Die dag het koud en reënerig begin, en dwarsdeur koud gebly. Dit kon egter nie die vurige jeugskou-deelnemers by die 2018 Old Mutual Insure Agri Nasionale Jeugskoukampioenskap keer nie.

Dag 2, 2 Oktober 2018, was die skoumanskap dag en die meer as 400 deelnemers is in hul individuele klasse in die verskillende kategorieë op hul vermoë om die dier te vertoon, beoordeel.

Tydens die beoordeling word daar veral gelet op die deelnemer se netheid en dissipline, konsentrasievermoë, hantering van die dier, hoe flink hy/sy reageer, en verskeie ander aspekte. Keith Coetzee, ’n beoordelaar in die melkbok-afdeling, vertel dat die algemene standaard vanjaar baie hoog is. “Die kinders is pragtig en werk so goed met hulle diere. Dis ’n voorreg om hier te beoordeel,” sê hy.

Volgens Lourence van der Colff, ’n beoordelaar in die wolskaap-afdeling, is die kinders kort op mekaar se hakke in die skoumanskapklasse. “Dit is interessant om te sien hoe die standaard elke jaar hoër word en die gaping tussen die deelnemers wat eerste en laaste geplaas word, al hoe kleiner krimp. Die gehalte in die ring raak al hoe meer eenvormig.” Dié mening is deur elke beoordelaar in sy kommentaar aan die einde van ’n klas bevestig.

“Ek dink vanjaar se nasionale jeugskoukampioenskap is ’n reuse sukses,” voeg Martin Seyfferdt, wie in die vleisbees-afdeling beoordeel het, by. “Nie net is die standaard van deelnemers uitstekend nie, maar ook die vlak waarop dit aangebied word. Dit is uitstekend georganiseer en die George skougronde bied die perfekte terrein,” sê hy.

Die wenners van die skoumanskapvertonings is reeds aan die einde van elke klas aangekondig. Dié afdeling tel 50% van die deelnemer se totale punt, terwyl die teoretiese eksamen 20% tel, en die was en voorbereiding 15% elk. Die wenners in elke afdeling en ouderdomsgroep, asook die wenprovinsie en ander toekennings, word dan by die hoogtepunt van die kampioenskap, die prysuitdeling, aangekondig.

Die kampioenskap sluit op die laaste dag af met die groepsklas-beoordeling waartydens deelnemers in spanne van drie in hul onderskeie afdelings en ouderdomsgroepe meeding. Hier word daar veral gekyk na hoe die drie as ’n span saamwerk en hoe gekoördineerd hulle beweeg en aksies uitvoer.

Hou die SA Jeugskou en die hutsmerk, #SAjeugskou18, op sosiale media dop vir die jongste nuus. Die volledige uitslae sal binnekort na die afhandeling van die kampioenskap op www.agriorbit.com geplaas word. – Marike Brits, Veeplaas