Plaaslike nuusplatforms het die afgelope ruk gegons met die nuus oor Shell se aankondiging dat hy sy aktiwiteite met moontlike hidro-breking in die Karoo afskaal. Wat is die implikasie hiervan?

Die aankondiging

In die lig van uitdagende ekonomiese omstandighede en die swak olieprys het Shell besluit om sy span in die Karoo kleiner te maak terwyl hulle wag vir duidelikheid oor die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum-hulpbronne, 2002 (Wet 28 van 2002), tegniese regulasies en die uitslag van die toekenning van eksplorasieregte.

“Hoewel baie nuusplatforms berig het dat Shell uit die Karoo‘onttrek’ het, moet ons verstaan dat die besluit om hul span en aktiwiteit te verminder, hoegenaamd nie beteken dat hulle die aansoek om eksplorasieregte teruggetrek het nie,” verduidelik Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA. “Hoewel dit beslis goeie nuus is, bly ons versigtig.”

Steeds ’n moontlike bate vir Shell

Pasa (Petroleum Agency SA) is die afgevaardigde van die Departement van Minerale Hulpbronne om aansoeke om eksplorasieregte te hanteer. Volgens Rabie bly die aansoeke deur Shell steeds hangende. “Daar is ook interessante verwikkelinge oor Rhino Oil & Gas se aansoek om omgewingsmagtiging vir eksplorasie vir olie en gas. Agri SA het teen hul omgewingsmagtiging geappeleer en dit is steeds hangende. Daar is dus baie werk wat nog gedoen moet word voor finale uitsprake oor die aansoeke gemaak word.

“Ons moet onthou dat die aansoek voortgaan en dat indien dié eksplorasieregte wel toegeken sou word, Shell dit steeds in sy sak sal hê.” Die maatskappy kan dus besluit om in die toekoms volstoom voort te gaan en om ’n produksiereg te verkry sodra die ekonomiese klimaat verbeter, of sou selfs die regte kon verkoop.

Volgens Rabie moet ons ook nie vergeet dat Shell nie die enigste skaliegasrolspelers is nie. “Rhino Oil & Gas het hangende aansoeke in Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap en buiten Shell, is die entiteite in die Karoo Falcon en Bundu. Daar is dus nog baie beweging.” – Marike Brits, AgriOrbit