Die OVK-groep streef deurentyd na die uitbreiding en verbetering van sy dienste, is goed gediversifiseer met werksaamhede in verskeie landbougebiede, en lewer ’n wye reeks produkte en dienste aan sy kliënte.

Hannes Terblanche, ’n produsent wat al lank met OVK sake doen, glo daaraan om “buite die boks” te dink om goeie resultate en opbrengste te verseker. Hy boer op verskeie plase tussen Oudtshoorn en De Rust met volstruise, beeste, skape, bokke, wild, lusern, kleingraan, mielies en groentesaad. Hy is ook tans betrokke by projekte in agri-toerisme, wat plaaslike werkskepping bevorder.

Hennie Vry van OVK en die produsent Hannes Terblanche werk die afgelope vyf jaar baie nou saam.
Maksimum produksie

“Ek is hoofsaaklik ’n besproeiingsprodusent wat gediversifiseerde presisieboerdery nastreef. Ek en my span probeer maksimum produksie in alle fasette van ons boerdery handhaaf, met die oog daarop om deur goeie rekordhouding ons opbrengste jaar na jaar te verbeter. Ek hou daarvan om nuwe dinge aan te pak en is deurentyd betrokke by strategiese vennootskappe om die besigheid aan te vul en nuwe geleenthede te skep.

“OVK is ’n instansie met wie ek graag geassosieer word en saam met wie ek ’n lang pad sal stap. OVK is as landboubesigheid goed gediversifiseer in die bedryf. Hulle beskik oor kundige personeel wat altyd bereid is om die ekstra myl af te lê om ons te ondersteun, sodat ons hoë-gehalte produkte vir die mark kan produseer.

“Ek doen met OVK as vennoot my aankope en verkope landwyd en verkoop graan, bokhaar, wol, wild en lusern deur hulle. Hul pryse en dienslewering is van uitstaande gehalte. Hennie Vry, OVK se lewendehawe-koördineerder in die Wes- en Suid-Kaap, is beslis ’n boerderyvennoot van betekenis in my besigheid.”

Handel in lewendehawe

Hennie en sy gesin woon op Swellendam en hy is al 32 jaar in die lewendehawebedryf. “Ek is 20 jaar daarvan in diens van OVK, wat my die geleentheid gee om ten nouste by die aankope en verkope van lewendehawe betrokke te wees. Ek is die afgelope vyf jaar by Hannes se uitgebreide boerdery betrokke.”

OVK het drie jaar gelede ’n baie groot en suksesvolle veiling van skape, beeste en lusern op Hannes se plaas gehou, waarby Hennie direk betrokke was. “Hannes is ’n geharde besigheidsman met baie goeie organisasievermoë en ’n passie vir sy besigheid. Daar is by hom net een manier en dit is die regte manier. Dit is wat dit vir my moontlik maak om saam met hom te werk – jy weet altyd waar jy met hom staan. Hy en sy vrou, Chrismari, asook hul sekretaresse, Yolande Roets, laat my altyd welkom voel op die plaas.”

Spekulatiewe boerdery

Hannes se spekulatiewe benadering tot sy boerdery is een van sy groot bates en weens dié rede noem hy homself eerder ’n smous as ’n produsent. “Jy moenie met jou diere getroud wees nie. As die prys reg is en daar is winste om te maak, moet jy dit bemark.”

Vir meer inligting, kontak Hannes Terblanche by 082 451 7207 of jhterbdy@absamail.co.za, en Hennie Vry by 082 490 4252 of hvry@cmw.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here