Veediefstalinligtingsentra (VIS) is ’n effektiewe manier om veediefstal te voorkom. Inligting kan vroegtydig ingewin word deur alle rolspelers bymekaar te kry om inligting rondom veediefstal uit te ruil.

Dit was die boodskap van Johan Stadler, voorsitter van die Vrystaat Veediefstal Voorkomingsforum, tydens ’n veediefstalvoorkomings-vergadering, gehou by Eeram buite Harrismith, wat deur die Harrismith Distrikslandbou-unie gereël is by.

Een van die groot voordele van ’n VIS, het hy gesê, is dat rolspelers soos die polisie – beide veediefstal-ondersoekbeamtes en uniformpolisie – asook die staatsaanklaers kan hoor wat die probleme in die veld is, en daaraan kan aandag gee.

Die forum wat deur ’n veediefstalinligtingsentrum geskep word, het hy beklemtoon, is ’n ideale plek om heelwat probleme op grondvlak onmiddelik op te los.

Die inisiatief om so ’n VIS te stig, moet egter self deur die plaaslike gemeenskap geneem word om die sukses daarvan te verseker, het hy bygevoeg.

Volgens George Galloway, voorsitter van die Harrismith Distrikslandbou-unie, is veediefstal eenvoudig besig om op ’n nasionale vlak te eskaleer, maar baie spesifiek in die Noord-Oos Vrystaat. Lede van boereverenigings kyk na die georganiseerde landboustrukture om oplossings te vind.

“Een van die beproefde maniere om veediefstal hok te slaan, is om ’n informantenetwerk oor die hele streek op te bou. Daarmee saam is bekwame en bevoegde beamptes in die veediefstal-eenhede in die streek net so onontbeerlik, en hierin bestaan daar ’n groot tekort. Op die oomblik moet die boer maar die speurwerk doen om inligting vir die beamptes te versamel, anders gebeur baie min.”

Galloway het egter beklemtoon dat daar wel ’n paar veediefstal-speurders is wat werklik bevoeg is en hul deel doen, maar hulle is ongelukkig in die minderheid. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit