JP van den Berg van die Toska-omgewing in Noordwes is pas as die 2018 Toyota SA Agri SA jongboer van die jaar aangewys. Whernit Dirks van die Bergrivier-streek in die Wes-Kaap is as die 2018 Toyota SA New Harvest boer van die jaar aangewys. Die toekenningsgeleentheid was ’n viering van positiwiteit oor landbou.

“Dit is belangrik om kompetisies soos dié te wen en met ’n spoggerige nuwe Toyota Hilux huis toe te ry, maar dit is selfs nog belangriker om ’n positiewe landbouleier te wees,” het Dan Kriek, president van Agri SA, aan die finaliste gesê.

Toyota SA borg reeds sedert 2014 die Toyota SA Agri SA jongboer van die jaar-kompetisie en het in 2008 ook die New Harvest-kompetisie bygebring. Tydens die toekenningsgeleentheid is aangekondig dat die kontrakte vir die ondersteuning van die kompetisies vir die volgende drie jaar hernu is.

Calvyn Hamman, senior visepresident van verkope en bemarking by Toyota SA, moedig boere aan om nooit op te hou om te verbeter nie. “Baie onsekerheid bestaan, maar dit is die geval regoor die wêreld. Bly positief, hou jou oë op die toekoms, doen wat jy die beste doen en moenie vasgevang raak in die politieke retoriek nie. Die oplossings sal kom.” Hy plaas verder klem op die waarde van respek en moedig boere aan om ’n kultuur van respek in hulle boerderye te kweek.

Prof Carlu van der Westhuizen, sameroeper van die beoordelaarspaneel, benadruk dat die wenners slegs volgens meriete gekies word. “Ons plaas baie fokus op strategiese besigheidsdenke en vindingrykheid,” sê hy. Die beoordelaars het meer as 8 000km landwyd gereis om al die finaliste op hulle plase te besoek.

Die Toyota SA Agri SA jongboer van die jaar-finaliste saam met prof Carlu van der Westhuizen, sameroeper van die beoordelaarspaneel, Calvyn Hamman van Toyota SA en Dan Kriek van Agri SA (heel regs). Agter van links is Hannes Wolvaardt, JP van den Berg, Johan de Wet en Johan Teesen. Voor is Nelius Ferreira, Rustin Shawe, Van Zyl Naude, Riaan Strydom en Lion du Plessis.
Die Toyota SA New Harvest-finaliste saam met prof Carlu van der Westhuizen, sameroeper van die beoordelaarspaneel. Van links is Joseph Hendricks, Ester Mhlongo, Whernit Dirks, Sooveir Rajkumar en Melusie Ntshangse.
JP van den Berg boer met saadaartappels, kommersiële en stoetvee, grassade en wild in die Toska-omgewing. Hy bestuur ook ’n hoenderabattoir. Whernit Dirks boer met koring, weiding, skape en gars in die Bergrivier-streek in die Wes-Kaap.
“Ek is so opgewonde,” het Whernit gesê nadat hy sy toekenning ontvang het. “Dit is nuwe inspirasie vir my, my hele span, my streek en boere soos ek. Ek glo in ’n blink toekoms vir landbou in Suid-Afrika en ’n toekenning soos dié en dit wat ek by die ander boere gesien het, gee die gedagte ’n verdere hupstoot. Ek wil almal in die landbou aanmoedig om positief te bly en vas te hou aan hulle passie vir landbou.”
JP beklemtoon die boodskap van positiwiteit verder. “My boodskap aan alle boere is om hulle fokus te behou en positief te bly. Die toekenning beteken so baie vir my en ek wil vir almal wat saam met my hard werk om ons doelwitte te bereik, baie dankie sê.” Hy bedank ook die lojale verbruikers in Suid-Afrika en buite Suid-Afrika se grense, wat die produkte van Suid-Afrikaanse landbou verbruik en geniet. – Marike Brits, AgriOrbit

Jongboer-finalis kuier op Grootplaas