Van links is die sprekers Nick Serfontein en Theo Venter, saam met Hennie Coetzee en Louis Steyl van Bonsmara SA.

Die jaarlikse Rooi Ras-geleentheid het, in die kort tyd wat dit reeds aangebied word, ’n baie belangrike geleentheid vir die Bonsmara-bedryf geword. Vanjaar was ekstra spesiaal, aangesien Bonsmara SA sy 55ste bestaansjaar vier. Die genootskap het ook hulle AGM gehou. Tydens die vergadering is Danie Olivier (Hotvoor Bonsmaras) en Nelius Ferreira (Ferrero Bonsmaras) as nuwe lede op die Bonsmara raad verkies.

Boere moet besef dat hulle binne die wyer politieke en ekonomiese konteks van die land en die wêreld boer, het politieke analis Theo Venter in sy gesprek oor die politieke stand van Suid-Afrika aan die gehoor gesê. Dit beklemtoon ook hoekom dit belangrik is dat boere, op ’n dag soos die Rooi Ras-geleentheid, deur kundiges soos ekonome en politieke analiste toegespreek word.

Venter sê dat daar baie laawaai voor ’n verkiesing gemaak word. “Dit is belangrik om Suid-Afrikaanse politieke strukture asook politieke tydsberekening te verstaan. Dit is altyd moeilik om gesprekke te hou rondom verkiesingstyd, aangesien daar so baie onsin die rondte doen.”

Hy raai boere aan om hulle nie aan die geraas te steur nie. “Moet egter nie blind wees vir dit wat om jou aangaan nie, en hou jou oog op die nuus. Maak seker dat jy die regte nuus lees en glo. Maak van ten minste vier bronne gebruik, verifieer feite, wees versigtig vir sosiale media en moenie val vir vals nuus nie.”

Die verkiesing in Mei is ’n baie belangrike verkiesing vir Suid-Afrika. Volgens Venter is dit juis omdat dit die eerste verkiesing buite die sogenaamde wittebroodtydperk van die bevrydingsregering is. “Onthou, ’n bevrydingsregering het ’n wittebroodtydperk van 25 jaar. Daardie tydperk kom nou tot ’n einde vir Suid-Afrika. Die nuwe generasie se impak word al hoe groter en dié generasie kom sonder die onaantasbaarheid van die bevrydingsregering. Nuwe spelers word na die spel gebring.”

Venter gebruik die VUCA-simboliek om te verduidelik waarom politiek en ander sake so ingewikkeld is. (VUCA staan vir volatility, uncertainty, complexity en ambiguity.) Van die vier het Suid-Afrika genoeg, sê hy. Dink byvoorbeeld aan die gemengde boodskappe oor grondsake, staatsbeheerde instansies, staatsfinansies, en so meer wat van bo af kom.”

Hy herinner ook dat daar op die oomblik verskeie belangrike vraagstukke in Suid-Afrika is, en dat boere binne die dubbelsinnige, onsekere, kwesbare en ongekarteerde konteks van dié vraagstukke boer. “Die vraagstukke is staatskaping en korrupsie, die verlammende effek van faksies in die ANC, die dinamika tussen politieke partye, die negatiewe besigheidsklimaat, lae ekonomiese groei, beleidsonsekerheid oor kernkwessies, die Mei-verkiesing en vanjaar se SONA- en begrotingstoesprake.”

Top tien globale risiko’s

Verder is ons ook deel van ’n globale speelveld waar verskeie risiko’s heers. Die 2019 Global Risks Report identifiseer die top tien globale risiko’s as:

  1. Werkloosheid en swak indiensneming.
  2. Mislukking van die nasionale regering.
  3. Enegrie prysskokke.
  4. Fiskale krisisse.
  5. Kuberaanvalle
  6. Diepgaande sosiale onstabiliteit.
  7. Mislukking van finansiële meganismes en instansies.
  8. Mislukking van kritiese infrastruktuur.
  9. Mislukking van streeks- en globale regerings.
  10. Terorriste-aanvalle.

Vir Venter is die grootste uitdaging dat die tydperk waarin ons nou leef totaal ongekarteer is. “Ons leef in ’n tydperk van ongekende verbetering in lewenstandaarde. Die periode is egter ook onbestendig en ontstellend. Daar is duidelike tekens van hoe kwesbaar en dungesmeer baie van die komplekse stelsels waaruit ons wêreld bestaan, is.” Hy sê dat ons nou in ’n multipolêre en multikonsepsuele wêreld leef. “Wêreldmagte het nie net verskuif nie, maar verskille in normes en waardes oor die wêreld heen is ook nou meer beklemtoon.”

Venter beklemtoon dat daar baie oplossings vir die wêreld se uitdagings bestaan, maar dat dié oplossings reg benader moet word. Hy sê ook dat kundiges op grondvlak, soos boere of die privaatsektor, se insette om oplossings te vind al hoe belangriker word, veral in gevalle waar die regering nie ’n benul het wat die volgende stap moet wees nie.

Belangrikheid van waardetoevoeging en grondhervorming

Nick Serfontein van die Sernick-groep was na Venter aan die woord. Hy het sy siening oor die toekoms van landbou gedeel, en uit die wye boodskap kan twee sleutelwoorde aangehaal word: waardetoevoeging en grondhervorming. Sonder dié twee, sê hy, gaan primêre landbou nie in die toekoms kan voortgaan nie.

“Hoekom grondhervorming? Dit is moreel en sosiaal die regte ding om te doen. Dit moet egter reg gedoen word, en tot op hede is dit nie reg gedoen nie. Dit is tot dusver so gedoen dat dit juis dié mense wat hulp die nodigste het, verraai. Daar is ook baie wanpersepsies in die verwagtinge van die publiek rondom die kwessie.”

Volgens Serfontein is daar dus baie werk van primêre landbou, in samewerking met die regering, se kant af nodig om dit te laat werk.

Die ander sleutelwoord – waardetoevoeging – is deel van die antwoord op die kosteknyptang. “Ons het ’n dilemma van hoër insetkoste en ander uitdagings in Suid-Afrikaanse landbou. Hoe verskans jy jouself hierteen? Gaan groter, word beter, voeg waarde by en diversifiseer.”

Die Bonsmara SA nasionale vroulikedierveiling is na afloop van die geleentheid gehou. Klik hier om meer daaroor te lees.  Besoek die hutsmerk, #RooiRas2019, vir nog hoogtepunte. – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here