Om aan te hou hoop, al lyk dit asof daar geen uitkoms is nie. Dít, sê die vroue op plase in die droogtegeteisterde Sentraal-Karoo, is hul grootste uitdaging. Die streek het in 2015 in die moeilikheid beland met ver ondergemiddelde winterreën. Sedertdien is veeboere steeds van droogtehulp afhanklik, met natuurlike weiding wat lankal weggedroog het en die reën wat aanhou wegbly. Hul kontantvloei het saam met die damme opgedroog.

Verreikende droogteskade

Op Laingsburg vertel ’n plaaswerker, Brayn Stephen, hoe dit sy hart breek wanneer hulle skape moet skuif en daar net nie meer voer is nie. “Die droogte het my geleer om vir ons landbouers te bid. Tot die reën weer kom, gaan ek aanhou om ander plaaswerkers te bemoedig,” sê hy.

Ook in die Matzikama-distrik van die Weskus – op dorpe soos Landplaas, Kliprand en Bitterfontein – moes veeprodusente sedert 2015 hul kuddes drasties verklein. Nes hul kollegas in die Karoo, hang hul oorlewing van goeie reën af.

Die Klein Karoo is ook in die droogte se wurggreep, maar anders as veeprodusente wat met veevoer ondersteun kan word, moet produsente met langtermyngewasse toekyk hoe boorde en wingerde vergaan. In dié streek is 300ha se boorde reeds uitgehaal en besproeiingsdamme kurkdroog.

Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds

Agri Wes-Kaap lewer sedert November 2015 droogtehulp aan veeprodusente danksy skenkings van veevoer en kontant aan die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds. Buiten bydraes van die regering, maatskappye, landbou-ondernemings, produsente in ander dele van die land en individue, het ons ook al skenkings van ouetehuise en skole ontvang wat hul eie inisiatiewe van stapel gestuur het om geld in te samel.

Dit is hierdie gebare van welwillendheid wat die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds van tyd tot tyd ’n nodige hupstoot gee. Die nood bly egter ontsaglik groot en die voortslepende droogte se impak só verreikend, dat die fonds vir humanitêre en ander hulp ook aangewend moet word.

Geld vir saad benodig

Agri Wes-Kaap beoog om saad te koop en te skenk, sodat produsente weiding kan saai vir wanneer die nodige reën hierdie winter val. Dié skenkings is bedoel om produsente wie se volhoubaarheid onder ernstige druk is en nie meer kontantvloei het om saad te koop nie, by te staan. Kontantskenkings is egter nodig om die projek aan die gang te kry.

Intussen gaan Agri Wes-Kaap voort met voerskenkings aan veeprodusente in die Wes-Kaap en sal ons aanhou finansiële bydraes vra om hoop te gee waar dit ontbreek. Ons glo dat die reën hierdie winter gaan val en kyk vorentoe met hoop en boontoe met gerustheid.

Vir meer inligting, kontak Agri Wes-Kaap by 021 860 3800 of besoek www.growinggreatness.co.za.

Lees hier hoe om op die been te kom wanneer die droogte verby is.