Die potensiaal van ivermektien as doeltreffende teenmiddel vir COVID-19 word tans wêreldwyd gedebatteer, met kenners wat verdeeld is oor menslike gebruik van dié middel, wat in Suid-Afrika slegs vir diere geregistreer is.

Geskiedenis van ivermektien

Die ontwikkeling van ivermektien was een van grootste deurbrake ooit in dieregesondheid. Navorsing daaroor is in die 1970’s gedoen en die produk is in die 1980’s vrygestel. Dit was die eerste middel wat vir inwendige sowel as uitwendige parasiete gewerk het – dit teiken spesifiek rondewurms en enige bloedsuiende, uitwendige parasiete soos bloubosluise en skurftemyte. Dit was ’n ongelooflike ontwikkeling vir daardie tyd.

Read it in English

Dit het ook die enkel grootste produk in die wêreld geword vir gebruik in vee. Daar is vandag ongeveer 40 verskillende handelsname beskikbaar en dit is steeds die grootste kategorie in die dieregesondheidsmark. Dit is aanvanklik eers in beeste gebruik, maar is later uitgebrei om skape, varke, wild en selfs troeteldiere in te sluit. Daar is wel spesifieke honderasse waarvoor dit giftig is.

Die fokus was nog al die jare op dié middel se werking teen parasiete. In die 1980’s, byvoorbeeld, het die maatskappy wat ivermektien ontwikkel het, navorsing gedoen oor hoe die produk in Afrika aangewend kon word om menslike gesondheidsprobleme op te los. In tropiese dele van Afrika is dit op groot skaal gebruik om siektes soos rivierblindheid en olifantsiekte suksesvol te behandel. Die produk is egter in meeste dele van die wêreld nié vir menslike gebruik geregistreer nie.

Navorsing lyk belowend

Daar is die afgelope tien jaar baie werk rondom die antivirale effek van ivermektien gedoen. Die navorsing is opwindend omdat daar nie tans ’n breëspektrum antivirale middel in die dieregesondheidsmark is nie. Antibiotika word as ’n teenmiddel vir bakterieë gebruik, maar vir virussiektes is daar slegs entstowwe. Daar is dus geen ander behandelingsopsie as om diere vooraf in te ent nie.

Veeartse werk op ’n daaglikse basis met ’n verskeidenheid virussiektes en daar is sowat 30 entstowwe vir volwasse diere teen verskillende virusse. Tog is daar ’n paar siektes waarvoor daar geen entstowwe of behandelings is nie. ’n Voorbeeld is snotsiekte in beeste, wat vanaf blou- of swartwildebeeste oorgedra word. As snotsiekte in ’n kudde voorkom en die eerste paar beeste vrek, word aanvaar dat meer diere gaan vrek en dat niks daaraan gedoen kan word nie.

Heelwat navorsingstukke toon dat ’n molekule in ivermektien doeltreffend is teen beesherpesvirus-1. Dít is ’n opwindende ontdekking, want snotsiekte is ook ’n herpesvirus en is dus nabyverwant. Verdere toetse is egter nodig om die produk se doeltreffendheid as breëspektrum antivirale middel te bepaal.

Ivermektienvergiftiging

Ivermektien is 100% veilig vir mens en dier, mits dit nie die brein bereik nie. Waar die bloedbreinskans normaal, aktief en in plek is, is die produk veilig. Indien dit wel die brein bereik sal dit verlamming en uiteindelik die dood veroorsaak.

Gevalle van ivermektienvergiftiging kom wel voor. Daar is in die meeste gevalle egter baie spesifieke redes daarvoor. Van die belangrikste is:

  • Waar diere wat totaal uitgehonger en vermaer is, behandel word. Die molekule bind aan die vet en as daar nie vet in die liggaam is nie, dan is die enigste vet wat oorbly in die brein.
  • Oordosering. Dit is meer algemeen by skape – die dosis vir beeste word dikwels vir skape gegee.
  • Waar diere gifplante ingeneem het. Daar is verskeie giftige plante in Suid-Afrika wat teen ’n lae vlak deur diere verwerk kan word. Nes met ivermektien, moet daardie gifstowwe egter nie die brein bereik nie. Die bloedbreinskans pomp dié gifstowwe uit, maar as ’n tweede gifstof soos ivermektien (moet nooit vergeet dat dit ’n gifstof is nie) bygevoeg word, beweeg dit deur die bloedbreinskans omdat albei stowwe nie teëgewerk kan word nie.

Oplossing vir die pandemie?

Daar is verskeie opinies oor die gebruik van ivermektien as teenvoeter vir die koronavirus. ’n Vraag wat toenemend gevra word is, indien daar ’n produk beskikbaar is wat reeds wyd in Afrika deur mense gebruik is, waarom ons dit nie kan gebruik nie?

My ervaring is dat dít wat ek in die veld sien, die werklikheid is. Die terugvoer wat uit verskeie oorde ontvang word is dat ivermektien ’n werklike kliniese respons teen die virus toon. Myns insiens moet daar dus vinnig en aktief na die registrasie van die produk vir menslike gebruik gekyk word.

Die veiligheidswerk is reeds gedoen: Daar is sedert die 1980’s al meer as twee miljard dosisse deur mense gebruik. Wat doeltreffendheid betref, kan daar na data van regoor die wêreld gekyk word.

Ek glo ivermektien se breëspektrum antivirale effek kan ’n wesenlike rol in die pandemie speel en indien daar enigsins ’n geleentheid is, moet plaaslike owerhede alles in hul vermoë doen om dié middel spoedig vir menslike gebruik te registreer.   

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Danie Odendaal by vnet@absamail.co.za. – Dr Danie Odendaal, direkteur, Veearts Netwerk