Die sowat 40% wat die toets slaag, gaan veld toe. Die res word in ’n voerkraal op die plaas slaggereed gemaak. Die gekeurde bulle word weer geëvalueer as hulle tussen 20 en 24 maande oud is en die bestes word afgerond om op ’n veiling of uit die hand verkoop te word. Die oogmerk is om diere met ’n relatief lae geboortegewig uit mediumraamkoeie te teel, wat uitgroei om ’n hoë speengewig en uiteindelik ’n goeie karkas te lewer.

Die gemiddelde geboortegewig van bulkalwers is nou 41kg, verskalwers weeg gemiddeld 39kg en die gemiddelde speengewig van al die kalwers is 257kg. Diere wat in die voerkraal afgerond word groei uitstekend sonder dat enige groeistimulant gebruik word – teen slagtyd weeg hulle gemiddeld 500kg. Die gemiddelde uitslagpersentasie oor die afgelope vyf jaar is 61,8% vir manlike en 58,8% vir vroulike diere en die karkasse word normaalweg as A2 gegradeer.

Die uitslagpersentasie van ouer diere, waarvan die karkasse C-grade behaal, is 67,3% vir bulle en 56,3% vir koeie. Van die bulle het al ’n uitslagpersentasie van 72% behaal.

Uitblinkerkoeie en -bulle

In 2019 is een van hul koeie as een van SA Stamboek Elite 2019 se Platinum Vleisbeeskoeie aangewys. Die koei, BO40085, was toe 15 jaar oud en het elf kalwers met ’n TKP van 397 gehad. Haar eerste kalf het aangekom toe sy 37 maande oud was en die TKP oor haar laaste vier kalwers was 343 dae.

Een van Koperkop se stoetbulle.

Een van hulle bulle is ook genomineer om die Hugenoot-beesras se jaarlikse nasionale groeitoetskompetisie te verteenwoordig, nadat ses van hul bulle al in die ras se top tien vir dié kompetisie geëindig het. Die COVID-19-pandemie het egter ’n stokkie voor die nasionale interraskompetisie gesteek.

Die Van Rensburgs sê hulle is tevrede met die vordering wat hulle tot dusver gemaak het, maar dat daar nie nou op hul louere gerus word nie. Hulle werk steeds daaraan om die geboortegewig van hul kalwers laer te kry, die groei te verbeter en al die ekonomies belangrike teelwaardes bo die rasgemiddeld te kry.

Hulle diere moet geneties meerderwaardig én visueel uitstaande wees. As hulle ’n bul verkoop, moet die dier só goed wees, dat hulle deurentyd eintlik twyfel of hulle hom nie eerder moes hou vir eie gebruik nie. Die ras groei ook en daar is veral ’n goeie vraag na vroulike diere.

Die feit dat die gehardheid en aanpasbaarheid van die Afrikanerbees en die uitsonderlike vleisproduksie en karkasgehalte van die Charolais geslaagd in die Hugenoot saamgevoeg is, maak dit ’n gesogte bees om as suiwer diere of in kruisteeltstelsels te gebruik. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Henk en Gerda van Rensburg by 082 345 1270 of 072 407 4114, of stuur ’n epos na info@koperkop.co.za.