Die lamskuur is waarskynlik die hart van ’n intensiewe skaapeenheid. Die minimum vereiste is dat daar goeie ventilasie is, maar dat dit nie in die winter koue trekke het nie.

Estimated reading time: 9 minutes

Intensiewe skaapproduksie beteken presisieboerdery. En presisieboerdery beteken noukeurige aandag aan detail. Om dit reg te kry, is spesieke infrastruktuur nodig waarsonder presisieboerdery kwalik kan plaasvind.

Intensiewe skaapboerdery vir beginners: Basiese beginsels

As ’n mens dus ’n lys moet maak van die infrastruktuur wat nodig is, sê Manie Wessels van Mamre Dormers naby Frankfort in die Vrystaat, moet jy jou laat lei deur die projekplan wat die grondslag van hul produksiestelsel vorm.

“Ons stelsel is gebou op ’n agt-maande lamsiklus, met ewe groot ooigroepe wat elke maand lam. Die infrastruktuur word dus elke maand gebruik soos wat die verskillende groepe deur die siklus beweeg. Alles begin in ons stelsel by die voorbereiding van die ooie.

“As ’n mens so ’n intensiewe eenheid beplan, moet jy seker maak dat jou geriewe so geplaas is dat aktiwiteite natuurlik vloei. Die voerskuur moet byvoorbeeld só geplaas wees dat dit maklik bereikbaar is om voer uit te haal en na die verskillende kampe te versprei. As dit meganies versprei word, moet die paaie so uitgelê wees dat onnodige tyd en brandstof nie gemors word om draaie te ry of om te draai nie.

“Die roete tussen die verskillende kampies, lamskuur en hanteringskraal moet maklik en so kort as moontlik wees, met doeltreffende heinings van die regte materiaal om te verseker dat diere nie kan weghardloop of hulself beseer nie. So min arbeiders as moontlik moet gebruik word om al die take in die stelsel te verrig,” sê hy.

Die hanteringskraal

Die hanteringskraal is die sentrum van die eenheid, en beplanning moet om hierdie kraal gedoen word, met maklike toegang daarheen. Die ideaal is dat al die kampe in ’n sentrale gang uitloop, en hierdie gang moet direk na die kraal toe lei. Toegang van die kraal na die lamhokke is net so belangrik.

Onderdak: Omdat sekere take in ’n intensiewe skaapeenheid op ’n spesifieke dag gedoen moet word en nie uitgestel kan word nie, word dit sterk aanbeveel dat die werkseenheid met die drukgang onderdak is, en naby die mediese pakkamer sodat ’n mens maklik en vinnig medisyne kan kry as ’n dier behandel moet word. 

Drukgang: Die ideaal is dat die drukgang sowat 60cm van die grond af gelig is, sodat ’n mens maklik kan werk sonder om die hele tyd in ’n gebukkende posisie te wees. Die sye van die drukgang moet sterk genoeg wees sodat die skape dit nie “boepens” kan druk nie.

Sortering: ’n Uitkeerhek wat ten minste na twee kante toe kan sorteer, is ononderhandelbaar. ’n Mens kry baie gesofistikeerde uitkeerstelsels met tot agt uitkeeropsies, maar ten minste twee, na links en na regs, is nodig.

Uitkeerkrale: Die uitkeerhek moet die skape natuurlik na twee aparte uitkeerkraaltjies kanaliseer. Hierdie krale moet dan weer toegang hê tot die sentrale gang, wat die kraal en die kampe met mekaar verbind.

Geskikte voerskuur

Dis ’n absolute vereiste dat ’n groot genoeg spasie beskikbaar is waarin voer droog en veilig gehou kan word. Dis gewoonlik sinvol om ’n paar weke se voorraad voer op een slag te koop, en hierdie voer moet veilig en droog bly. ’n Riglyn is dat ’n eenheid van 160 ooie (20 ooie wat per maand lam) met al hul volgelinge ’n voerstuur van ongeveer 18m² sal benodig – die grootte van ’n enkel-motorhuis.

Voedingsbeginsels vir intensiewe skaapboerdery.

’n Hospitaalkampie

Apart: Dis noodsaaklik dat ’n mens siek diere apart kan hou om moontlike aansteeklikheid te voorkom. So ’n hospitaalkampie moet buite wees, maar met ’n goeie afdak vir skuiling sodat koorsige diere uit die warm son kan kom. Dit moet verkieslik nie langs die lamhokkies wees nie. ’n Afstand van 10m van die ander skape is voldoende.

Grootte: Twee kampies van 4 x 4 meter is voldoende. Dit moet deeglik omhein wees sodat siek diere nie kan uitkom nie.

Ontsmetting: HTH-swembadchloor is ’n uitstekende ontsmettingsmiddel vir beide die krale en die mense wat in die hospitaal beweeg se skoene as hulle vandaar na ander dele van die skaapeenheid beweeg.

Twee ramkampe

As ’n mens natuurlike dekking gebruik, is een ram per vyf ooie nodig. Omdat dit egter ses weke neem vir sperms om te vorm, sal jy twee spanne ramme nodig hê. As jy dus ’n ooi-eenheid vir 160 ooie het, sal 20 ooie per maand gedek moet word, wat beteken jy moet agt ramme hê – vier ramme per maand, elke tweede maand.

Die ideaal is ’n afsonderlike ramhok vir elke ram, maar dit is nie noodwendig haalbaar nie. Dieselfde riglyne geld vir ramme as vir ooie: Goeie water- en kosgeriewe, ordentlike koelte en genoeg beweegruimte – sowat 8m² per ram. Dis die beste om twee ramkampe te hê sodat jy ramme wat nie met mekaar klaarkom nie apart kan hou. Ramkampe moet só omhein word dat ramme definitief nie kan uitkom nie. 

Lamhokke en kraamhokke

Spasie: ’n Onderskeid moet tussen lamhokke en kraamhokke getref word. Baie ekstensiewe skaapboere laat hul ooie in kampies naby die huis lam en plaas dan die ooi met haar pasgebore lammers in ’n hokkie waar hulle vir ’n dag of drie vertoef. ’n Lamhokkie van 1,2m x 1,2m vir ’n wolskaap is meer as voldoende hiervoor.

Infrarooi ligte is soms nodig om hitte aan pasgebore lammers te gee. Maak egter seker die lig is nie so laag dat dit die ooi se wol brand nie.

’n Kraamhok, daarenteen, is ’n plek waarin ’n mens die ooi reeds drie dae voor haar lamdatum inbring sodat sy gemaklik kan raak met haar omgewing. Die ooi verwag waarskynlik ’n tweeling en sy gaan ten minste sewe dae in die kraamhok deurbring. So ’n kraamhok moet ten minste 1,5m x 1,5m groot wees.

As hierdie ooi egter ’n drieling verwag, is selfs hierdie afmetings onvoldoende, en is die ideaal 2m x 2m, of ten minste 1,5m x 2m.

Droog: Daar is baie maniere om lamhokkies te bou en te huisves – van temperatuur-beheerde sale tot aangepaste groentetonnels. Die groot riglyn bly dat die lamhokkies droog moet bly as dit reën. Dis by lamhokkies meer as by enige ander plek noodsaaklik dat ’n mens voorsiening sal maak vir die paar maande of selfs weke van die jaar wanneer die weersomstandighede op sy ergste is.

Waterbakke: Drinkbakkies wat elke dag leeggemaak en geskrop kan word, is ideaal. Waterpype in die lamhokke mag glad nie lek nie. Enige nat kolle is ongewens.

Kosbakke: Maklik bereikbaar, maar onmoontlik om om te gooi.

Lug: Daar moet voldoende deurvloei van lug wees om die opbou van ammoniak te voorkom. Dit is veral in die somer belangrik. Maak dus seker dat die lugvloei beheer kan word met genoeg openinge aan weerskante van die gebou/struktuur. As dit nodig is, installeer waaiers om die lug te roer.

Ammoniaktoets: As ’n mens op jou hurke in die lamskuur sit en jou neus begin binne tien minute brand, moet jy weet wat die uitwerking op die ooie en lammers se longe is. As jy verder ’n longontsteking-probleem het met lammers wat pas uit die lamhokkies geskuif word, moet jy weet jy het ook ’n ammoniak-probleem.

Lig: Afgesien daarvan dat ’n mens in die nag voldoende lig in die lamskuur vir observasie nodig het, is die ooie ook baie meer gemaklik as dit nie heeltemal donker in die lamskuur is nie. Daar is baie goeie nuwe tegnologie LED-liggies beskikbaar sodat beligting in die lamskuur nie ’n probleem hoef te wees nie.

Hitte: Ideaal moet temperatuur in die lamskuur konstant tussen 18°C en 20°C wees. Dit is hoogs waarskynlik nie moontlik nie. Maak dus net seker dat daar goeie ventilasie is. Isolering teen bloedige hitte in die somer is ook nodig.

Koue: Die ooie se eie liggaamshitte verwarm waarskynlik die lamskuur genoeg onder normale toestande in die winter. Die uitsondering is as ’n koue trek inkom. Teen 04:00 in die winter, met ’n koue trek wat inkom, kan die koue ’n probleem raak, en dit is gewoonlik ook die tyd wanneer die ooie lam. Dit is uiters handig om infrarooi ligte beskikbaar te hê wat bo die pasgebore lammertjies geplaas kan word, veral met meerlinge, sodat hulle onder die lig kan lê terwyl die ooi die volgende aankomeling drooglek. ’n Maklike manier is om draadhake aan die dakbalke te haak wat lank genoeg is dat dit die infrarooi lig sowat 30cm bo die ooi se rug kan plaas. Een lig per vyf ooie behoort voldoende te wees. Plaas die lig een derde na die kant van die lamhok.

Die voerkraal

Dreinering: Plaas die lamvoerkraal so dat genoeg dreinering kan plaasvind sonder dat die afvloei in ander krale inloop. Maak seker die voerkraal is teen ’n helling geplaas.

Beskutting: Al die riglyne vir beskutting geld ook vir die voerkraal – genoeg koelte en genoeg skuiling teen koue.

Vreetspasie: Maak voorsiening vir tussen 10 en 15cm voerspasie per lam.

Algemene beginsels

Voorsiening van water

Druk: Die spesifieke drinkspasie per skaap is minder belangrik as wat die waterdruk by die trog is. Die waterdruk moet hoog genoeg wees sodat die trog vinnig kan hervul as ’n skaap daaruit gedrink het.

Watertemperatuur: In ons land is waterpype wat bo-op die grond lê ’n krisis. Dit bak die water warm en maak dit ondrinkbaar. Die water moet koel wees, wat beteken waterpype moet onder die grond wees.

Gehalte van water: Water moet skoon en drinkbaar wees. Afvalwater of gesuiwerde rioolwater met swaar metale in is onaanvaarbaar.

Opgaar: Ten minste drie dae se water moet opgegaar wees sodat enige krisis die hoof gebied kan word.

Voorsiening van kosbakke

Vreetspasie: Sowat 15 tot 20cm vreetspasie per ooi (meer vir groter ooie) en 10 tot 15cm per lam in die voerkraal.

Voerfrekwensie: Hoe meer gereeld jy voer, hoe minder voer jy op ’n slag en hoe minder is die vermorsing, maar hoe belangriker is voldoende vreetspasie vir elke skaap. Die ideaal is om jou produserende diere drie keer per dag kos te gee.

Aanbieding van ruvoer: Die ruvoer moet so aangebied word dat vermorsing beperk word. Dit kan gedoen word met baalrakke, hooinette of baalringe. Dis meer koste-doeltreffend om die dag se ruvoer af te meet en aan te bied, eerder as om ’n groot baal aan te bied wat ’n week moet hou. Vermorsing speel dan ’n groot rol.

Koelte en behuising

Hitte: In ’n intensiewe, hoogs produserende stelsel is genoeg skuiling teen veral hitte, maar ook koue, ononderhandelbaar. Troppe wat uitgaan veld toe kan skuiling onder bome en bosse vind, maar diere wat by die huis in krale aangehou word moet genoeg skuiling hê. Grondtemperature van tot 65°C is al in sekere dele van die land gemeet. As ’n ram byvoorbeeld op sulke warm grond lê, is daar geen manier dat hy vrugbaar kan bly nie. Diere vreet ook nie in sulke omstandighede nie en groei in die voerkraal ly daaronder.

Voldoende skuiling teen hitte en koue is ononderhandelbaar vir ramme en ooie. Hierdie skuiling bestaan uit ’n dak en ou myn-vervoerbande as mure.

Koue: Hoewel dit minder van ’n probleem in Suid-Afrika is, is daar tog tye van die jaar wanneer yswinde en ysreën voorkom. Diere moet skuiling hierteen kan vind.

Vir meer inligting, skakel Manie Wessels van Mamre Dormers by 083 284 7470.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer