Hurwitz Farming: Van groentjies tot kenners van kuilvoer

666
kuilvoer
Die kuilvoerkerwer kneus ook die voergewas, wat dit meer verteerbaar maak.

Die geheim om uitstaande kuilvoer te maak is om die suurstof so vinnig as moontlik nadat die gewas gekerf is, uit die materiaal te verwyder en dit lugdig te seël. As ’n mens dit kostedoeltreffend kan doen, kan dit in baie gevalle meer lonend wees om mielies só te benut, eerder as om die saad te oes.

Jarren Hurwitz van die bekende Hurwitz Farming digby Davel in Mpumalanga, sê hul kuilvoervertakking maak vir tien maande van die jaar elke dag kuilvoer regoor Suid-Afrika. “Ons is spesialis-kuilvoermakers eerder as kontrakteurs,” sê hy. Dit blyk ook duidelik uit die feit dat Hurwitz Farming vanjaar vir die tweede jaar in ‘n ry met die louere weggestap het in die hawerkategorie van die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie. Boonop het hulle ‘n hele klompie van hulle kliënte se kuilvoer ingeskryf vir vanjaar se kompetisie.

Die twee Hurwitz-broers, Simeon en Jarren, het die boerdery sowat elf jaar gelede as volkome groentjies begin en moes alles deur ondervinding leer. Vandag bedryf hulle ’n omvangryke boerdery, met die grootste geregistreerde Boran-stoetery in die wêreld, ’n Droughtmaster-stoetery, ’n groot kommersiële beesboerdery, ’n saaiery, ’n voerkraal, ’n geregistreerde kwarantynstasie en geriewe om embrio-oorplasings te doen, ’n veilingsentrum, ’n vleisverspreidingsonderneming en die kuilvoermakery, wat die jongste toevoeging is.

Noodplan lei tot besigheid

Die kuilvoeronderneming is uit nood gebore. Sowat vyf jaar gelede was dit baie droog en hulle het besef dat van die mielies dit nie gaan maak nie. Hulle het besluit om die mielies in te kuil. Hulle het ’n tweedehandse kuilvoerkerwer gekoop sodat hulle dit self met ’n klompie trekkers en wipbaksleepwaens kon doen.

Op ’n dag het Jarren twee kuilvoerraadgewers van ’n private onderneming genooi om na die gehalte van hul kuilvoer te kom kyk. Omdat die gehalte nie die raadgewers beïndruk het nie, het Jarren besluit hy moet die proses baasraak en twee dae later was hy op ’n vliegtuig na Duitsland, waar hy die maak van kuilvoer en die toerusting wat gebruik word, gaan bestudeer het.

Hulle het van die beste werktuie ingevoer en met kundigheid begin kuilvoer maak. Vandag gebruik hulle twaalf kuilvoerkerwers, nege eenhede wat die kuilvoer in silosakke stop en 57 vervoereenhede om die kuilvoer uit die lande te ry. Hulle maak kuilvoer van sowat 25 000ha gewasse teen ’n gemiddelde 25ton/ha/jaar.

Geheime van goeie kuilvoer

Die geheim van goeie kuilvoer is om die suurstof uit die gewas te verwyder en dit dan lugdig te berg, sê Jarren. Daar is verskeie maniere om dit te doen, maar na sy mening is die stelsel waarvolgens die kuilvoer in lang silosakke gestop word, soos dié waarin boere ook deesdae graan berg, die kostedoeltreffendste.

Hul eie behoefte aan goeie kuilvoer vir hul voerkraalbeeste en die oorwintering van hul stoet- en kommersiële kuddes, vereis dat die kuilvoer ’n baie hoë voedingswaarde moet hê, geen voer verlore moet gaan weens skimmel of ander mikotoksiene nie, en dit maklik en met minimale verliese gevoer kan word.

Die hulp van ’n kuilvoerraadgewer is ingeroep en saam het hulle vasgestel dat die kuilvoer in die silosakke nie so warm as dié in kuile word nie, dat dit hoogstens 18˚C bereik en steeds goed fermenteer. Met meer metings het hulle nou bepaal dat die temperatuur in die silosakke tussen 10 en 12˚C wissel. Die laer hitte bring mee dat die energie en voedingswaarde van die kuilvoer beter behoue bly.

Kuilvoergewasse

Kuilvoer van mielies en sorghum is ’n bekende produk. Die gemak waarmee kuilvoer met die nuwe toerusting en stelsels gemaak kan word, spoor egter baie boere aan om wintergrane en grasgewasse vir kuilvoer te gebruik, hoofsaaklik om die gehalte van die voerwaarde optimaal te hou om vee tydens die uitdagende laatwinter te onderhou.

Jarren sê hawer, korog, verskillende grasse, gemengde weigewasse en selfs kanola, word veral in die winterreëngebied van die Wes-, Suid- en Oos-Kaap vir kuilvoer gebruik. Wanneer dit tyd word om dié kuilvoer te maak, beweeg ’n deel van hul toerustingvloot daarheen. Die afgelope seisoen het hulle daar sowat 6 000ha vir kuilvoer ingesamel.

Die proses van kuilvoermaak

Die gewasse word met ’n snymasjien platgesny en met dieselfde bewerking in windrye gegooi waar dit lê om te verlep. Dit kan een tot drie dae duur, afhangend van die gewas en klimaatstoestande.

Die stopmasjien wat die gekerfde materiaal in silosakke stop. Tydens die saampersing van die materiaal word suurstof verwyder.

Die materiaal in die windrye word dan met ’n kuilvoerkerwer met ’n spesiale opteltafel vooraan opgeraap, gekerf, gekneus en in ’n wegry-voertuig na die sakstopper vervoer. Die voertuie en ontvangbak van die stopper is só ontwerp, dat die gekerfde materiaal direk daarin gestort word. Hulle kan ook die kuilvoer in bale maak wat met plastiek toegedraai is, maar volgens Jarren is dié proses aansienlik duurder.

Dit is eintlik vanselfsprekend dat goeie verbouingsmetodes en die regte kultivar die grondslag vir ’n goeie volume en gehalte van die gewas lê, want dit bring koste af en verbeter gehalte. Dit is egter die prosesse wat gevolg word wanneer die kuilvoer gemaak word, wat die deurslag gee. As dit nie vinnig en reg gedoen word nie, daal die kuilvoer se gehalte.

Dit is waar silosakke voordelig is. Die materiaal word regstreeks vanaf die kerwer daarheen gebring, in die bak van die stopmasjien gestort, en terwyl dit in die sak ingestop word, word al die suurstof uitgepers, die pH van die materiaal daal en dit word gepreserveer.

Kuilvoer van hawer

Die persepsie bestaan dat hawer ’n goedkoop afskeepgewas is en dat mense daarom kortpaaie kan vat. Om goeie hawerkuilvoer en kuilvoer van die meeste grassoorte te maak, is moeilik, omdat dit nie soveel stysel en suiker as mielies bevat wat fermentasie bevoordeel nie.

Die groeistadium waarop hawer ingesamel word, is ook belangrik. Jarren sê baie boere jaag opbrengs en volume na en sny die gewas laat. As die plante egter begin saad vorm, begin die plant weer voedingstowwe na die wortelstelsel terugvoer en verloor die lowers hul voedingswaarde.

Die gekerfde voermateriaal word in vragmotors na die perseel vervoer waar die kuilvoer gemaak word.

Volgens navorsing deur Agriculture Victoria in Australië, het hawerkuilvoer die beste voedingswaarde as dit in die vroeë blom- of sagte deegstadium ingesamel word. Dan is die proteïeninhoud en die totale hoeveelheid verteerbare voedingstowwe hoër as wanneer dit later gesny word. Daar is ook meer groen blare aan die plant, en die stingels is sagter en makliker verteerbaar.

Die voordele van silosakke vir kuilvoer

Jarren sê die silosakke wat hulle gebruik is 3,6m wyd en tot 150m lank. Met mieliekuilvoer word sowat 6,8 ton/m ingestop en met hawerkuilvoer sowat 4 ton/m. Die silosakke is van sterk plastiek gemaak wat die ultravioletstrale van die son betreklik goed weerstaan. Hulle het kuilvoer al bykans vier jaar lank sonder enige verliese in sulke sakke geberg.

’n Groot voordeel van dié stelsel is dat die kuilvoer op enige plek op die plaas geberg kan word om die benutting daarvan makliker te maak. Die plek waar die sak geplaas word, moet egter versigtig gekies word om te verseker dat die kuilvoer maklik herwin kan word indien nodig.

Daarby sorg dit vir groot besparings omdat die kuilvoer nie vasgetrap hoef te word nie. Van 30 tot 35% vermorsing word uitgeskakel, brandstofkoste word met bykans 90% gesny en die risiko verbonde aan die maak van kuilvoer op hope of in kuile, word grootliks uitgeskakel.

Kuilvoer in silosakke kan vleisproduksie vanaf weidings ’n hupstoot gee. Die silosakke kan in weikampe geplaas word en met dié goeie en ekonomiese voer, kan die beeste baie doeltreffend deur die winter gedra word.

As die kuilvoer die kondisie van koeie teen dektyd met net een punt kan opstoot, gaan die verhoogde besetting en kalfpersentasie oor en oor vir die koste van kuilvoermaak vergoed en die winsgewendheid van die benutting van mielies beduidend opstoot, meen Jarren. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Jarren Hurwitz
by 082 412 3393 of jarren@hurwitz.co.za.