Tarkastad se skou het op Vrydag 23 Februarie met ’n opwindende jeugskou afgeskop. Die jaarlikse skou sluit ook die deelname van verskeie boer- en saalperdruiters in, en Saterdagmiddag is die geleentheid met die aanwysing van die groot kampioene afgesluit.

Harde werk onder streng toesig

Carin Venter van Veeplaas het die dag saam met die jeugskou-deelnemers, beoordelaars en ouers deurgebring en die geleentheid benut om met ’n paar van hulle te gesels. Marlie Geldenhuys, ’n nasionale wenner in die junior pluimvee-afdeling in 2017, se afrigter en ’n beoordelaar, Lana Jansen van Rensburg, het ’n bietjie terugvoer gegee.

“Die kompetisie is in drie afdelings gedeel, naamlik teorie, ’n wasproses en die skoumanafdeling. Al drie saam tel 100 punte.” Volgens Lana kyk hulle hoe ’n kind sy of haar hoender hanteer. “Daar is ook rasstandaarde waar hulle hul hoender met die neergelegde standaarde vergelyk. Hulle moet al die foute uitwys en sterk en minder goeie punte uitlig.”

Juan Wentzel, ’n graad 10-leerling, neem al baie jare aan die jeugskoukompetisie deel. “Die groot voordeel daarvan is dat jy dissipline leer en om diere korrek te hanteer. Dit is nie altyd so maklik nie. Daar is nogal baie onderlinge mededinging, terwyl die beoordelaars ook nogal streng is.”

Om te kwalifiseer

’n Hele aantal kwalifiserende jeugskoue vind elke jaar in elke provinsie plaas. Elke deelnemer moet aan ten minste twee jeugskoukompetisies deelneem, en in die Oos-Kaap moet dit ten minste een van Cradock, Middelburg of Tarkastad insluit.

Die OP se jeugskoukampioenskap word vanjaar op 16 en 17 Maart op Hofmeyr gehou, terwyl die nasionale jeugskoukampioenskap van 30 September tot 3 Oktober in George aangebied word. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, besoek gerus die nasionale SA Jeugskou Facebookblad by https://web.facebook.com/SAJeugskou/.

Belangstellendes kan ook die volgende Oos-Kaapse bestuurslede kontak:

Ezelle Marais (voorsitter): 082 552 2309 of ezelle@r63.co.za.

Frikkie Wentzel (ondervoorsitter): 082 872 8833 of frikkie@bosberg.co.za.

Amoúr Strydom (ECASA-koördineerder): 082 459 6696 of rensreich@igen.co.za.