In sy mees onlangse verslag, wat op 24 Mei 2017 uitgereik is, sê Johan van den Berg van Santam Landbou dat min reën vir die winter en lente oor die grootste deel van die somerreënvalgebied verwag word, met uitsondering van die noordoostelike kusgebiede.

Hy sê die vooruitsigte vir reënval in die winterreënvalgebied het ietwat verbeter. “Die swak ontwikkelde El Niño-verskynsel kan dalk die vooruitsigte vir reënval in die winterreënvalgebied verbeter vir die volgende maande (Junie en Julie), veral oor die westelike en suidwestelike dele van die Wes-Kaap.”

Korttermynvoorspellings dui aan dat Junie 2017 waarskynlik die maand gaan wees met die beste kans vir reën asook die hoogste totale. Kumulatiewe reënvalvoorspellings dui aan dat die wintereenvalgebied in Junie 2017 redelik normale reënval behoort te kry, maar dat in Julie, met die uitsondering van Swellendam, minder as die normale hoeveelheid reën kan val. “Dit is egter moontlik dat die huidige swak El Niño-ontwikkeling effens beter reënval tot gevolg kan hê as wat voorspellings aandui.”

Johan sê die El Niño-ontwikkeling is steeds baie onseker. “Toestande in die Indiese Oseaan gaan dalk weer ’n belangrike rol speel in die komende seisoen, maar dit is te vroeg om betroubare afleidings te kan maak. Die betroubaarheid van El Niño-voorspellings verbeter gewoonlik van Junie af. In hierdie vroeë stadium lyk dit asof die nuwe neiging van ’n laer waarskynlikheid vir die voorkoms van ’n El Niño-verskynsel gehandhaaf word, hoewel daar steeds ’n waarskynlikheid van 40 tot 50% is.” – Persverklaring

Lees sy volledige verslag hier.

Johan van den Berg gesels weekliks met Hennie Maas op RSG Landbou oor Weerwaarhede. Luister hier na van dié onderhoude.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here