Estimated reading time: 7 minutes

Suid-Afrika is eeue al ’n land waar skaapboerdery bedryf word. Een van die hoofredes waarom die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC) besluit het om ’n kolonie aan die Kaap te vestig, was die beskikbaarheid van vleis van die skape wat ontdekkingsreisigers voor 1652 aan die kuslyn gesien het.

Lees hier oor infrastruktuur vir intensiewe skaapboerdery.

Die skape, wat aan die Khoikhoi behoort het, het vermoedelik hul oorsprong in Suidelike en Sentraal-Asië gehad, van waar hulle na Egipte en verder af deur Afrika gemigreer het. In 1657 het die Nederlandse goewerneur, Jan van Riebeeck, melkskape van Nederland af ingevoer en hulle met plaaslike, hariger skape begin kruis om hulle meer aanpasbaar vir die klimaatstoestande te maak.

Die skaap- en wolbedryf het egter eers in 1789, met die invoer van Merinoskape uit Nederland, vinnig begin groei en sedert die vroeë negentiende eeu begin uitbrei. In hierdie tydperk is nuwe rasse, soos die Dormer en Spaanse Merino, ook aan die mark bekendgestel en die Karoo het die vernaamste skaapboerdery-distrik in die land geword.

Die geskiedenis leer ons dat uitgebreide, ekstensiewe skaapproduksie sedert die sewentiende eeu in Suid-Afrika beoefen is – en dat dit boonop die enigste produksiemetode vir ongeveer 350 jaar was. Deesdae raak ’n nuwe konsep, intensiewe skaapproduksie wat korter lam-intervalle bied, al hoe gewilder. Intensiewe skaapproduksie verskil heelwat van die praktyke wat voorheen toegepas is, en die vraag is of hierdie “nuwe” produksiemetode sin maak – en indien wel, hoekom is dit nie vroeër toegepas nie?

’n Definisie van die konsep

’n Intensiewe produksiestelsel kan breedweg gedefinieer word as een waar groot getalle diere op ’n relatief klein stukkie grond gehuisves word. Wanneer tipiese intensiewe produksiestelsels soos pluimvee, varke en selfs sommige melkprodusente in ag geneem word, is dit maklik om ’n verband met bogenoemde definisie te kry.

Intensiewe skaapproduksie het ’n noue verband met hierdie definisie, aangesien baie skape op ’n klein stukkie grond gehuisves kan word danksy die voorsiening van aanvullings en selfs volvoer-rantsoene. Die skape kry dus dwarsdeur die jaar ’n volvoer-rantsoen, óf die ooie met lammers kry ’n volvoer-rantsoen terwyl die droë en dragtige ooie op natuurlike weiding met byvoeding loop.

Die optimale voeding wat ooie ontvang, maak dit moontlik om die lam-intervalle te versnel. In die meeste gevalle lam die ooie elke agt maande, of drie keer in twee jaar. Die hoër voer- en bestuurskoste van intensiewe stelsels vereis meer lammers per ooi om ’n wins te maak, en die riglyn is dat elke ooi vyf lammers in ’n tweejaarsiklus moet produseer. Teelooie word dus versigtig geteel en geselekteer na gelang van hulle vermoë om verskeie lammers met ’n enkele geboorte te produseer.

Ten einde die bestuursproses te vereenvoudig, word ooie in klein groepe gesinkroniseer en gepaar, of kunsmatige of laparoskopiese inseminasiepraktyke word toegepas. Dit beteken dat al die ooie in ’n groep binne ’n paar dae uitmekaar sal lam en dat die hele groep in lamhokke gehou kan word om te verseker dat die pasgebore lammers behoorlik versorg word.

Die intensiewe produksietendens

Boerdery moet verskeie uitdagings bestuur en uitgebreide skaapproduksie is nie gespaar hiervan nie. Wanneer ’n mens hedendaagse boerdery vergelyk met praktyke wat 50 of 100 jaar gelede toegepas is, is een van die eerste dinge wat jy opmerk dat produsente se gemiddelde plaasgrootte mettertyd toegeneem het.

Die rede hiervoor is ekonomieë van skaal wat dit onmoontlik maak om, soos die tyd aanstap, ’n bestaan op dieselfde stuk grond te maak. Die kosteknyptang het produsente wat nie in staat was om meer grond te bekom nie, uit die mark gedruk, en deesdae is daar minder produsente met groter plase.

Die vinnige styging in grondpryse oor die laaste paar dekades het dit egter moeiliker gemaak vir landbouprodusente om hul grond uit te brei. Soos wat produsente begin het om ekonomies te sukkel, moes ander alternatiewe gevind word om hul produksievlakke uit te brei. Die oplossing was om produktiwiteit te verhoog, sodat meer uitsette uit dieselfde stuk grond gekry word – en vir skaapboere het intensiewe produksie die ideale oplossing gebied.

Buiten hoër produktiwiteit, bied intensiewe skaapboerdery ook ’n oplossing vir ander uitdagings wat die produsent in die gesig staar. Die intensiewe stelsel het verliese vanweë roofdiere en diefstal aansienlik verminder – en in sommige gevalle heeltemal uitgeskakel – aangesien die skape nie meer in ’n uitgebreide gebied wei nie.

Uitwerking van droogte

Die uitwerking van die droogte is ook verminder, aangesien die diere nie op natuurlike weiding staatmaak nie en van voer voorsien word. ’n Produsent het onlangs opgemerk dat dit in droogtetye ekonomies meer sin maak om voer te voorsien vir ’n ooi wat vyf lammers in twee jaar in ’n intensiewe stelsel lewer, as wat dit is om voer te voorsien vir ’n ooi in ’n uitgebreide stelsel wat slegs twee lammers in dieselfde tydperk lewer.

’n Intensiewer bestuurstelsel verseker ook dat die produsent die diere op ’n daaglikse basis kan inspekteer, en enige gesondheids- en ander probleme dadelik kan aandag kry. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat ’n behoorlike dieregesondheidsprogram gevolg moet word, aangesien peste en siektes soos ’n veldbrand in ’n intensiewe stelsel kan versprei.

Insette teenoor uitsette

Buiten die voordele van intensiewe skaapproduksie, moet ’n mens ook besef dat daar ’n groter kostefaktor betrokke is. Dit is duurder om skape te voer as wat dit is om hulle op natuurlike weiding te laat wei.

Meer geld word aan gesondheidsorg bestee, dit is duurder om ooie te sinkroniseer en kunsmatige inseminasie (KI) te doen as om hulle natuurlik te laat teel, en dan moet die voorafgaande kapitaaluitleg in die vorm van behuising en lamhokke ook in ag geneem word.

Hoewel elke produsent se intensiewe skaapproduksie-eenheidsom van die volgende sal verskil, maak die konsep ekonomiese sin vanweë drie faktore:

  • Oordeelkundige gebruik van insette.
  • Hoër produktiwiteit.
  • Uitsetbeplanning.

Marginale koste

Die oordeelkundige gebruik van insette is gekoppel aan die marginale koste en opbrengste van ’n inset, en produsente behoort slegs die produksie-inset te verhoog tot op die vlak waar die ekstra koste van die addisionele inset gelyk is aan die ekstra voordele. Dit is ten nouste gekoppel aan presisieboerdery, waar aandag aan variasie ter sprake kom.

Dit beteken nie die boer sal op sy totale produksiekoste bespaar nie, maar dat hy meer eenhede sal hê wat ’n hoë produksiepotensiaal met meer insette bied as eenhede met ’n laer produksiepotensiaal.

In die geval van intensiewe skaapproduksie beteken dit die produsent bestee meer insette aan ’n ooi wat ’n drieling lewer as aan ’n ooi met slegs een lam. Die addisionele opbrengs van die ekstra lammers behoort dan te vergoed vir die ekstra insette wat gebruik is.

Hoër produktiwiteit beteken dat wanneer produsente hul insetverbruik met ’n sekere faktor verhoog, die geproduseerde uitsette met meer as daardie faktor sal verhoog. Intensiewe skaapproduksie is ’n voorbeeld hiervan wanneer ’n mens die indrukwekkende speenpersentasies wat vanweë die ekstra koste behaal is, vergelyk. Wanneer grondgebruik in ag geneem word, is die verhoging in produktiwiteit van uitgebreide na intensiewe produksie op dieselfde stuk grond, ook indrukwekkend.

Stof tot nadenke

Markte, insluitende die mark vir lammers, is siklies en word deur vraag en aanbod beheer. Die prys van lammers is gewoonlik op sy laagste wanneer lammers gereed vir die mark is, want die lammers van ander produsente is ook op dieselfde tyd gereed en die aanbod is dus hoog.

Intensiewe skaapproduksie bied die boer ’n geleentheid om die dek-, lam-, speen- en slagtyd van sy diere te beheer, wat hom in staat stel om lammers aan die mark te voorsien wanneer pryse hoog is. Aangesien die boer nou nie meer op die natuur staatmaak vir weiding nie, kan hy in werklikheid teen die natuur en saam met die mark boer.

Indien ’n mens met ’n intensiewe skaapprodusent praat, sal jy vinnig besef dat hierdie stelsel beslis die pad vorentoe vir skaapproduksie is. Die praktyk maak ekonomies sin, mits nuwelinge voorbereid is op die intensiewe en streng bestuursprosedures wat daarmee saamkom.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat, hoewel intensiewe skaapproduksie beslis ’n plek in die toekoms het, nie elke bestaande skaapprodusent in staat sal wees om hierdie roete te volg nie, aangesien ekstensiewe weiding die bekostigbaarste bron van voeding is. Aan die ander kant, ’n stelsel waar die boer ekstensiewe weiding kan benut terwyl sy ooie terselfdertyd intensief lam om verliese te beperk, kan dalk die beste van beide wêrelde beteken.

Vir meer inligting, kontak Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za.