Huntersvlei Brutus die 15de, JRE 18-26, wat vir R155 000 op Huntersvlei se 50ste bulveling verkoop is.

Huntersvlei Sussex se 50ste bulveiling, wat op 5 Augustus plaasgevind het, was ’n reusesukses. Die Huntersvlei Sussex-stoet vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar en het hul eerste produksieveiling in 1970 aangebied.

Vanjaar was daar 18 twee jaar oue bulle en 70 kommersiële verse aangebied. Die bulle is almal teen ’n hoër gemiddeld as enige Sussex-veiling verkoop. Dit is ook die eerste Sussex-veiling ooit wat aanlyn op die SwiftVee-platform aangebied is.

Gehalte bulle en veebedryf-optimisme bring sukses

Enrico Cronjé, bestuurder van die Huntersvlei-kudde, skryf hierdie sukses toe aan die gehalte van die bulle op aanbod sowel as die stoet se ryk geskiedenis. Dít, gepaard met die huidige optimisme en geleenthede wat produsente in die veebedryf sien, het gesorg vir hierdie uitstekende resultate.

“Dit was ’n tipiese voorbeeld waar geleentheid en deeglike voorbereiding mekaar ontmoet het,” sê  Cronjé. “Sukses in die stoetbedryf is die resultaat van dekades se toewyding, en ek dra graag hierdie veiling aan my voorganger, wyle Dallas Phillips, op, by wie ek die leisels in 2016 oorgeneem het.”

Veilingsuitslae

  • Hoogste prys bul: R155 000
  • Tweede hoogste prys bul: R140 000
  • Gemiddelde prys bulle: R72 800
  • Gemiddelde prys dragtige kommersiële verse: R17 750
  • Gemiddelde prys kommersiële verse: R14 500

Aangebied deur: Vleissentraal Bloemfontein

Afslaer: Alan Sinclair