Jongboer bereik boerderydoelwitte tree vir tree

0

Estimated reading time: 5 minutes

’n Dinamiese saai- en kommersiële beesboer van die Hartbeesfontein-distrik in Noordwes doen die beeld van jongboere in Suid-Afrika goed gestand. Die 34-jarige Wernich Lemmer is onlangs as Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar aangewys en dring nou deur na Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie wat later vanjaar plaasvind. Andries Coomans van Agri Excelsior en Christo Greyling van Agri Sannieshof-Saamwerk was die naaswenners. Die aankondiging wat virtueel plaasgevind het, is deur Senwes moontlik gemaak.

Wernich het op RSG Landbou vertel waar sy passie vir landbou vandaan kom. Luister nou na hierdie onderhoud:

’n Beskeie Wernich en sy vrou Annerie het in Februarie 2018 na die familieplaas Lemmersville in Noordwes verhuis, nadat hy sy beroepsveld as meganiese ingenieur vaarwel geroep het om voltyds by die familieboerdery betrokke te wees. Dít kom nadat sy pa, Willie, dit aan hom voorgestel het. Wernich het nie geskroom nie en is terug plaas toe omdat hy nog altyd ’n passie vir boerdery gehad het.

Boerderyvertakkings

Wernich se boerderyvertakkings bestaan uit 80% saaiery (grotendeels mielies) en 20% beesproduksie. Hy is baie trots op die Bonsmara-kudde wat sy pa oor 30 jaar suksesvol opgebou het. Wernich is doelgerig en het ’n sterk visie om die boerdery uit te brei. Daarom het hy duidelike kort-, medium- en langtermyndoelwitte daargestel en het reeds daarin geslaag om van hierdie doelwitte te bereik.

Grondbewerkingstelsels

Wernich se benadering tot alternatiewe grondbewerkingstelsels is indrukwekkend. Hy sê grond in hul saaivertakking is aanvanklik primêr volgens ’n konvensionele oorlêstelsel bewerk. Hulle het intussen oorgeskakel na verminderde bewerkingsmetodes en mik nou om hulself die komende seisoen op ’n minimumbewerkingstelsel toe te spits.

Hy sê hulle doen reeds die afgelope drie jaar rip- en strookbewerking (‘strip tillage’). Daarmee saam gaan hulle ook nou wisselbou toepas, terwyl dekgewasse reeds die afgelope twee jaar aangeplant is. Dié stelsel is in plek gestel ten einde vogbewaring te verhoog en gronduitputting, weens die ploegaksie, te verminder.

Wernich sê wisselbou (mielies en sonneblom) gaan in die volgende seisoen toegepas word. Hulle oorweeg ook die aanplant van bittersorghum. ’n Oorlêstelsel is belangrik wanneer jy tussen wit- en geelmielies wil wisselbou, noem hy grappenderwys, terwyl ’n wisselboustelsel dit moontlik maak om elke jaar ’n kontantgewas te plant.

Dekgewasse

Op die grond wat oorgelê het, is daar gedeeltes wat nie aan die verwagting voldoen het nie. Op daardie grond het Wernich al die afgelope twee jaar dekgewasse aangeplant.

“Met dekgewasse bevorder jy nie net grondgesondheid en -gehalte nie, maar dit dien ook as goeie voeding vir die beeste.”

In die eerste jaar het Wernich ’n laatsomermengsel aangeplant, wat somer- en winterdekgewasse bevat het. Dit het goed vir hom gewerk, want nadat die somergewasse bewei is, was daar weer hergroei van die winterdekgewasse, wat dus op ’n latere stadium weer bewei kon word.

Wernich sê in terme van dekgewasse is dit belangrik om vooruit te beplan, veral rondom die komende seisoen se kontantgewas-aanplantings. Hy voeg by dat indien mielies die komende seisoen aangeplant gaan word, moet ’n dekgewasmengsel saamgestel word wat nie mielieverwante plante bevat nie.

Babala en sorghums moet in dié geval uitgeskakel word, en peulgewasse soos akkerbone of Dolichos, kan oorweeg word. Hy sê verder dat Brassicas, soos intervalrape of ripperradyse, ook bygevoeg kan word. Wanneer sonneblom die komende seisoen aangeplant word, kan daar dus meer op grastipes gefokus word. Wernich fokus meestal op weiwieke en hawer in sy winterdekgewasmengsels. Met die aanplant van hawer kan aalwurms ook beperk word.

Doelwitte vir saaivertakking

Wernich sê hulle het reeds in hul korttermyndoelwit geslaag ten opsigte van hul minimum-grondbewerkingstelsel. Hulle is ook goed op dreef met hul strewe na presisieboerdery nadat hulle presisietegnologie oor ’n tydperk van vier jaar stelselmatig aangewend het.

Daar is ook goeie vordering om hul langtermyn-mielieproduksiegemiddeld met ’n ton te vermeerder.

Hy sê hulle maak ook vordering in terme van hul ander korttermyndoelwit om te eksperimenteer met dekgewasmengsels op verskillende gedeeltes grond, en om vas te stel wat die uitwerking daarvan op verskillende gewasse is.

Nog ’n korttermyndoelwit wat goed vorder, sluit die uitbreiding van die plaas se saaigronde in nadat Wernich hul beeskudde vergroot het. “Ons het die afgelope drie jaar redelik beeste teruggehou en ons wil nou 10 tot 20% landerye bywerk.”

Die boerdery se mediumtermyndoelwit vir die volgende vyf tot tien jaar sluit derde en vierde boerderyvertakkings in. Hy sê in hierdie stadium oorweeg hulle dit om ’n vertakking soos bergingsgeriewe vir hul grane asook ’n verwerkingsaanleg op die plaas te vestig.

Hulle sal nog bepaal of dit vir die doeleindes van veevoer of mieliemeel gaan wees. “Die semels (‘chop’) wat jy kry as ’n neweproduk uit dié geriewe kan verkoop of in jou eie voerkraal gebruik word.” 

Vereistes vir suksesvolle speenkalwerproduksie

Wernich sê hy fokus in hul kommersiële beesvertakking op kalfpersentasie, speengewig en afronding met bemarking. ’n Goeie kalfpersentasie beteken niks as daar nie ook op die finale persentasie bemarkbare kalwers opgelet word nie. Daarom behoort die fokus eintlik op die hoeveelheid kalwers wat uiteindelik verkoop word, te wees. “’n Mens moet kyk na jou kalfpersentasie, maar jy moet eerder fokus op hoeveel van daardie kalwers jy uitbring by die vendusiekrale.”

Die bemarkbare speengewig is ook belangrik. “Gewig klop prys. Ons bring somtyds basterkrag in, met kalwers wat dan meer as 250kg speen, maar as jy kyk na die veld wat ons tot ons beskikking het, dink ek dit is ’n goeie gemiddeld.”

Die verkoopprys is natuurlik ook ’n belangrike aspek en kom dus by afronding in, sê Wernich. “Hoe rooier, hoe mooier.” As gehaltediere gelewer word, sal ’n premie ontvang word. Daarom mik Wernich om ’n gehalteproduk te verskaf en kopers goed in te lig oor onder meer spuitprogramme en inentings wat reeds aan speenkalwers verskaf is.

Wernich verkoop meestal sy speenkalwers op veilings by die plaaslike veilingskrale. Hy verkies om dit te doen omdat Agri Hartbeesfontein, waarvan hy lid is, ’n gedeelte van die kommissie ontvang. Sodoende ploeg hulle terug in die gemeenskap.

Vir meer inligting, kontak Wernich Lemmer by lemmerhw@gmail.com. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit