Jong afslaers meet kragte by KragDag-ekspo

98
Ernst Bothma, junior deelnemer, Gys Taute, beoordelaar, Sihle Mthombeni, junior deelnemer, Hennie van Staden, ’n onderwyser by Hoërskool Erasmus, en Albert Loubser van Plaas Media.

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, in samewerking met Plaas Media se tydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, word vanjaar vir die sesde agtereenvolgende jaar aangebied. Jong en junior afslaers kon by verskeie streeksrondtes teen mekaar meeding in ’n kammaveiling. Die wenners het gekwalifiseer om in September by ALFA 2019 vir die nasionale titel mee te ding.

Vanjaar is die eerste jaar wat dié kompetisie by die Sakeliga KragDag-ekspo, wat van 8 tot 10 Augustus by die Diamantvallei-landgoed naby Rayton plaasgevind het, se landbou sub-ekspo gehou is. Die Gauteng/Noordwes-rondte was die laaste rondte voor die nasionale rondte by ALFA 2019, en deelnemers kon in beide die junior en jong kategorieë meeding.

Strawwe mededinging

Twee leerlinge van Hoërskool Erasmus, Sihle Mthombeni en Ernst Bothma, het aan die junior kategorie by KragDag deelgeneem. Flekkie du Toit, Henri Beyleveldt en Tumiso Sebogodi het aan die jong kategorie deelgeneem. Die deelnemers is deur Gys Taute, ’n bemarker by Vleissentraal Ermelo, beoordeel.

Sihle en Ernst het gelyk geëindig na twee strawwe rondtes, waar hulle ’n Limousinbul van Pumba Limousins moes opveil. Beide Sihle en Ernst het gekwalifiseer om vir die nasionale junior titel by die ALFA-ekspo te kompeteer.

Flekkie du Toit, wat by André Kock en Seun werk, was die wenner van die jong kategorie. Henri Beylevedt het met die tweede plek weggestap en Tumiso Sebogodi het derde geëindig.

Uitstekende platform vir afslaers

Flekkie, wat ook verlde jaar gekwalifiseer het, het besluit om vir ’n tweede keer deel te neem omdat hy dit geniet om in dié kompetisie mee te ding. Hy meen ook dat die regte persoon hom dalk net by so ’n kompetisie kan raaksien.

“Ek dink dit is ’n uitstekende platform vir nuwe afslaers. ’n Mens leer baie en dit gee aan die jonger generasie afslaers ’n kans om naam te maak vir hulself,” sê hy.

Hy meen dat dit ’n baie strawwe kompetisie was. “Dit maak my trots om ’n afslaer te wees, en dit voel goed om te weet dat mense my afslaerstegniek geniet en my vertrou om hulle produkte te verkoop. My passie is om ’n afslaer te wees en ek leef daarvoor.”

Finale rondte by ALFA

Die finale rondte was gehou by ALFA 2019, wat van 17 tot 19 September by die Afridome in Parys plaasgevind het. Flekkie het hom aangesluit by JP Marais, wenner by Agri-Expo Livestock; Freddie Breytenbach, wenner by die Castle de Wildt Landbou-, Wild- en Jagekspo; Bennie Steyn, wenner by die Bloemskou; en Fiso Hadebe, wenner by die Royal-skou. Die wenners van die nasionale rondte se name was nog nie met die skryf van hierdie artikel beskikbaar nie.

Fernando Craighead, wat ook tydens die Royal-skou gekwalifiseer het, het saam met Sihle Mthombeni en Ernst Bothma vir die junior titel meegeding.

Die volledige uitslae van die finale rondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie sal in die November uitgawe van Veeplaas verskyn.

Vir meer inligting, skakel Imele Loubser by 072 603 3953 of stuur ’n epos aan imele@plaasmedia.co.za.