Desember 2021 was een van die natste Desembers op rekord, het weerkundige Johan van den Berg onlangs op RSG Landbou gesê. Volgens Van den Berg is dit veral waar vir die sentrale dele van die land waar gemiddelde reënval reeds hoër is as die jaarlikse gemiddelde reënval.

Senekal in die sentrale Vrystaat het vir Desember sowat 320mm gemiddelde reënval gehad en die langtermyn gemiddelde reënval is sowat 100mm. Vir die seisoen van 1 Julie het Senekal reeds 500mm, wat gewoonlik die jaarlikse totaal is, sê Van den Berg. Fouriesburg in die Oos-Vrystaat het in Desember reeds 300mm gehad, waar die seisoen in geheel 560mm reën kry. In die Noordwes het Coligny 230mm vir Desember gehad, terwyl die seisoen al 500mm gehad het. Marble Hall het 260mm in Desember gehad, en 400mm vir die seisoen.

Té nat of té droog

Groot gedeeltes van die baie droë Noord- en Oos-Kaap het ook goeie reën begin kry. Heelwat plekke het tussen 50 en 100mm in die laaste deel van November en Desember gekry. In die Oos-Kaap het gedeeltes soos Willowmore en Aberdeen vir die eerste keer in baie jare reën gekry.

In die suidwestelike dele van die Noord-Kaap het daar ook goeie reën voorgekom. In die laaste ses tot tien jaar het daar nie soveel reën of opvolgreën voorgekom nie. Dit begin tog ’n duik in die droogte maak, hoewel die impak van die droogte nog duidelik is, het hy gesê.  

Volgens Van den Berg is daar reeds baie skade aangerig aan somergewasse in sentraal en Oos-Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga. Hy sê dat dit nie net nat toestande is wat die gewasse beïnvloed nie, maar dat daar ook minder hitte-eenhede was. In Bothaville, byvoorbeeld, was daar 10% minder hitte-eenheede in Desember as gewoonlik. Die bewolkte toestande beïnvloed ook die groei van somergewasse.

Weervooruitsigte

Wat lê voor vir die res van die somer? Hy sê Januarie, Februarie en Maart is tradisioneel die groot reënmaande in die somerreënvalgebiede. Oor die korttermyn verwag hy dat 20 tot 25 Januarie ’n bietjie droeër sal wees, maar dat die laaste week van Januarie en die begin van Februarie weer meer reën maar meer in die oostelike gedeeltes sal hê.

In die tweede helfte van Februarie sal die reën eers wes begin beweeg. Die Wes-Kaap sal in die volgende paar weke baie warm en droë omstandighede ervaar, wat deur vrugteboere verwelkom sal word. Dit lyk oor die korttermyn of reën in somereënvalgebiede nog nie verby is nie.

As ’n mens na vorige jare verwys met betrekking tot La Niña-jare, reën dit gewoonlik tot Mei. Daar is ’n goeie kans dat ons tot middel Februarie baie reën gaan kry in die sentraal na oostelike gebiede. Die La Niña-jare het gewoonlik twee of drie pieke van reënval wat die vloedrisiko beïnvloed. Hy glo ons het die eerste piek nou bereik, en dat nog ’n piek einde Januarie en in Februarie gaan kom wat die vloedrisiko, veral benede die Vaal- en Oranje-riviere, verhoog. – Ursula Human, AgriOrbit