Jeugskou en skoupluimveebedryf groet ‘n legende

133
Hier ontvang oom Ben 'n oorkonde vir sy reuse bydrae tot Jeugskou in Suid-Afrika. Van links na regs is Hugo Lochner van Plaas Media, Liza de Beer van Old Mutual Insure Agri, Johlene Hall, Ben se vrou en oom Ben.

Dit is met groot hartseer dat die skoupluimveebedryf en die Nasionale Jeugskou onlangs moet afskeid neem van Ben Hall, na ‘n kort siekbed.

Ben was vir jare voorsitter van die Wes-Kaap Pluimveeklub, bestuurslid van die Wes-Kaap Jeugskou, erelid van SASPO (die Suider-Afrikaanse Pluimvee-organisasie) en het tot en met verlede jaar by die Nasionale Jeugskoukampioenskappe as beoordelaar opgetree. Sy kennis oor pluimvee en sy passie vir kinders het hom die ideale man gemaak om vir baie jare as SASPO se nasionale jeugverteenwoordiger op te tree.

‘n Nalatenskap wat gemis sal word

Ben het vas geglo dat jeugskou die skoupluimveebedryf kan help en het daarom ook ‘n DVD uitgebring wat alles oor die skou van pluimvee saamvat. Hierdie DVD is vir Jeugskou van onskatbare waarde, omdat dit gelei het tot ‘n oplewing in hierdie afdeling by jeugskoue regoor Suid-Afrika.

Oom Ben, soos hy maar by al die kinders bekendgestaan het, sal deur elke Jeugskou-kind, -beoordelaar, -ouer en -vriend gemis word. Hy laat ‘n groot leemte, maar die “legacy” wat hy agterlaat, is groter.

Rus in vrede oom Ben. – Breyton Milford, Nasionale Jeugskou